2 TIMOTEUS 3:10-17

2 TIMOTEUS 3:10-17 Die Boodskap (DB)

Timoteus, jy ken my baie goed. Jy weet alles wat ek vir mense vertel van God en Christus. Jy weet hoe ek leef, wat ek van die lewe wil hê, hoe ek op Jesus vertrou en hoeveel tyd ek vir ander mense het. Jy ken ook my liefde vir ander en weet hoe geduldig ek met mense kan wees. Ook my seerkry en swaarkry ter wille van Jesus ken jy. Jy onthou mos nog wat met my in Antiogië, Ikonium en Listra gebeur het. Hoe het hulle my nie probeer seermaak en vervolg nie! Maar die Here self het daarvoor gesorg dat ek veilig uit al hierdie dinge gekom het. Elkeen wat Jesus s’n is en wat lewe soos God van hom verwag, moet weet dat hy ook vervolg sal word. Die rede is dat die slegte mense nie skielik beter gaan word nie. Die klomp skelms gaan net woester en slegter word. Dit is ’n bose kringloop. Hulle lei ander op die verkeerde pad omdat die duiwel húlle op die verkeerde pad gelei het. Maar jy, Timoteus, moet jou nie ’n duim van koers af laat bring nie. Bly by die dinge wat vir jou geleer is en wat jy weet waar is. Jy weet mos wie dit alles vir jou geleer het. Toe jy nog klein was, het jy al die Skrif gelees. Jy kan baie daaruit leer, soos hoe ’n mens se saak met God weer reggemaak kan word deur op Christus Jesus te vertrou. Die hele Skrif kom direk van God af. Daaruit kan ons so baie leer. Dit help ons om te wys waar mense die pad byster raak en om hulle weer reg te help. Uit die Skrif kan ons ook vir mense wys hoe God wil hê hulle moet leef. Op dié manier sal iemand wat God s’n is, weet wat God van hom verwag en só reg wees om behoorlik vir God te kan werk.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid