2 KONINGS 5:1-16

2 KONINGS 5:1-16 AFR83

Naäman, die hoof van die leër van die koning van Aram, was 'n gesiene man wat die agting van die koning geniet het. Deur hom het die Here 'n oorwinning aan Aram besorg. Die man was 'n dapper soldaat, maar hy het melaats geword. Op een van hulle strooptogte het die Arameërs 'n jong dogtertjie uit Israel ontvoer wat Naäman se vrou se bediende geword het. Sy het vir die vrou gesê: “Ag, as Meneer net by die profeet in Samaria kon uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak.” Naäman het by die koning gekom en hom meegedeel wat die dogtertjie uit Israel gesê het. “Gaan gerus,” het die koning van Aram gesê, “ek stuur jou met 'n brief na die koning van Israel toe.” Hy het vertrek en drie honderd twee en veertig kilogram silwer, ag en sestig kilogram goud en tien stelle klere met hom saamgevat. Hy het die brief na die koning van Israel toe gebring. Dit het só gelui: “Ek het my dienaar Naäman met hierdie brief na jou toe gestuur. Wanneer hy by jou uitkom, moet jy hom van sy melaatsheid gesond maak.” Toe die koning die brief gelees het, het hy sy klere geskeur en gesê: “Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hulle die lewe gee dat hierdie man iemand na my toe stuur om hom van sy melaatsheid gesond te maak? Dit moet vir julle duidelik wees hy soek net skoor met my.” Elisa die man van God het te hore gekom dat die koning van Israel sy klere geskeur het en het 'n boodskap aan die koning gestuur: “Hoekom het u u klere geskeur? Laat Naäman na my toe kom, sodat hy kan besef dat daar 'n profeet in Israel is.” Toe Naäman met sy wa en perde daar aankom, het hy stilgehou voor die deur van Elisa se huis. Elisa het 'n boodskap na hom toe gestuur: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan, dan sal jy gesond word en rein wees.” Naäman het vererg weggery en gesê: “Ek het darem gedink hy sou uitkom en gaan staan, die Naam van die Here sy God aanroep, dan sy hand heen en weer oor die plek beweeg en so die melaatsheid wegneem. Is die riviere van Damaskus, die Abana en die Parpar, nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie daarin was om rein te word nie?” So het hy woedend daarvandaan teruggery. Sy amptenare het by hom gekom en mooi met hom gepraat: “Meneer, as die profeet iets moeiliks van u verwag het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy eenvoudig vir u gesê het: Was jou en jy sal rein wees?” Hy het toe afgegaan na die Jordaan toe en hom sewe keer daarin gebad, soos die man van God gesê het, en sy vel het gesond geword soos dié van 'n klein seuntjie en hy was weer rein. Hy en sy hele gevolg het teruggegaan na die man van God toe. Daar aangekom, het Naäman voor die man van God gaan staan en gesê: “Ek weet nou, daar is geen God op die hele aarde nie behalwe in Israel. Aanvaar asseblief hierdie geskenk van my.” Maar Elisa het gesê: “So seker as die Here leef in wie se diens ek is, ek sal dit nie aanvaar nie.” Naäman het by Elisa daarop aangedring om dit te aanvaar, maar hy het bly weier.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid