Handelinge 20

20
Paulus in Griekeland en Masedonië
1Na hierdie oproer het Paulus al die gelowiges in Efese bymekaar laat kom om van hulle afskeid te neem en na Masedonië vertrek.2Daar het hy besoek afgelê by die gelowiges in die verskillende gemeentes. Paulus het vir hulle gesê om gehoorsaam te bly aan die Here. Daarna is hy Griekeland toe, waar hy drie maande lank die goeie nuus oor Jesus aan die mense gaan meedeel het.3Sy boodskap het party van die Jode egter so ontstel dat hulle besluit het om hom dood te maak. Dit was kort voordat Paulus van plan was om per skip Sirië toe te vaar. Toe hy van hierdie komplot teen hom hoor, het hy dadelik sy reisplanne verander en deur die provinsie Masedonië gereis. ’n Paar mense het saam met hom gegaan. Daar was 4Sopater uit die stad Berea (die seun van Pirrus); Aristargos en Sekundus uit die stad Tessalonika; Gaius uit die stad Derbe; Tigikus en Trofimus uit die provinsie Asië, en ook Timoteus.
5Hulle almal het vooruit gereis en vir ons (dit is nou vir my, Lukas, en ’n paar ander metgeselle) in Troas gaan wag.6Ons was op daardie tydstip nog in Filippi vir die viering van die paasfees. Na die paasfees is ons met ’n skip na Troas toe. Daar het ons sewe dae lank saam met Paulus-hulle by die gelowiges oorgebly.
’n Jongman word weer lewend in Troas
7In Troas het ons almal op die Sondagaand bymekaargekom om saam te eet en die Here te aanbid. Ons was bymekaar in ’n groot kamer op die derde verdieping van een van die geboue in die stad. Aangesien ons die volgende dag sou vertrek, het Paulus tot lank na middernag aangehou. 8Daar was genoeg lampe in die vertrek sodat almal hom duidelik kon sien.
9’n Jongman met die naam Eutigus het op een van die vensterbanke by ’n oop venster gesit. Later het hy vaak geword en aan die slaap geraak. Toe val hy by die venster uit. Toe die mense by hom kom, was hy reeds dood.
10Paulus het toe bo-oor Eutigus gekniel en sy arms om hom gesit. “Hou op om so tekere te gaan,” het hy vir die ontstelde gelowiges gesê. “Daar is nog lewe in hom.” Paulus het daarna teruggegaan na die kamer waar die gelowiges was. Eutigus ook! Almal het toe saamgeëet. 11Daarna het Paulus tot dagbreek oor Jesus gepraat. 12Eers toe die son begin opkom, is almal huis toe, Eutigus ook. Al die ander gelowiges was baie bly daaroor.
Onderweg na die eiland Milete
13Intussen het die ander van ons per skip na Assus vertrek. Ons sou Paulus daar ontmoet, soos ons afgespreek het. Hy wou graag soontoe stap. Alles het volgens plan verloop. 14Paulus het daar in Assus by ons aangesluit. Ons het verder met ’n skip na Mitilene gevaar.15Daarvandaan het ons die volgende dag tot regoor die eiland Chios gevaar. Nog ’n dag later was ons by Samos, en ’n dag later by Milete. Paulus het besluit om nie weer in Efese te stop nie. 16Hy wou nie nog daar oorbly nie omdat hy graag op pinksterdag in Jerusalem wou wees.
Toerusting vir Efese se ouderlinge
17Toe ons in Milete aankom, het Paulus iemand met ’n boodskap na die leiers van die gemeente in Efese gestuur en hulle gevra om hom te kom besoek. Toe hulle daar aankom, het hy vir hulle gesê: 18“Vandat ek in Asië aangekom het, het ek daar by julle gebly. In nederigheid het ek alles gedoen wat die Here van my verwag het. Die Jode was baie kwaad oor alles wat ek vir die mense oor Jesus vertel het. 19Hulle het die een plan na die ander uitgedink om van my ontslae te raak. Daaroor was ek baie hartseer. Al was my werk hoe swaar, het ek nogtans aangehou om die goeie nuus oor Jesus bekend te maak. Ek het nooit ’n enkele deeltjie van die evangelie uitgelaat nie. 20Ek het die volle waarheid aan julle almal vertel, in die openbaar en ook in julle eie huise. Ek het ook by al die inwoners van julle stad, of hulle nou 21Jode of Grieke was, gepleit dat hulle hulle tot God moet bekeer deur in ons Here Jesus te glo.
22“Nou moet ek egter ’n nuwe koers inslaan. 23Die Heilige Gees wil hê ek moet Jerusalem toe gaan. Ek weet nie wat alles daar op my wag nie. Al wat ek weet, is dat dit nie maklik gaan wees nie. In elke plek waar ek tot nou toe was, het die Heilige Gees my duidelik laat verstaan dat swaarkry en tronkstraf my voorland is. Tog is ek nie daaroor bekommerd nie. 24My eie veiligheid is in elk geval nie belangrik nie.
“Al wat saak maak, is dat ek doen wat die Here vir my sê om te doen. En dit is om die goeie nuus oor God se goedheid bekend te maak.
25“Dag na dag het ek met julle oor God se nuwe wêreld gepraat. Maar nou moet ek finaal van julle afskeid neem. Ons sal mekaar nie weer sien nie. Ek troos my egter daaraan dat ek julle die volle waarheid oor God vertel het. 26Daarom sê ek vandag reguit vir julle: as iemand van julle nou nog nie in God glo nie, is dit regtig nie my skuld nie. 27Ek het God se hele reddingsplan aan julle meegedeel, elke stukkie daarvan.”
Oppas vir mense wat die evangelie verdraai
28“Julle is die leiers in die kerk. Sorg dat julle self altyd op God se pad bly. Onthou: die Heilige Gees het julle aangestel om te sorg dat ander gelowiges ook op God se pad bly stap. Julle moet hulle help en hulle leer om te doen wat Hy vra. Julle is soos skaapwagters wat die Here se skape moet beskerm en versorg. Almal in die kerk behoort aan God. Hy het baie duur vir elkeen betaal. Jesus se bloed het elke gelowige uit die mag van die sonde en die dood losgekoop.
29“Sodra ek vertrek, sal ’n klomp slegte mense na julle toe kom wat onwaarhede oor Jesus aan julle sal kom vertel. Hulle het net een doel voor oë: om gelowiges deurmekaar te maak met hulle skewe leringe. 30Hulle is soos wrede wolwe wat daarop uit is om die skape te vang. Loop ook lig vir party gelowiges wat vreemde dinge oor Jesus kwytraak en die kerk probeer verlei om dinge te glo wat ek nie vir julle geleer het nie.
31“Wees op die uitkyk vir al hierdie onwaarhede. Waarsku die gelowiges daarteen. Onthou: ek het drie jaar lank dag en nag onder julle gewerk en julle baie ernstig gevra om op die regte pad te bly. Daarom mag julle nie toelaat dat die ware evangelie nou deur slegte mense vervals word nie.”
Veilig in God se hand
32“Ek plaas julle almal nou in God se hand. Hy sal vir julle sorg. Hy sal met sy goedheid elke dag by julle wees. Hy sal julle geloof in Hom sterk maak. 33God sal ook sorg dat julle elkeen ’n plek kry in die nuwe wêreld wat Hy vir al sy kinders gereedmaak.
“Toe ek by julle was, het ek nooit vir julle gesê om my ’n salaris te betaal nie. Ek het ook nie by julle kom geld bedel of ooit geskimp dat ek arm is nie. 34Nee, ek het met my eie twee hande gewerk om aan die lewe te bly. So kon ek vir myself en ook vir al my helpers sorg.35Op dié manier wou ek vir julle wys dat julle nie net vir julleself moet lewe nie. Sien ander mense se nood en armoede raak. En help hulle. Onthou: ons Here Jesus het gesê: ‘Dit is beter om te gee as om net te wil ontvang.’”
36Na hierdie woorde het Paulus op sy knieë gegaan en saam met die ouderlinge gebid. 37Almal was baie hartseer. Hulle het geweet dat hulle mekaar nie weer sou sien nie. Met trane in hulle oë het hulle vir oulaas van mekaar afskeid geneem. Die ouderlinge het toe saam met 38Paulus tot by sy skip gestap en hom gegroet.

Tans Gekies:

Handelinge 20: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid