2 KONINGS 12:4-7
2 KONINGS 12:4-7 Bybel vir almal (ABA)
Joas het vir die priesters gesê hulle moet al die geld neem wat mense wy en wat hulle na die tempel bring, die geld wat hulle móét bring en die geld wat hulle self wil bring. Hulle moet die geld neem van die mense wat dit bring, en dan moet hulle die tempel regmaak oral waar dit nodig is. Maar in die 23ste jaar nadat Joas koning geword het, het die priesters nog nie die werk aan die tempel begin doen nie. Joas roep toe die priester Jojada en die ander priesters en hy sê vir hulle: “Hoekom maak julle nie die tempel reg nie? Van nou af mag julle nie meer die geld hou wat die mense bring nie, julle moet dit gebruik om die tempel reg te maak.”
2 KONINGS 12:4-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Joas het aan die priesters gesê: Al die geld wat as heilige gawes in die huis van die HERE gebring word, gangbare geld, elkeen se personegeld waarvoor hy geskat is, en al die geld wat iemand vrywillig in die huis van die HERE bring, mag die priesters vir hulle neem, elkeen van sy bekende, en húlle moet die bouvallige plekke van die huis herstel waar 'n bouvallige plek ook al gevind word. Maar toe in die drie-en-twintigste jaar van koning Joas die priesters die bouvallige plekke van die huis nie herstel het nie, het koning Joas Jójada, die priester, en die priesters geroep en aan hulle gesê: Waarom herstel julle nie die bouvallige plekke van die huis nie? Nou dan, julle moet geen geld van julle bekendes aanneem nie, maar dit gee vir die bouvallige plekke van die huis.
2 KONINGS 12:4-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Joas het vir die priesters gesê: “Neem al die geld wat as gewyde gawes na die huis van die Here toe gebring word: die geld wat gekollekteer word, dié waarvoor elkeen persoonlik aangeslaan word en dié wat as vrywillige gawes na die huis van die Here toe gebring word. Die priesters moet die geld in ontvangs neem by dié wat dit bring, en die tempel daarmee herstel, oral waar daar bouvallige plekke is.” In die drie en twintigste regeringsjaar van koning Joas het die priesters die bouvallige plekke in die tempel nog steeds nie herstel gehad nie. Toe het koning Joas vir Jojada en die ander priesters ingeroep en vir hulle gevra: “Waarom herstel julle nie die bouvallige plekke in die tempel nie? Julle moenie geld aanvaar van dié wat dit bring, as julle nie daarmee vir die herstel van die bouvallige plekke betaal nie.”
2 KONINGS 12:4-7 Die Boodskap (DB)
Daar was net een fout: hy het nie die heidene se heilige plekke vernietig nie. Die mense kon aanhou om daar diere te gaan offer en om wierook te brand. Joas het vir die priesters gesê om al die geld bymekaar te maak wat die mense na die tempel toe bring, of dit nou belasting was en of hulle dit vrywillig gebring het. Die priesters kon dié geld hou, maar hulle moes dit ook gebruik om die tempel te restoureer waar daar swak plekke was. Toe Joas 23 jaar lank koning was, het die priesters nog nie die swak plekke aan die tempel herstel nie.
2 KONINGS 12:4-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op ’n dag sê Joas vir die priesters: “Vat al die geld wat as ’n gewyde offer na die HERE se tempel gebring is. Dit is waarvoor elkeen persoonlik aangeslaan word, en dit wat elkeen vrywillig na die tempel van die HERE toe bring. Laat die priesters ’n deel van hierdie geld gebruik om die nodige herstelwerk aan die tempel te doen oral waar daar bouvallige plekke is.” In die 23ste regeringsjaar van Joas het die priesters egter nog nie die vervalle dele aan die tempel herstel nie. Koning Joas roep toe vir Jojada en die ander priesters en vra vir hulle: “Hoekom het julle nie die tempel herstel nie? Julle mag niks meer van die gawes vir julle eie behoeftes gebruik nie. Van nou af moet alles gebruik word om die tempel te herstel.”