2 Konings 12

12
Koning Joas van Juda
1Joas was net sewe jaar oud toe hy koning geword het. 2Dit was in die sewende jaar wat Jehu in Israel regeer het. Joas het 40 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Sibja, ’n vrou uit Berseba. 3Joas se optrede het die Here tevrede gestel, want hy is mos deur die profeet Jojada opgelei. 4Daar was net een fout: hy het nie die heidene se heilige plekke vernietig nie. Die mense kon aanhou om daar diere te gaan offer en om wierook te brand.
Joas restoureer die tempel
5Joas het vir die priesters gesê om al die geld bymekaar te maak wat die mense na die tempel toe bring, of dit nou belasting was en of hulle dit vrywillig gebring het. 6Die priesters kon dié geld hou, maar hulle moes dit ook gebruik om die tempel te restoureer waar daar swak plekke was.
7Toe Joas 23 jaar lank koning was, het die priesters nog nie die swak plekke aan die tempel herstel nie. 8Joas het Jojada en die ander priesters byeengeroep en gevra: “Waarom het julle nie die tempel herstel nie? Van nou af mag julle nie meer die tempelbydraes vir julleself gebruik nie. Dit moet alles gaan vir die restourasie van die tempel.” 9Die priesters het ingestem: hulle sou nie meer die bydraes ontvang nie, maar dan sou hulle ook nie meer verantwoordelik wees vir die herstel van die tempel nie.
10Jojada die priester het ’n gat in die deksel van ’n groot kis gemaak en dit regs van die altaar by die ingang van die tempel van die Here neergesit. Die priesters wat die tempel se ingang bewaak het, het almal se bydraes in die kis gegooi. 11As hulle sien die kis raak vol, het die staatsekretaris en die hoëpriester die geld wat tempel toe gebring is, getel en in sakkies gesit. 12Hulle het die geld aan die kontrakteurs uitbetaal wat aangestel is om die tempel te restoureer. Die kontrakteurs het skrynwerkers, bouers, 13messelaars en klipkappers aangestel om die herstelwerk aan die gebou te doen. Hulle moes hout en bouklippe voorsien om die vervalle dele van die gebou te herstel. Al dié kostes is uit die tempelbydraes betaal.
14Die geld is glad nie gebruik vir silwerbakke, messe, komme, trompette of enige gereedskap van goud of silwer nie. 15Dit is slegs gebruik om vir die restourasie van die tempel te betaal. 16Daar is ook nie van die kontrakteurs verwag om verslag oor die geld te doen nie. Hulle het hulle werk in goeie trou gedoen.
17Geld wat van skuld- en sondeoffers afkomstig was, is nie vir die herstel van die tempel gebruik nie. Dit was die priesters s’n.
Hasael val Jerusalem aan
18In dié tyd het Hasael, die koning van Aram, die dorp Gat aangeval en oorwin. Toe het hy besluit om Jerusalem aan te val. 19Joas, die koning van Juda, het besluit om Hasael te probeer afkoop. Hy het al die gewyde goed wat sy voorgangers, Josafat, Joram en Ahasia, bymekaargemaak het en al sy eie gewyde gawes én al die goud en silwer in die stoorkamers van die tempel van die Here en die paleis gevat en dit vir Hasael gestuur. Dit het Hasael toe van Jerusalem af laat wegtrek.
Joas se dood
20Die res van Joas se geskiedenis en wat hy alles gedoen het, word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings. 21Van sy amptenare het teen hom in opstand gekom en hom by Bet-Millo, langs die pad na Silla toe, doodgemaak. 22Die moordenaars was Sabad, die seun van Simat, en Josabat, die seun van Somer. Na sy dood is Joas by sy voorouers in die Stad van Dawid begrawe. Hy is deur sy seun Amasia opgevolg.

Tans Gekies:

2 Konings 12: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid