2 KRONIEKE 6:12-42

2 KRONIEKE 6:12-42 Bybel vir almal (ABA)

Toe het Salomo voor die altaar van die Here gaan staan. Hy het voor die hele volksvergadering van Israel gestaan en hy het sy hande uitgesteek. Salomo het 'n brons verhoog laat maak en hy het dit in die oop stuk grond gesit. Die verhoog was vyf el lank en vyf el breed en drie el hoog. Salomo het op die verhoog gaan staan en hy het voor die hele volksvergadering van Israel gekniel. Hy het sy hande uitgesteek na die hemel en hy het gesê: “Here, God van Israel, in die hemel daar bo en op die aarde hier onder is daar nie 'n ander God soos U nie. U het aangehou om vir u dienaars te doen wat U in u verbond belowe het, u dienaars wat met hulle hele hart lewe soos U wil hê. U het gedoen wat U vir u dienaar, my pa Dawid, gesê het. U het dit belowe en U het dit gedoen, dit is vandag soos U belowe het. En nou, Here, God van Israel, moet U vir u dienaar, my pa Dawid, doen wat U belowe het. U het vir hom gesê: ‘Iemand van jou nageslag sal altyd op die troon van Israel sit, maar dan moet jou nageslag reg doen. Hulle moet lewe soos Ek wil hê en soos jy ook gelewe het.’ En nou, God van Israel, laat die woorde asseblief waar word wat U gesê het vir u dienaar, my pa Dawid. Maar sal God regtig op die aarde woon? Daar is nie genoeg plek vir U in die hoogste hemel nie, en hierdie tempel wat ek gebou het, het nóg minder plek. Maar my God die Here, luister nou wanneer ek bid en soebat, luister na wat ek vir U vra wanneer ek, u dienaar, vandag tot U bid. U moet asseblief altyd sorg vir hierdie tempel. Dit is die plek waar U gesê het U wil wees. Luister na die gebed wat 'n dienaar van U bid wanneer hy na hierdie plek kyk en bid. Luister wanneer u dienaar en u volk Israel bid en soebat terwyl hulle na hierdie plek kyk en bid. En wanneer U dit hoor in u woonplek, die hemel, vergewe dan ons sonde. “Wanneer iemand sê 'n ander persoon het verkeerd gedoen teen hom, en hy wil hê die ander persoon moet voor U kom sê dat U hom moet straf as hy dit gedoen het, dan sal die ander persoon miskien voor die altaar in hierdie tempel kom staan en sê hy is onskuldig. Dan moet U asseblief in die hemel luister en U moet oordeel tussen u dienaars. Die persoon wat skuldig is, moet die straf kry vir dit wat hy gedoen het en die persoon wat onskuldig is, moet vry wees omdat hy onskuldig is. “U volk Israel sal miskien 'n oorlog verloor teen vyande omdat u volk sonde gedoen het teen U. As u volk dan hulle lewe verander en hulle doen wat U wil hê en hulle prys u Naam en hulle bid tot U in hierdie tempel en hulle soebat vir U, dan moet U asseblief in die hemel luister en U moet u volk Israel se sonde vergewe en U moet hulle laat terugkom na die land wat U vir hulle voorvaders gegee het. “U sal miskien die hemel toesluit en dit sal nie reën nie omdat u volk sonde doen teen U. As hulle dan na hierdie plek kyk en bid, en hulle prys u Naam en hulle verander hulle lewe en hulle doen wat U wil hê en hulle vra dat U moet luister na hulle gebed, dan moet U asseblief in die hemel luister en U moet u dienaars en u volk Israel se sonde vergewe. U moet iets doen om hulle te help, U moet reën gee op die land wat U vir u volk gegee het. So sal U vir hulle leer om reg te lewe. “Daar sal miskien hongersnood in die land wees, of almal sal begin siek word en sterf, of daar sal siektes kom in die koring op die land, of daar sal swerms sprinkane kom, of vyande van die volk sal kom en hulle sal die stede aanval van al die kante, of ander slegte dinge sal gebeur. Dan moet U asseblief luister wanneer iemand of u volk Israel bid en soebat, U moet luister wanneer elke persoon sy hande uitsteek na hierdie tempel en sê wat met hom gebeur het. Luister dan asseblief in u woonplek, die hemel, en vergewe sy sonde en help hom. Gee vir elkeen wat hy moet kry, want net U weet hoe 'n mens se hart regtig is. Dan sal hulle altyd gehoorsaam wees aan U terwyl hulle in die land woon wat U vir hulle voorvaders gegee het. “Maar U moet ook luister na iemand wat nie van u volk Israel is nie en wat van 'n ver land kom omdat hy u Naam gehoor het. As hy gehoor het van u groot Naam en van die groot dinge wat U gedoen het, en hy kom en hy kyk na hierdie tempel en hy bid, dan moet U luister in die hemel waar U woon en U moet alles doen wat hy vir U in sy gebed vra, sodat elke volk op die aarde u Naam kan ken en gehoorsaam kan wees aan U, soos u volk Israel. Doen dit sodat hulle kan weet dat hierdie tempel aan U behoort, hierdie tempel wat ek gebou het. “U volk sal miskien oorlog gaan maak teen vyande omdat U gesê het hulle moet dit doen. As hulle kyk na hierdie stad wat U gekies het en na hierdie tempel wat ek gebou het om U te dien, en as hulle bid en soebat, dan moet U asseblief in die hemel luister na hulle gebed en U moet hulle laat wen teen hulle vyande. “Al die mense doen sonde. U volk doen ook sonde teen U, en dan word U kwaad en U gee hulle vir hulle vyande sodat die vyande hulle kan vang en wegvat na die vyande se land, ver of naby. Maar u volk sal miskien hulle lewe verander daar in die land waar hulle gevangenes is en hulle sal weer na U toe kom en tot U bid in daardie land en sê: ‘Ons het sonde gedoen, ons het verkeerde dinge gedoen, ons is skuldig.’ As hulle met hulle hele hart en lewe na U toe kom in die land van hulle vyande waar hulle gevangenes is en as hulle kyk na hierdie land wat U vir hulle voorvaders gegee het, en na die stad wat U gekies het, en na die tempel wat ek gebou het om U te dien, en as hulle bid tot U, dan moet U asseblief luister in u woonplek, die hemel. U moet luister na hulle gebed en U moenie aanhou om hulle te straf nie. U moet asseblief u volk vergewe wat sonde gedoen het teen U. “Nou, my God, U moet asseblief sorg vir hierdie plek en U moet luister wanneer iemand in hierdie plek bid. En nou, Here God, moet U kom na die plek waar U wil wees, U en die kis wat vir almal wys dat U sterk is. U priesters moet altyd vertel dat U ons sal red, en die mense wat in U glo, moet altyd bly wees oor die goeie dinge wat U gee. Here God, U moet asseblief goed wees vir u gesalfde, onthou dat U lief was vir u dienaar Dawid.”

2 KRONIEKE 6:12-42 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe het hy gaan staan voor die altaar van die HERE teenoor die hele vergadering van Israel en sy hande uitgebrei; want Salomo het 'n koperverhoog gemaak en dit in die middel van die voorhof opgestel; vyf el was sy lengte en vyf el sy breedte en drie el sy hoogte; en hy het daarop gaan staan en neergesink op sy knieë teenoor die hele vergadering van Israel en sy hande na die hemel uitgebrei en gesê: HERE, God van Israel, daar is in die hemel of op die aarde geen God soos U nie, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir u knegte wat voor u aangesig wandel met hulle hele hart, wat vir u kneg, my vader Dawid, u belofte aan hom gehou het; ja, met u mond het U dit gespreek en met u hand volbring soos dit vandag is. Hou nou ook, HERE, God van Israel, die belofte wat U aan u kneg, my vader Dawid, gedoen het, naamlik: Daar sal vir jou nooit 'n man voor my aangesig ontbreek wat sal sit op die troon van Israel nie, as jou seuns net op hulle weg ag gee, deur te wandel in my wet soos jy voor my aangesig gewandel het. Laat dan nou, HERE, God van Israel, u woord tog bewaarheid word wat U tot u kneg Dawid gespreek het. Maar sou God werklik by die mense op die aarde woon? Die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het! Wend U dan tot die gebed van u kneg en tot sy smeking, HERE my God, deur te luister na die geroep en die gebed wat u kneg voor u aangesig bid; sodat u oë oop mag wees dag en nag oor hierdie huis, oor die plek waar U van gesê het dat U u Naam daar wil vestig, sodat U mag luister na die gebed wat u kneg na hierdie plek toe sal bid. Luister dan na die smekinge van u kneg en van u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe sal bid; ja, mag U hoor uit u woonplek, uit die hemel; en as U hoor, vergewe dan. As iemand teen sy naaste sondig en hulle hom 'n eed oplê om hom tot selfvervloeking te bring en hy voor u altaar in hierdie huis kom sweer, wil U dan hoor uit die hemel en handel en aan u knegte reg verskaf deur die skuldige te vergelde en sy wandel op sy hoof te lê, en die regverdige regverdig te verklaar deur hom te gee na sy geregtigheid. En as u volk Israel verslaan word voor 'n vyand, omdat hulle teen U gesondig het, en hulle hul bekeer en u Naam bely en bid en smeek voor u aangesig in hierdie huis, wil U dan hoor uit die hemel en die sonde van u volk Israel vergewe en hulle terugbring na die land wat U aan hulle en hulle vaders gegee het. As die hemel toegesluit is, dat daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het, maar hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely, van hulle sonde hul bekeer, omdat U hulle verootmoedig, wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u knegte en van u volk Israel vergewe — want U leer hulle die goeie weg waar hulle in moet wandel — en gee reën op u land wat U aan u volk as 'n erfenis gegee het. As daar hongersnood in die land is, as daar pes is, as daar brandkoring of heuningdou, sprinkane of kaalvreters is, as sy vyande hom in sy land vol stede dit benoud maak, watter plaag of watter siekte ook al, enige gebed, enige smeking wat enige mens of u hele volk Israel sal doen, as elkeen sy plaag en sy smart ken, sodat hy sy hande na hierdie huis toe uitbrei — wil U dan hoor uit die hemel, u vaste woonplek, en vergewe en aan elkeen gee volgens al sy weë, U wat sy hart ken — want U alleen ken die hart van die mensekinders — sodat hulle U kan vrees om te wandel in u weë al die dae wat hulle leef in die land wat U aan ons vaders gegee het. Ja, ook na die uitlander wat nie uit u volk Israel is nie en uit 'n ver land kom om u grote Naam en u sterke hand en u uitgestrekte arm ontwil, as hulle kom en na hierdie huis toe bid, wil U dan hoor uit die hemel, uit u vaste woonplek, en doen volgens alles waaroor die uitlander U sal aanroep, sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken en U vrees soos u volk Israel, en mag gewaar word dat u Naam uitgeroep is oor hierdie huis wat ek gebou het. As u volk uittrek in die oorlog teen sy vyande op die pad waarop U hulle stuur, en hulle bid tot U in die rigting van hierdie stad wat U verkies het, en van die huis wat ek vir u Naam gebou het, wil dan uit die hemel hulle gebed hoor en hulle smeking, en aan hulle hul reg verskaf. As hulle teen U sondig — want daar is geen mens wat nie sondig nie — en U op hulle toornig is en hulle aan 'n vyand oorgee en hulle veroweraars hulle as gevangenes wegvoer na 'n land, ver of naby, en hulle dit ter harte neem in die land waarheen hulle as gevangenes weggevoer is, en hulle hul bekeer en U smeek in die land van hulle gevangenskap en sê: Ons het gesondig, ons het verkeerd gehandel, en ons was goddeloos — en hulle hul tot U bekeer met hul hele hart en met hul hele siel in die land van hul gevangenskap, van die wat hulle weggevoer het, en hulle bid in die rigting van hulle land wat U aan hulle vaders gegee het, en van die stad wat U verkies het, en van die huis wat ek vir u Naam gebou het, wil dan uit die hemel, uit u vaste woonplek, hulle gebed en hulle smekinge hoor en aan hulle hul reg verskaf en u volk vergewe wat hulle teen U gesondig het. My God, mag u oë tog nou oop wees en u ore luister na die gebed van hierdie plek. Staan dan nou op na u rusplek, HERE God, U en die ark van u sterkte! Laat u priesters, HERE God, met heil bekleed wees, en laat u gunsgenote hulle verheug in die goeie. HERE God, wys u gesalfde nie af nie; dink aan die gunsbewyse aan u kneg Dawid!

2 KRONIEKE 6:12-42 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe gaan staan Salomo regoor die altaar van die Here, voor die hele gemeente van Israel, en strek sy hande uit. Hy het op 'n bronsverhoog gestaan wat hy gemaak het en in die voorhof gesit het. Dit was twee en 'n half meter lank, twee en 'n half meter breed, een en 'n half meter hoog. Hy het daarop gaan staan en toe kniel hy voor die hele gemeente van Israel en strek sy hande uit na die hemel toe en sê: “Here, God van Israel, in die hemel of op die aarde is daar nie nog 'n God soos U nie. U hou U aan die verbond en U bly getrou teenoor u dienaars wat met volle oorgawe voor U lewe. U het U gehou aan wat U u dienaar, my vader Dawid, beloof het. U het die belofte gemaak en dit so, soos dit vandag is, deur u woord en u mag vervul. “Here, God van Israel, bly dan nou by wat U u dienaar, my vader Dawid, beloof het toe U gesê het: Ek sal sorg dat daar altyd iemand uit jou nageslag op die troon van Israel sal wees mits jou nakomelinge let op hulle optrede en volgens my woord lewe, soos jy gemaak het. “Here, God van Israel, laat die belofte wat U aan u dienaar Dawid gedoen het, ook verder vas staan. “Sou God werklik by die mens op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het! “Hoor tog, Here my God, die gebed van u dienaar, hoor sy smeking, luister na die hulpgeroep, die gebed wat u dienaar tot U rig. Hou hierdie tempel dag en nag onder u sorg, die plek waarvan U gesê het dat U u Naam daar wil vestig, sodat U die gebed kan hoor wat 'n dienaar van U na hierdie plek toe bid. Hoor tog die smeekbedes van u dienaar en u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe bid, hoor dit tog uit u hemelse woonplek, en wanneer U dit hoor, vergewe tog! “As iemand sy naaste kwaad aandoen en dié hom 'n eedverpligting oplê om hom onder 'n vloek te plaas, en hy kom en spreek die eed uit voor u altaar in hierdie tempel, luister tog uit die hemel en gryp in en vel die beslissing oor u dienaars sodat die skuldige die straf vir sy dade ondergaan en die onskuldige gelyk gegee word soos dit by sy onskuld pas. “As u volk Israel deur 'n vyand verslaan word omdat hulle teen U gesondig het en hulle kom tot inkeer en bely u Naam en bid tot U in hierdie huis en smeek U, luister tog uit die hemel en vergeef u volk Israel se sonde en laat hulle terugkom na die land wat U aan hulle en hulle voorvaders gegee het. “Wanneer die hemele toegesluit bly en daar nie reën is nie omdat hulle teen U sondig, en hulle bid na hierdie plek toe en bely u Naam terwyl hulle hulle van hulle sonde bekeer en vra dat U hulle gebed sal verhoor, luister tog uit die hemel en vergeef u dienaars en u volk Israel se sonde en gee reën op u land wat U aan u volk as besitting gegee het. So leer U hulle die goeie weg wat hulle moet bewandel. “Sou daar hongersnood in die land kom, sou daar pes uitbreek, brandkoring of roes, swerms sprinkane en voetgangers, sou dit gebeur dat die volk se vyande hom in sy stede hier in die land beleër, watter plaag of siekte hom ook al tref, luister tog na elke gebed, elke smeking wat van enige mens of van u hele volk Israel mag kom soos elkeen sy plaag en sy smart te kenne gee en sy hande na hierdie tempel toe uitstrek; luister tog uit die hemel, u woonplek, en vergeef en gee aan elkeen wat hy verdien soos U sy hart ken, want net U ken die mens se hart, sodat hulle aan U gehoorsaam sal wees en u weg sal bewandel die hele tyd dat hulle in die land leef wat U aan ons voorvaders gegee het. “Luister ook na die vreemdeling wat nie uit u volk Israel is nie en, omdat hy gehoor het van u groot Naam, u mag en krag, selfs uit 'n ver land kom en na hierdie tempel toe bid. Luister tog uit die hemel, u woonplek, en doen alles wat die vreemdeling U in sy gebed vra, sodat al die volke van die aarde u Naam kan ken en ook aan U gehoorsaam kan wees net soos u volk Israel, en dat hulle kan weet u Naam is uitgeroep oor hierdie tempel wat ek gebou het. “Sou u volk teen sy vyande uittrek in 'n oorlog wat deur U beveel is, en hulle bid tot U in die rigting van hierdie stad wat U gekies het en die huis wat ek vir u Naam gebou het, luister tog uit die hemel na hulle gebed en hulle smeking en gee hulle die oorwinning. “Sou hulle teen U sondig, want daar is nie 'n mens wat nie sondig nie, en U in u verontwaardiging hulle aan 'n vyand oorgee sodat hulle as gevangenes weggevoer word na 'n land, ver of naby, en hulle daar in dié land waar hulle gevangenes is, tot inkeer kom en hulle weer tot U wend en U daar in die land van hulle gevangenskap smekend aanroep: ‘Ons het gesondig, ons het verkeerd gedoen, ons is skuldig’, en hulle tot U wend met hart en siel in die land van hulle gevangenskap en hulle bid in die rigting van hulle land wat U aan hulle voorvaders gegee het en van die stad wat deur U gekies is en die tempel wat ek vir u Naam gebou het, luister tog uit die hemel, uit u woonplek, na hulle gebed en smeking en neem hulle straf weg en vergeef u volk wat teen U gesondig het. “My God, hou dan nou hierdie plek onder u sorg en verhoor tog elke gebed hiervandaan. “Kom dan nou na u rusplek toe, Here God, U en u magtige ark. Laat u priesters, Here God, onder die beskerming van u hulp lewe, en laat u troue dienaars hulle verheug in die goeie dinge. Here God, hou u gesalfde onder u sorg. Dink aan wat U toegesê het aan u dienaar Dawid.”

2 KRONIEKE 6:12-42 Die Boodskap (DB)

Salomo het voor die hele volk by die altaar van die Here gaan staan en sy hande uitgesteek. Hy het op ’n bronsverhoog gestaan wat hy in die binneruimte van die tempel gesit het. Die verhoog was vierkantig met sye van twee en ’n half meter lank. Dit was ’n meter en ’n half hoog. Hy het op die verhoog geklim en voor die hele gemeente van Israel neergekniel en sy hande na die hemel uitgesteek. Toe sê hy: “O Here, God van Israel! Daar is nie in die hemel of op die aarde nog ’n god soos U nie. U hou u beloftes en bewys liefde aan almal wat aan U gehoorsaam is en wat graag doen wat U vra. U het u belofte gehou wat U aan u dienaar Dawid, my pa, gemaak het. U het die belofte gemaak en nou het U dit uitgevoer. O Here, voer tog nou ook die ander beloftes uit wat U aan hom gemaak het. U het vir hom gesê: ‘As jou nakomelinge reg optree en doen wat Ek vra, soos jy gedoen het, sal Ek sorg dat daar altyd een van hulle oor Israel regeer.’ Laat dit tog nou waar word, o Here. “Sal God nou werklik op aarde tussen mense kom woon? Die ganse hemel is te klein vir U. Hoeveel minder kan hierdie tempel wat ek gebou het U huisves! Luister tog na my gebed en my versoek, o Here. Hoor my uitroep tot U! Pas tog die tempel wat U self as woonplek gekies het, dag en nag op. Dan sal U my gebede hoor wat ek na hierdie tempel toe rig.” “Mag U altyd die nederige en ernstige gebede hoor wat ek en my volk na hierdie plek toe rig. Mag U luister van waar U in die hemel woon en mag U ons vergewe as ons teen U sonde doen. “As iemand ’n ander te na kom en hy word deur ’n vloek verplig om hier by die altaar in die tempel ’n belofte voor U af te lê, luister tog uit die hemel daarna. Laat reg geskied. Laat die skuldige sy straf kry en die onskuldige vry uitgaan, soos wat reg is. “As ’n vyand u volk Israel verslaan omdat hulle sonde gedoen het, en as hulle hulle dan bekeer en dit erken en hier in die tempel tot U kom bid, luister tog uit die hemel. Vergewe hulle sonde en gee weer vir hulle die land wat U aan hulle voorouers gegee het. “As dit ophou reën as gevolg van hulle sonde en hulle kom bid in die tempel, as hulle U vra om hulle te vergewe nadat U hulle verneder het en hulle hou op met hulle sonde, luister dan tog uit die hemel. Vergewe u volk se sondes. Leer hulle wat reg is en gee weer reën oor die land wat U vir hulle gegee het. “As daar hongersnood in die land kom; of siektes, plae, sprinkane of ruspes bedreig u mense; of as die vyand hulle stede aanval; watter gevaar daar ook al dreig, en u volk bid hier oor hulle probleme tot U, luister dan tog uit die hemel waar U woon. Vergewe hulle. Gee aan elkeen wat hulle verdien, want U ken mense se diepste motiewe. Dan sal hulle leer wat reg is vir U en dit doen. So sal hulle dan lank lewe in die land wat U vir ons voorouers gegee het. “As dit gebeur dat ’n vreemdeling, soos iemand uit ’n ver land, van U hoor en hier by die tempel tot U kom bid, luister dan tog uit die hemel waar U woon. Gee vir die vreemdeling wat hy van U vra. Dan sal al die mense op aarde U leer ken en U dien soos Israel dit doen. Hulle sal dan weet dat dié tempel wat ek gebou het, ter ere van u Naam gebou is. “As U volk op u bevel gaan oorlog maak en hulle bid tot U in die rigting van Jerusalem en die tempel wat ek vir U gebou het, luister dan tog uit die hemel na hulle gebed. Laat gebeur wat reg is. “As hulle teen U sonde doen (en is daar ’n mens wat nie sonde doen nie?), kan U dalk kwaad word en hulle vyand toelaat om hulle te oorwin en weg te voer na ’n vreemde land. Hulle kan daar in die vreemde land besef dat hulle verkeerd was en hulle bekeer. As hulle dan bely: ‘Ons het sonde gedoen, ons was verkeerd en goddeloos,’ en hulle bekeer hulle tot U en bid in die rigting van Jerusalem, na dié tempel wat ek vir U gebou het, luister dan uit die hemel waar U woon na hulle gebed. Vergewe hulle.” “O God, luister tog na al die gebede wat hiervandaan tot U gebid sal word. “Kom, Here, na u rusplek toe. Kom na u ark toe wat wys hoe sterk U is. Laat u priesters net doen wat reg is. Laat die mense wat U dien, van vreugde sing. Moenie die een vergeet wat U spesiaal as koning aangewys het nie, al is dit net ter wille van Dawid.”

2 KRONIEKE 6:12-42 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daarna het Salomo met sy hande uitgestrek gaan staan voor die altaar van die HERE en voor die hele gemeente van Israel. Hy het ’n bronsplatform van twee en ’n half meter lank, twee en ’n half meter breed en een en ’n half meter hoog gemaak. Dit het in die middel van die voorhof van die tempel gestaan. Hy het op die platform voor die hele gemeente gestaan, en gekniel met sy hande hemelwaarts uitgestrek. Toe het hy gebid: “HERE, God van Israel, in die hemel of op die hele aarde is daar geen God soos U nie. U bly getrou aan u verbond en het u troue liefde betoon aan almal wat U heelhartig met ywer dien. U het u beloftes aan u dienaar, my pa Dawid, nagekom. U het die belofte met u eie mond gemaak, en vandag het U dit met u eie hande vervul. En nou, HERE, God van Israel, bevestig tog u beloftes aan u dienaar, my pa Dawid. Want U het vir hom gesê: ‘As jou afstammelinge voor My lewe soos jy gedoen het, sal hulle altyd oor Israel regeer.’ HERE God van Israel, laat tog hierdie beloftes aan u dienaar, my pa Dawid, vervul word. “Maar kan dit moontlik wees dat God op die aarde tussen mense sou woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie. Wat nog te sê hierdie tempel wat ek vir U gebou het! Luister tog na my gebed en smeking, HERE my God. Luister na die roepstem en die gebed wat u dienaar tot U rig. Hou tog dag en nag ’n wakende oog oor hierdie tempel. Dis die plek waarvan U gesê het dat u Naam daar sal woon sodat U altyd die gebed sal hoor wat ek na hierdie plek toe rig. Luister tog na die smekinge wat ek en u volk Israel na hierdie plek toe sal bid. Mag U ons hoor in die hemel waar U woon, en wanneer U hoor, vergewe tog. “As ’n persoon iemand anders kwaad aandoen en voor die altaar in hierdie tempel ’n eed van onskuld moet aflê, hoor dan uit die hemel en oordeel tussen u dienaars, die klaer en die aangeklaagde. Straf die skuldige persoon en spreek die onskuldige vry soos hy verdien. “As u volk deur hulle vyande verslaan word omdat hulle teen U gesondig het, en as hulle dan na U toe terugdraai en u Naam bely en hier in die tempel tot U bid en smeek, luister dan tog uit die hemel en vergewe die sondes van u volk Israel en bring hulle terug na hierdie land wat U aan hulle en hulle voorouers gegee het. “As die hemele toegesluit bly en daar geen reën val nie omdat u volk teen U gesondig het; en as hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely, en hulle bekeer van hulle sondes omdat U hulle gestraf het, hoor dan tog uit die hemel en vergewe die sondes van u dienaars, u volk Israel. Leer hulle om te doen wat reg is, en stuur die reën oor die land wat U aan u volk as eiendom gegee het. “Indien daar ’n hongersnood in die land kom, of pes in die land uitbreek, of heuningdou of skimmel, sprinkaanplae en voetgangers, of indien die vyande van u volk die stede beleër, watter ramp of siekte hulle ook al mag tref, luister dan. Luister na die gebed en die smeking van enkelinge of die hele volk Israel, soos elkeen sy behoefte bekendmaak en die hande na hierdie tempel toe uitstrek. Luister dan uit die hemel waar U is en vergewe. U wat elke mens se binnekant ken, gee tog aan elkeen na verdienste, want net U weet wat in die mens se gemoed aangaan. Dan sal hulle aan U gehoorsaam wees solank hulle woon in die land wat U aan ons voorouers gegee het. “Ook as vreemdelinge wat nie van u volk Israel is nie, van U hoor en uit verre lande kom ter wille van u groot Naam, u kragtige dade en u mag, as hulle na hierdie tempel toe bid, hoor dan uit die hemel waar U woon en gee dit wat hulle vra. Dan sal al die mense van die aarde U leer ken en eerbied vir U hê net soos u eie volk Israel. Hulle sal ook weet dat hierdie tempel wat ek gebou het aan u Naam gewy is. “As u volk op u bevel uittrek om oorlog teen hulle vyande te maak en hulle tot U bid in die rigting van hierdie stad wat U uitgekies het en na hierdie tempel wat ek vir u Naam gebou het, luister dan in die hemel na hulle gebede en smekinge en gee aan hulle die oorwinning. “As hulle teen U sondig – want wie sondig nie – kan U ontevrede word en hulle oorgee aan hulle vyande wat hulle as gevangenes wegvoer na ’n vreemde land, ver of naby. As hulle egter in daardie land van gevangenskap dalk in berou hulle tot U bekeer en tot U smeek: ‘Ons het oortree, ons het gesondig, ons het kwaad gedoen,’ luister tog na hierdie gebede. As hulle heelhartig en in opregtheid hulle tot U bekeer in die land van gevangenskap; as hulle tot U bid in die rigting van die land wat U aan hulle voorvaders gegee het en van hierdie stad wat U gekies het, en van hierdie tempel wat ek tot eer van u Naam gebou het, luister dan tog na hulle gebede uit u hemel waar U woon, en vergewe u volk wat teen U gesondig het. “My God, kyk tog, en luister aandagtig na al hulle gebede in hierdie plek. “En nou, HERE God, kom na u rusplek, U en u magtige ark. Mag u priesters, HERE God, geklee wees met redding, en mag u gelowiges juig in u goedheid. HERE God, moenie u gesalfde verwerp nie. Onthou tog u onfeilbare liefde vir u dienaar Dawid.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid