HANDELINGE 20:16-38

HANDELINGE 20:16-38 Afrikaans 1983 (AFR83)

Paulus het besluit om by Efese verby te vaar, sodat hy nie tyd in die provinsie Asië sou verloor nie, want hy was haastig om, as dit kon, op pinksterdag in Jerusalem te wees. Van Milete af het Paulus 'n boodskap na Efese toe gestuur om die ouderlinge van die gemeente te laat roep. Toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle: “Julle weet hoe ek die hele tyd, van die eerste dag af dat ek in die provinsie Asië gekom het, onder julle geleef het; hoe ek die Here in alle nederigheid gedien het te midde van droefheid weens die vervolginge wat ek deur die komplotte van die Jode moes verduur. Julle weet dat ek niks teruggehou het wat vir julle voordelig kon wees nie, toe ek by julle in die openbaar gepreek en julle in julle huise onderrig het. Ek het sowel die Jode as die Grieke ernstig vermaan om hulle tot God te bekeer en in ons Here Jesus te glo. “En nou gaan ek Jerusalem toe, daartoe gedring deur die Gees. Wat dáár met my sal gebeur, weet ek nie. Ek weet dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging op my wag. Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig. “Ek het onder julle almal rondgegaan en die koninkryk van God verkondig, maar nou weet ek dat julle my nie weer sal sien nie. Daarom verklaar ek vandag dat dit nie my skuld is as enigeen van julle verlore gaan nie, want ek het nie nagelaat om die heilsplan van God in sy volle omvang aan julle te verkondig nie. Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters 'n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun. Ek weet dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie. Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei. Wees waaksaam. Onthou dat ek elkeen van julle drie jaar lank onderrig het, aanhoudend, dag en nag, baie keer met trane. Maar nou vertrou ek julle aan God toe en aan die woord van sy genade. Die woord is magtig om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfdeel belowe het. “Ek het niemand se geld of klere begeer nie. Julle weet self dat ek vir myself en vir die mense wat saam met my was, gesorg het deur met hierdie twee hande van my te werk. Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak 'n mens gelukkiger as om te ontvang.” Nadat Paulus dit gesê het, het hy saam met hulle almal gekniel en gebid. Almal het baie gehuil en hom omhels en gesoen. Hulle was veral hartseer omdat hy gesê het dat hulle hom nie weer sou sien nie. Daarna is hulle saam met hom na die skip toe.

HANDELINGE 20:16-38 Bybel vir almal (ABA)

Ons het nie met die skip by die stad Efese gestop nie, want Paulus het besluit dat ons verby die stad Efese moet gaan, hy wou nie in die provinsie Asië bly nie, want dan sou dit te lank wees voordat ons in Jerusalem kom. Hy was haastig om in Jerusalem te kom. Hy wou graag op die dag van die Pinksterfees in Jerusalem wees. Toe ons in die stad Milete was, het Paulus 'n boodskap na die ouderlinge van die gemeente in die stad Efese gestuur. Hy het vir hulle gesê hulle moet na hom toe kom in Milete. Toe hulle by Paulus kom, het hy vir hulle gesê: “Julle weet wat ek alles gedoen het, die hele tyd van die eerste dag af toe ek in die provinsie Asië gekom het. Julle weet dat ek die Here gedien het, dat ek baie nederig was, dat ek baie gehuil het en dat ek baie swaar gekry het omdat die Jode geheime planne gemaak het om my dood te maak. Julle weet dat ek altyd dinge gedoen het wat vir julle gehelp het. Ek het vir julle vertel van God se boodskap en ek het vir julle geleer, ek het dit gedoen waar almal dit kon sien en ek het dit ook in julle huise gedoen. Julle weet dat ek ernstig gepraat het met Jode en ook met Grieke. Ek het vir hulle gesê hulle moet verander en hulle moet lewe soos God wil hê. En ek het vir hulle gesê hulle moet glo in ons Here Jesus. “Nou gaan ek na Jerusalem, want die Heilige Gees wil hê ek moet daarnatoe gaan, en ek is gehoorsaam aan die Heilige Gees. Ek weet nie wat in Jerusalem met my sal gebeur nie. Maar ek weet die Heilige Gees sê in elke stad vir my dat mense my in die tronk sal gooi en dat hulle my baie swaar sal laat kry. Maar ek is nie bekommerd oor my eie lewe nie, ek is niks bekommerd nie. Ek wil net een ding doen, ek wil my werk klaarmaak. Dit is die werk wat die Here Jesus vir my gegee het om te doen. Ja, ek moet vir mense die goeie boodskap bring dat God genadig is. “Ek was by julle en ek het vir julle gepreek en gesê dat God Koning is. Maar nou weet ek dat niemand van julle my weer sal sien nie. Daarom sê ek nou vir julle, en dit is waar: Dit is nie my skuld as een van julle verlore gaan nie, want ek was nie bang nie, ek het vir julle alles van God se plan vertel. Julle moet seker maak dat julle lewe soos God wil hê. Julle moet ook seker maak dat al die gelowiges lewe soos God wil hê. Die Heilige Gees het gesê julle moet ouderlinge wees van daardie gelowiges. Julle moet hulle oppas soos 'n herder 'n trop skape oppas. Hulle is God se kerk. Sy Seun het gesterf, en so het God hulle gekoop. Ek weet dat daar vals leermeesters na julle toe sal kom wanneer ek weg is. Hulle sal wees soos wrede wolwe wat 'n trop skape doodmaak. Ja, party van julle sal self begin om verkeerde dinge te sê, en hulle sal probeer om die gelowiges die verkeerde dinge te laat glo wat húlle glo. Daarom moet julle versigtig wees. Julle moet onthou dat ek drie jaar lank baie swaar gekry het en dat ek elke dag en elke nag vir julle almal geleer het om reg te lewe, ek het nooit opgehou om dit te doen nie. “En nou bid ek en ek vra vir God dat Hy vir julle moet sorg en dat julle altyd die boodskap sal onthou dat God genadig is. Daardie boodskap kan julle geloof sterk maak en dit kan julle help om te weet dat God vir julle die dinge sal gee wat Hy belowe het om vir al die gelowiges te gee. “Ek wou nooit iemand anders se silwer of goud of klere hê nie. Julle weet self dat ek met my eie hande gewerk het om vir myself te sorg en ook vir die mense wat saam met my was. Ek het dit alles gedoen, want ek wou vir julle wys dat ons so moet werk om vir die mense te help wat swak is. Ons moet ook onthou wat die Here Jesus self gesê het. Hy het gesê: ‘As 'n mens vir ander mense iets gee, dan is jy baie méér gelukkig as wanneer hulle vir jóú iets gee.’ ” Nadat Paulus klaar gepraat het, het hy saam met al die ouderlinge gekniel en gebid. Toe het almal baie gehuil en hulle het hulle arms om Paulus gesit en hom gesoen. Hulle was baie hartseer omdat Paulus gesê het dat hulle hom nie weer sal sien nie. Toe het hulle saam met hom tot by die skip geloop.

HANDELINGE 20:16-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Want Paulus het besluit om by Éfese verby te vaar, sodat hy nie in Asië tyd sou verloor nie; want hy het hom gehaas om, as dit vir hom moontlik was, op die pinksterdag in Jerusalem te wees. EN van Miléte het hy gestuur na Éfese en die ouderlinge van die gemeente laat roep. En toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle: Julle weet hoe ek, van die eerste dag af dat ek in Asië aangekom het, die hele tyd by julle gewees het en die Here gedien het met alle nederigheid en baie trane en beproewinge wat oor my gekom het deur die komplotte van die Jode; hoe ek niks agtergehou het van wat nuttig is nie, om dit aan julle te verkondig en julle te onderrig in die openbaar en in julle huise, terwyl ek kragtig by die Jode sowel as die Grieke aangedring het op die bekering tot God en die geloof in onse Here Jesus Christus. En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie, behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge my wag. Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God. En nou weet ek dat julle almal onder wie ek rondgegaan en die koninkryk van God verkondig het, my aangesig nie meer sal sien nie. Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie. Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie. En nou, broeders, dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade, wat magtig is om julle op te bou en julle 'n erfdeel te gee onder al die geheiligdes. Niemand se silwer of goud of klere het ek begeer nie; maar julle weet self dat hierdie hande voorsien het in die behoeftes van my en die wat by my was. Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang. En ná hierdie woorde het hy neergekniel en met hulle almal saam gebid. En daar het 'n groot geween ontstaan van almal, en hulle het Paulus om die hals geval en hom gesoen, veral bedroef oor die woord wat hy gesê het, dat hulle sy aangesig nie meer sou sien nie. En hulle het hom na die skip begelei.

HANDELINGE 20:16-38 Die Boodskap (DB)

Hy wou nie nog daar oorbly nie omdat hy graag op pinksterdag in Jerusalem wou wees. Toe ons in Milete aankom, het Paulus iemand met ’n boodskap na die leiers van die gemeente in Efese gestuur en hulle gevra om hom te kom besoek. Toe hulle daar aankom, het hy vir hulle gesê: “Vandat ek in Asië aangekom het, het ek daar by julle gebly. In nederigheid het ek alles gedoen wat die Here van my verwag het. Die Jode was baie kwaad oor alles wat ek vir die mense oor Jesus vertel het. Hulle het die een plan na die ander uitgedink om van my ontslae te raak. Daaroor was ek baie hartseer. Al was my werk hoe swaar, het ek nogtans aangehou om die goeie nuus oor Jesus bekend te maak. Ek het nooit ’n enkele deeltjie van die evangelie uitgelaat nie. Ek het die volle waarheid aan julle almal vertel, in die openbaar en ook in julle eie huise. Ek het ook by al die inwoners van julle stad, of hulle nou Jode of Grieke was, gepleit dat hulle hulle tot God moet bekeer deur in ons Here Jesus te glo. “Nou moet ek egter ’n nuwe koers inslaan. Die Heilige Gees wil hê ek moet Jerusalem toe gaan. Ek weet nie wat alles daar op my wag nie. Al wat ek weet, is dat dit nie maklik gaan wees nie. In elke plek waar ek tot nou toe was, het die Heilige Gees my duidelik laat verstaan dat swaarkry en tronkstraf my voorland is. Tog is ek nie daaroor bekommerd nie. My eie veiligheid is in elk geval nie belangrik nie. “Al wat saak maak, is dat ek doen wat die Here vir my sê om te doen. En dit is om die goeie nuus oor God se goedheid bekend te maak. “Dag na dag het ek met julle oor God se nuwe wêreld gepraat. Maar nou moet ek finaal van julle afskeid neem. Ons sal mekaar nie weer sien nie. Ek troos my egter daaraan dat ek julle die volle waarheid oor God vertel het. Daarom sê ek vandag reguit vir julle: as iemand van julle nou nog nie in God glo nie, is dit regtig nie my skuld nie. Ek het God se hele reddingsplan aan julle meegedeel, elke stukkie daarvan.” “Julle is die leiers in die kerk. Sorg dat julle self altyd op God se pad bly. Onthou: die Heilige Gees het julle aangestel om te sorg dat ander gelowiges ook op God se pad bly stap. Julle moet hulle help en hulle leer om te doen wat Hy vra. Julle is soos skaapwagters wat die Here se skape moet beskerm en versorg. Almal in die kerk behoort aan God. Hy het baie duur vir elkeen betaal. Jesus se bloed het elke gelowige uit die mag van die sonde en die dood losgekoop. “Sodra ek vertrek, sal ’n klomp slegte mense na julle toe kom wat onwaarhede oor Jesus aan julle sal kom vertel. Hulle het net een doel voor oë: om gelowiges deurmekaar te maak met hulle skewe leringe. Hulle is soos wrede wolwe wat daarop uit is om die skape te vang. Loop ook lig vir party gelowiges wat vreemde dinge oor Jesus kwytraak en die kerk probeer verlei om dinge te glo wat ek nie vir julle geleer het nie. “Wees op die uitkyk vir al hierdie onwaarhede. Waarsku die gelowiges daarteen. Onthou: ek het drie jaar lank dag en nag onder julle gewerk en julle baie ernstig gevra om op die regte pad te bly. Daarom mag julle nie toelaat dat die ware evangelie nou deur slegte mense vervals word nie.” “Ek plaas julle almal nou in God se hand. Hy sal vir julle sorg. Hy sal met sy goedheid elke dag by julle wees. Hy sal julle geloof in Hom sterk maak. God sal ook sorg dat julle elkeen ’n plek kry in die nuwe wêreld wat Hy vir al sy kinders gereedmaak. “Toe ek by julle was, het ek nooit vir julle gesê om my ’n salaris te betaal nie. Ek het ook nie by julle kom geld bedel of ooit geskimp dat ek arm is nie. Nee, ek het met my eie twee hande gewerk om aan die lewe te bly. So kon ek vir myself en ook vir al my helpers sorg.Op dié manier wou ek vir julle wys dat julle nie net vir julleself moet lewe nie. Sien ander mense se nood en armoede raak. En help hulle. Onthou: ons Here Jesus het gesê: ‘Dit is beter om te gee as om net te wil ontvang.’” Na hierdie woorde het Paulus op sy knieë gegaan en saam met die ouderlinge gebid. Almal was baie hartseer. Hulle het geweet dat hulle mekaar nie weer sou sien nie. Met trane in hulle oë het hulle vir oulaas van mekaar afskeid geneem. Die ouderlinge het toe saam met Paulus tot by sy skip gestap en hom gegroet.

HANDELINGE 20:16-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Paulus het reeds voorheen besluit om by Efese verby te vaar sodat hy nie nog langer in die provinsie Asië tyd hoef deur te bring nie. Hy was haastig om, as dit kon, op Pinksterdag in Jerusalem te wees. Maar Paulus het van Milete af ’n boodskap na Efese toe gestuur om die ouderlinge van die gemeente te ontbied. Toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle: “Júlle weet dat ek die hele tyd, van die eerste dag af dat ek in die provinsie Asië gekom het, die Here met my hele wese in alle nederigheid gedien het, en dat dit met trane gepaardgegaan het. Dan was daar ook die beproewings wat oor my gekom het vanweë die komplotte van sommige Jode. Julle weet ook dat ek nooit weggeskram het van die waarheid toe ek by julle gepreek en julle in die openbaar en in julle huise onderrig het nie. Ek het één boodskap vir Jode én Grieke gehad: dat hulle hulle tot God moet bekeer en in ons Here Jesus moet glo. “En nou is ek op pad Jerusalem toe, gebind deur die Gees. Wat dáár met my gaan gebeur, weet ek nie. Wat ek wel weet, is dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging voorlê. Al is my lewe kosbaar, ag ek dit van geen waarde as ek nie my lewenstaak en my bediening wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak nie: Om die Goeie Nuus te verkondig dat God mense liefhet sonder dat hulle iets hoef te doen om dit te verdien. “En nou is dit duidelik: Ek weet dat nie een van julle my weer sal sien nie – julle onder wie ek rondgegaan en die koningsheerskappy van God verkondig het. Daarom stel ek dit vandag duidelik aan julle dat dit nie my skuld is as enigeen van julle verlore gaan nie, want ek het nie weggeskram daarvan om die volle plan van God aan julle te verkondig nie. “Pas julleself op en die hele kudde oor wie die Heilige Gees julle as ouderlinge aangestel het. Julle moet as herders die kerk van God versorg, dié kerk wat Hy vir Hom verkry het deurdat sy eie Seun gesterf het. Self weet ek dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie spaar nie. Selfs uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat, deur verdraaide dinge te verkondig, die gelowiges sal probeer verlei om hulle te volg. Daarom: Wakkerloop! Onthou dat ek vir drie jaar lank sonder ophou vir elkeen van julle die regte koers aangedui het, dag en nag, en met trane. “En nou vertrou ek julle aan God toe en aan die boodskap van die genade wat Hy aan mense bewys. Dié boodskap is in staat om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfporsie belowe het. “Ek het niemand se silwer of goud of klere begeer nie. Julle weet self dat hierdie twee hande van my voorsien het in my behoeftes en in die behoeftes van dié wat saam met my was. In alles het ek vir julle ’n voorbeeld gestel dat ons só hard moet werk dat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus: ‘Dit is meer geseënd om te gee as om te ontvang.’” Toe Paulus klaar gepraat het, het hy saam met hulle almal gekniel en gebid. Almal het baie gehuil en Paulus omhels en hom gesoen. Hulle was veral hartseer oor sy stelling dat hulle hom nie weer sou sien nie. Toe het hulle hom skip toe gevat.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid