1 Samuel 2

2
Hanna prys die Here
1Hanna het gebid en gesê:
“Ek is vrolik, want die Here
is by my.
Ek is sterk, want die Here
is by my.
Ek lag vir my vyande,
want U het my gered,
en ek is bly.
2Daar is nie 'n ander heilige God
soos die Here nie,
net U is God, daar is nie
'n ander God nie.
Daar is nie 'n ander Rots
soos ons God nie.
3Julle moenie aanhou spog nie,
julle moenie teen die Here
praat nie,
want die Here weet alles
en Hy toets alles
wat 'n mens doen.
4Die pyl en boog
van mense wat oorlog maak,
is stukkend,
maar die mense wat geval het,
staan weer op en hulle is sterk.
5Mense wat altyd meer kos
gehad het as wat hulle
kon eet,
moet nou werk om 'n stukkie
kos te kry.
Maar mense wat altyd
honger was,
het nou genoeg om te eet.
'n Vrou wat nie kinders
kon kry nie,
het nou sewe kinders,
en 'n vrou wat baie kinders
gehad het,
het nou niks kinders nie.
6Die Here maak dood
en Hy laat mense weer lewe,
Hy laat mense afgaan
na die doderyk
en Hy laat mense opkom
uit die doderyk.
7Die Here maak mense arm
en Hy maak mense ryk,
Hy laat mense val
en Hy tel mense op.
8Hy laat arm mense opstaan
uit die stof,
Hy tel hulle op uit die ashoop.
Hy laat hulle by die belangrike
mense sit,
Hy gee vir hulle die belangrikste
plek om te sit.
Die pilare van die aarde
behoort aan die Here,
Hy het die aarde op
die pilare gesit.
9Die Here lei sy dienaars
op hulle pad,
maar die slegte mense sal in
die donker kom en sterf.
Hulle eie krag sal hulle nie help
om te wen nie.
10Die mense wat sê
die Here is verkeerd,
sal sterf.
Die Here laat donderweer
uit die lug oor hulle blits.
Die Here sal al die mense
op die aarde oordeel,
en Hy sal sy koning
wat Hy gesalf het,
sterk maak.”
11Elkana het teruggegaan na sy huis in Rama, maar sy seun Samuel het by die priester Eli gebly om vir die Here te werk.
Die seuns van Eli
12Die seuns van Eli was slegte mense. Hulle het nie gelewe soos die Here wou hê nie. 13Al die mense wat kom offer het, het altyd ook vir die priesters vleis gegee. Wanneer iemand klaar 'n ete-offer gebring het, dan het hy die vleis gaargemaak. Dan het die priester se slaaf gekom en hy het 'n drietand-vurk in sy hand gehad. 14Die slaaf het dan die vurk in die pot of die bak of die pan of die skottel gesteek. Alles wat aan die vurk vasgesit het, kon die priester vir homself vat. Die priesters het dit gedoen met al die Israeliete wat daar in Silo gekom het. 15Maar die priester se slaaf het partymaal gekom voordat die priesters die vet op die altaar aan die brand gesteek het. Die slaaf het dan vir die man gesê: “Jy moet vleis gee vir die priester om te braai. Hy wil nie gaar vleis hê nie, hy wil rou vleis hê.”
16En as die man dan vir die slaaf sê: “Wag 'n bietjie, hulle moet eers die vet aan die brand steek, daarna kan jy vat wat jy wil hê,” dan sê die slaaf vir hom: “Nee, jy moet dit nóú gee. As jy dit nie doen nie, dan sal ek dit self vat.”
17Die Here het gesien dat die seuns van Eli 'n baie groot sonde doen, want hulle het gemaak of die offer van die Here nie belangrik is nie.
18Samuel het in die tempel gewerk en hy het 'n linne- skouer-kleed gedra. 19Sy ma het elke jaar 'n klein oorkleed vir hom gemaak en sy het dit vir hom gebring wanneer sy saam met haar man kom offer het. 20Eli het Elkana en sy vrou geseën en gesê: “Jy en jou vrou het hierdie kind vir die Here geleen. Ek bid dat die Here vir julle nog kinders sal gee in sy plek.”
Daarna het Elkana en sy huisgesin teruggegaan na sy huis. 21En die Here was toe baie goed vir Hanna. Sy het weer swanger geword en sy het nog drie seuns en twee dogters gekry. Maar die seun Samuel het in die tempel grootgeword.
22Eli was baie oud. Hy het gehoor wat sy seuns alles gedoen het aan al die Israeliete, en ook dat hulle seks gehad het met die vroue wat gewerk het by die deur van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn het. 23Eli het vir sy seuns gesê: “Hoekom doen julle hierdie dinge? Ek hoor dat al hierdie mense sleg praat oor julle. 24Nee, my seuns, ek hoor wat die volk van die Here oor julle sê, en dit is nie goeie dinge nie. 25Wanneer 'n mens sonde doen teen 'n ander mens, dan kan die regters oordeel, maar wanneer 'n mens sonde doen teen God, wie moet dan oordeel?”
Maar die seuns van Eli het nie geluister na hulle pa nie, want die Here wou hulle laat sterf. 26Die seun Samuel het grootgeword, en die Here en die mense het gehou van Samuel.
Die Here stuur 'n boodskap vir Eli
27'n Man van God het na Eli toe gekom en vir hom gesê: “Die Here sê: Ek het vir jou voorvader se familie duidelik gewys wie Ek is. Dit was toe hulle in Egipte by die farao se huis was. 28Ek het jou voorvader gekies uit al die Israeliete om my priester te wees. Ek het hom gekies om by my altaar te kom om die wierook-offer aan die brand te steek, en om die skouer-kleed te dra. Ek het vir sy familie al die vuur-offers gegee wat die Israeliete gebring het. 29Hoekom maak jy nou of my offers en my presente nie belangrik is nie? Ek het gesê die Israeliete moet daardie offers en presente vir My bring. Hoekom respekteer jy jou seuns meer as vir My? Jy maak hulle vet met die beste van al die presente wat my volk Israel vir Mý bring.
30“Omdat jy dit doen, sê Ek, die Here, die God van Israel: Ek het duidelik gesê jou nageslag en jou familie sal My altyd in die tempel dien, maar nou sê Ek dit sal nie meer so wees nie. Ek sal die mense eer wat My eer en Ek sal die mense verneder wat maak of Ek nie belangrik is nie. 31Daar sal 'n dag kom wanneer jy en jou familie nie meer priesters sal wees nie, en niemand uit jou familie sal 'n leier wees nie. 32Jy sal sien dat dit sleg gaan in hierdie tempel. Ek sal baie goeie dinge laat gebeur met die Israeliete, maar daar sal nooit weer 'n leier uit jou familie kom nie. 33Wanneer jy nie meer goed kan sien nie en swak geword het, dan sal Ek net een persoon laat oorbly by my altaar. Die meeste mans in jou familie sal sterf voordat hulle oud geword het. 34Jy sal sien dat dit gebeur. Jou twee seuns Hofni en Pinehas sal altwee op een dag sterf. 35Maar dan sal Ek vir My 'n priester kies en aanstel, en hy sal wees soos Ek wil hê hy moet wees. Hy sal doen wat Ek wil hê hy moet doen, en sy nageslag sal wees soos Ek wil hê hulle moet wees. Hy sal altyd my gesalfde dien. 36Elkeen in jou familie wat aanhou lewe, sal voor my priester kom buig om 'n bietjie geld of 'n klein broodjie te kry. Hy sal vra: ‘Laat my asseblief 'n priester wees, sodat ek 'n bietjie kos kan hê om te eet.’ ”

Tans Gekies:

1 Samuel 2: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid