1 SAMUEL 2:22-36

1 SAMUEL 2:22-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

Eli was al baie oud. En wanneer hy alles hoor wat sy seuns aan al die Israeliete doen en dat hulle by die vrouens slaap wat diens doen by die ingang van die tent van ontmoeting, sê hy vir hulle: “Waarom doen julle sulke dinge dat ek aanhoudend by die hele volk moet hoor van julle slegte dade? Ag nee, my seuns, die gerugte wat ek verneem, is nie goed nie. Julle verlei die volk van die Here. Wanneer een mens teen 'n ander mens verkeerd optree, sal die regters die saak uitmaak, maar as 'n mens teen die Here sondig, wie sal dan die saak uitmaak?” Hulle het egter nie na hulle pa se vermaning geluister nie, want die Here het besluit om hulle dood te maak. Maar die seun Samuel het grootgeword en die Here en die mense was hom goedgesind. 'n Man van God het by Eli gekom en vir hom gesê: “So sê die Here: Ek het My duidelik geopenbaar aan die huis van jou stamvader toe die volk in Egipte aan die farao's onderdanig was. Ek het jou stamvader vir My uit al die Israelitiese stamme as priester uitgekies om my altaar te bedien, om wierook aan die brand te steek en om 'n skouerkleed voor My te dra. Ek het jou familie al die vuuroffers van die Israeliete gegee. Waarom verag julle my diereoffer en my graanoffer waarvoor Ek voorskrifte in my woonplek gegee het? En waarom ag jy jou seuns belangriker as vir My, deurdat julle julle vet maak met die beste uit al die offers van my volk Israel? “Daarom lewer die Here die God van Israel uitspraak: Ek het nadruklik gesê: Jou huis en jou nageslag sal My altyd in die tempel dien. “Maar nou sê Ek, die Here: Dit sal nie gebeur nie, want die een wat My eer, sal Ek eer, en die een wat My minag, sal Ek minag. Daar kom 'n tyd dat Ek die priesterskap van jou en jou familie af sal wegvat, en in jou familie sal niemand oud word nie. Jy sal in nood na my woonplek staan en kyk tussen al die weldade wat Ek aan Israel sal bewys. In jou familie sal niemand ooit oud word nie. Net een sal Ek nie van my altaar afsny nie. Maar wanneer Ek jou oë laat dof word en jou gees stil maak, sal die meerderheid van jou huis in die fleur van hulle lewe sterf. En wat met jou twee seuns Hofni en Pinehas sal gebeur, sal vir jou die teken wees: op dieselfde dag sal hulle albei sterf. Dan sal Ek vir my 'n betroubare priester aanstel. Volgens my wil en wens sal hy handel, en Ek sal vir hom 'n bestendige nageslag gee. Hy sal altyd diens doen as my gesalfde priester. Maar elkeen wat uit jou familie oorbly, sal voor my priester kom buig vir 'n geldstukkie of 'n snytjie brood en sê: Neem my tog op in een van die priesterordes dat ek 'n stukkie brood kan hê om te eet!”

1 SAMUEL 2:22-36 Bybel vir almal (ABA)

Eli was baie oud. Hy het gehoor wat sy seuns alles gedoen het aan al die Israeliete, en ook dat hulle seks gehad het met die vroue wat gewerk het by die deur van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn het. Eli het vir sy seuns gesê: “Hoekom doen julle hierdie dinge? Ek hoor dat al hierdie mense sleg praat oor julle. Nee, my seuns, ek hoor wat die volk van die Here oor julle sê, en dit is nie goeie dinge nie. Wanneer 'n mens sonde doen teen 'n ander mens, dan kan die regters oordeel, maar wanneer 'n mens sonde doen teen God, wie moet dan oordeel?” Maar die seuns van Eli het nie geluister na hulle pa nie, want die Here wou hulle laat sterf. Die seun Samuel het grootgeword, en die Here en die mense het gehou van Samuel. 'n Man van God het na Eli toe gekom en vir hom gesê: “Die Here sê: Ek het vir jou voorvader se familie duidelik gewys wie Ek is. Dit was toe hulle in Egipte by die farao se huis was. Ek het jou voorvader gekies uit al die Israeliete om my priester te wees. Ek het hom gekies om by my altaar te kom om die wierook-offer aan die brand te steek, en om die skouer-kleed te dra. Ek het vir sy familie al die vuur-offers gegee wat die Israeliete gebring het. Hoekom maak jy nou of my offers en my presente nie belangrik is nie? Ek het gesê die Israeliete moet daardie offers en presente vir My bring. Hoekom respekteer jy jou seuns meer as vir My? Jy maak hulle vet met die beste van al die presente wat my volk Israel vir Mý bring. “Omdat jy dit doen, sê Ek, die Here, die God van Israel: Ek het duidelik gesê jou nageslag en jou familie sal My altyd in die tempel dien, maar nou sê Ek dit sal nie meer so wees nie. Ek sal die mense eer wat My eer en Ek sal die mense verneder wat maak of Ek nie belangrik is nie. Daar sal 'n dag kom wanneer jy en jou familie nie meer priesters sal wees nie, en niemand uit jou familie sal 'n leier wees nie. Jy sal sien dat dit sleg gaan in hierdie tempel. Ek sal baie goeie dinge laat gebeur met die Israeliete, maar daar sal nooit weer 'n leier uit jou familie kom nie. Wanneer jy nie meer goed kan sien nie en swak geword het, dan sal Ek net een persoon laat oorbly by my altaar. Die meeste mans in jou familie sal sterf voordat hulle oud geword het. Jy sal sien dat dit gebeur. Jou twee seuns Hofni en Pinehas sal altwee op een dag sterf. Maar dan sal Ek vir My 'n priester kies en aanstel, en hy sal wees soos Ek wil hê hy moet wees. Hy sal doen wat Ek wil hê hy moet doen, en sy nageslag sal wees soos Ek wil hê hulle moet wees. Hy sal altyd my gesalfde dien. Elkeen in jou familie wat aanhou lewe, sal voor my priester kom buig om 'n bietjie geld of 'n klein broodjie te kry. Hy sal vra: ‘Laat my asseblief 'n priester wees, sodat ek 'n bietjie kos kan hê om te eet.’ ”

1 SAMUEL 2:22-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Maar Eli was baie oud, en as hy hoor alles wat sy seuns aan die hele Israel doen, en dat hulle gemeenskap hou met die vroue wat dien by die ingang van die tent van samekoms, dan sê hy vir hulle: Waarom doen julle sulke dinge, dat ek van hierdie hele volk julle slegte dinge moet hoor? Dit moenie wees nie, my seuns, want dit is geen goeie gerug wat ek hoor nie; julle maak dat die volk van die HERE oortree. As mens teen mens sondig, dan beslis die owerheid oor hom, maar as 'n mens teen die HERE sondig, wie sal dan vir hom as skeidsregter optree? Maar hulle het nie na hul vader geluister nie, want die HERE wou hulle ombring. Maar die seun Samuel het toegeneem in grootte en in guns by die HERE sowel as by die mense. EN daar het 'n man van God by Eli gekom en vir hom gesê: So spreek die HERE: Het Ek My nie duidelik geopenbaar aan die huis van jou vader toe hulle in Egipte in die huis van Farao was nie? En Ek het hom vir My as priester uitgekies uit al die stamme van Israel om op my altaar te klim om die reukwerk aan die brand te steek, om die skouerkleed te dra voor my aangesig; en Ek het aan die huis van jou vader al die vuuroffers van die kinders van Israel gegee. Waarom verag julle my slagoffer en my spysoffer wat Ek in my woning beveel het, en eer jy jou seuns meer as vir My deur julle vet te voer met die beste van elke offergawe van my volk Israel? Daarom spreek die HERE, die God van Israel: Ek het wel duidelik gesê: Jou huis en die huis van jou vader sal voor my aangesig wandel tot in ewigheid. Maar nou spreek die HERE: Dit is ver van My; want die wat My eer, sal Ek eer; maar die wat My verag, sal veragtelik wees. Kyk, die dae kom dat Ek jou arm en die arm van jou vader se huis sal afkap, sodat daar geen bejaarde in jou huis sal wees nie. Dan sal jy die benoudheid van my woning aanskou, in alles waarin Hy aan Israel goed sal doen; en in jou huis sal daar al die dae geen bejaarde wees nie. Maar Ek sal, om jou oë te laat wegkwyn en jou siel te laat versmag, een vir jou nie uitroei van my altaar af nie; en al wat aangroei uit jou huis, sal op manlike leeftyd sterwe. En dit sal vir jou die teken wees wat oor jou twee seuns, oor Hofni en Pínehas, sal kom: Op een dag sal hulle altwee sterwe. En Ek sal vir My 'n getroue priester verwek wat sal handel soos dit in my hart en in my siel is, en Ek sal vir hom 'n bestendige huis bou, sodat hy al die dae voor die aangesig van my gesalfde kan wandel. En almal wat in jou huis oorbly, sal kom om hulle voor hom neer te buig vir 'n geldstukkie en 'n broodjie, en hulle sal sê: Voeg my tog by een van die priesterordes, dat ek 'n stukkie brood kan eet.

1 SAMUEL 2:22-36 Die Boodskap (DB)

Eli was al baie oud. Hy het gehoor wat sy seuns alles aan die Israeliete doen, en dat hulle selfs by die vroue geslaap het wat by die ingang van die tempel werk. Hy het vir hulle gesê: “Hoekom doen julle dit? Ek moet by al die mense net altyd slegte dinge van julle hoor. Nee, my seuns, dis regtig nie ’n mooi storie wat die volk van die Here rondvertel nie. As ’n mens teen iemand anders iets verkeerds doen, kan die regters jou miskien help. Maar wie sal jou help as jy teen die Here sondig?” Maar hulle het hulle nie aan hulle pa gesteur nie. Die Here was vir seker van plan om hulle dood te maak. Samuel het groter geword en die Here en die mense het baie van hom gehou. Daar het ’n man wat God gestuur het by Eli gekom met hierdie boodskap van die Here af: “Toe jou familie in Egipte, in die land van die farao was, het Ek vir hulle mooi gesê dat Ek die Here is. Ek het jou familie gekies uit al die families van Israel om by my altaar te werk, om wierook te brand, om my priesters te wees en om vir die mense te sê wat Ek wil hê. Ek het ook vir jou familie ’n deel van die offers gegee wat die Israeliete bring. Hoekom het julle dan nie respek vir die diere- en graanoffers wat Ek gesê het die mense na my woonplek toe moet bring nie? En hoekom is jou seuns vir jou belangriker as wat Ek is? Julle voer julleself vet met die beste deel van die geskenke wat my volk Israel bring om My te eer. “Daarom sê Ek, die Here, die God van Israel: Ek het vir seker gesê dat jou familie geslag na geslag vir altyd in my tempel sal werk. Maar nou is Ek klaar met julle, want Ek eer die wat My eer, maar wie nie vir My respek het nie, sal self geminag word. “Daar kom ’n tyd wanneer Ek die mag wat jy het en die mag van jou familie gaan kortknip, almal in jou familie sal jonk doodgaan. Jy sal baie bekommerd wees oor die tempel. Dit sal met Israel goed gaan, maar van jou familie sal niemand ooit oud word nie. As daar iemand van jou mense oorbly wat Ek nie van my altaar af wegvat nie, sal hy vir jou net hartseer en verdriet bring. Maar die meeste van jou familie sal jonk doodgaan. En hier is die bewys daarvan: jou twee seuns Hofni en Pinehas sal al twee op een dag doodgaan. “Ek sal vir My ’n betroubare priester aanstel wat sal doen wat Ek wil hê hy moet doen. Ek sal vir sy nageslag ’n priesterskap gee wat sal aanhou: hulle sal altyd vir die koning werk wat Ek gaan kies. Elkeen wat van jou familie oorbly, sal voor my priester gaan kniel vir ’n bietjie geld en ’n broodjie en vir hom sê: ‘Deel my asseblief in by een van die priestergroepe sodat ek tog ook iets kan hê om te eet.’”

1 SAMUEL 2:22-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Eli was al bejaard, maar hy het geweet wat sy seuns besig was om aan die Israeliete te doen. So het hy geweet dat sy seuns die jong vroue by die ingang van die tent van ontmoeting seksueel misbruik. Dan sê Eli vir hulle: “Die mense kom kla by my oor julle bose dade! Hoekom doen julle sulke dinge? My seuns, julle moet ophou daarmee! Wat ek van die mense hoor, is nie goed nie. Julle maak dat die mense teen die HERE oortree. Wanneer iemand teen ’n medemens sondig, kan God oordeel. Maar as iemand teen die HERE sondig, wie sal dan vir hom intree?” Maar Eli se seuns wou nie na hulle pa luister nie, want die HERE het alreeds besluit dat hulle moet sterf. Soos die jong Samuel groter geword het, het hy ook al meer die guns van die HERE en die mense gewen. Op ’n dag kom ’n man van God by Eli met die volgende boodskap van die HERE: “Ek het Myself duidelik aan jou voorouers bekendgemaak toe die Israeliete in Egipte slawe van die farao was. Ek het jou vader Aäron uit al sy bloedverwante gekies om offers op my altaar te offer, om wierook te brand en om die priesterlike skouerkleed te dra wanneer hy My dien. Ek het die vuuroffers van die Israeliete aan jou familie gegee. Hoekom minag julle dan my diere-offer en graanoffer wat Ek in my woning voorgeskryf het? Hoekom het jy meer respek vir jou seuns as vir My? Julle het vet geword van die beste van die offers van my volk Israel! “Daarom, sê die HERE, die God van Israel: Ek het inderdaad gesê dat jou huis en jou nageslag altyd my priesters sou wees. Maar nou sê Ek, die HERE, dit sal nie gebeur nie! Ek eer net hulle wat My eer, en Ek verag dié wat My verag. Kyk, daar kom ’n tyd wanneer Ek die priesterskap van jou nageslag en die nageslag van jou pa sal wegneem. Niemand in jou pa se huis sal oud word nie. Jy sal in jou ellende na my woning staan en kyk, en sien hoeveel voorspoed Ek vir Israel gee, maar daar sal niemand in jou familie wees wat oud word nie. Tog sal Ek een man spaar om by die altaar te dien. Wanneer jou oë dof word en jou kragte min, sal jou afstammelinge in die fleur van hulle lewe sterf. Om te bevestig dat wat Ek sê, bewaarheid sal word, sal jou twee seuns, Hofni en Pinehas, op dieselfde dag sterf. “Dan sal Ek ’n getroue priester aanstel wat My sal dien. Hy sal doen wat Ek vereis. Ek sal sy nageslag seën en hulle sal lewenslank priesters wees vir my gesalfde. “Dan sal jou nageslag voor sy nageslag kom buig en vir geld of ’n stukkie brood bedel. Hulle sal sê: ‘Gee ons asseblief werk in een van die priesterordes sodat ons kos kan hê om te eet.’”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid