1 SAMUEL 2:13-17
1 SAMUEL 2:13-17 Bybel vir almal (ABA)
Al die mense wat kom offer het, het altyd ook vir die priesters vleis gegee. Wanneer iemand klaar 'n ete-offer gebring het, dan het hy die vleis gaargemaak. Dan het die priester se slaaf gekom en hy het 'n drietand-vurk in sy hand gehad. Die slaaf het dan die vurk in die pot of die bak of die pan of die skottel gesteek. Alles wat aan die vurk vasgesit het, kon die priester vir homself vat. Die priesters het dit gedoen met al die Israeliete wat daar in Silo gekom het. Maar die priester se slaaf het partymaal gekom voordat die priesters die vet op die altaar aan die brand gesteek het. Die slaaf het dan vir die man gesê: “Jy moet vleis gee vir die priester om te braai. Hy wil nie gaar vleis hê nie, hy wil rou vleis hê.” En as die man dan vir die slaaf sê: “Wag 'n bietjie, hulle moet eers die vet aan die brand steek, daarna kan jy vat wat jy wil hê,” dan sê die slaaf vir hom: “Nee, jy moet dit nóú gee. As jy dit nie doen nie, dan sal ek dit self vat.” Die Here het gesien dat die seuns van Eli 'n baie groot sonde doen, want hulle het gemaak of die offer van die Here nie belangrik is nie.
1 SAMUEL 2:13-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Die handelwyse van die priesters teenoor die volk was só: As iemand 'n offer slag, dan kom die dienaar van die priester, net soos die vleis kook, met die drietandvurk in sy hand, en steek in die kastrol of in die pot of in die pan of in die skottel: alles wat die vurk optrek, neem die priester vir homself. So het hulle met al die Israeliete gedoen wat daar, in Silo, gekom het. Selfs voordat hulle die vet aan die brand steek, kom die dienaar van die priester en sê aan die man wat offer: Gee vleis om vir die priester te braai, want hy sal nie gekookte nie, maar net rou vleis van jou neem. As die man vir hom sê: Laat hulle net eers die vet aan die brand steek, neem dan vir jou soos jou siel begeer — dan sê hy: Nee, maar jy moet dit nou gee; en so nie, dan neem ek dit met geweld. En die sonde van die jongmanne was baie groot voor die aangesig van die HERE, want die mense het die offer aan die HERE verag.
1 SAMUEL 2:13-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die reg van die priesters teenoor die volk was so: elke keer wanneer iemand 'n offer bring, kom die priester se slaaf met 'n drietandvurk in sy hand, en wanneer die vleis kook, steek hy die vurk in die kastrol of die bak of die pot of die pan. Alles wat die vurk optrek, vat die priester vir hom. Dit het hulle gedoen met al die Israeliete wat in Silo kom offer het. Maar nog voordat die vet aan die brand gesteek is, het 'n slaaf van die priester al gekom en aan die man wat offer, gesê: “Gee vleis om vir die priester te braai. Hy neem nie gekookte vleis van jou aan nie, net rou vleis.” As die man dan vir hom sê: “Laat hulle tog net eers die vet aan die brand steek, dan kan jy vir jou vat wat jy wil,” sê die slaaf vir hom: “Nee, jy moet dit nou gee, anders vat ek dit met geweld.” Hierdie sonde van Eli se seuns was baie groot in die oë van die Here, want daardeur het die mense hulle agting vir die offer van die Here verloor.
1 SAMUEL 2:13-17 Die Boodskap (DB)
Priesters het ’n sekere reg gehad wanneer iemand geoffer het. Terwyl die offervleis gekook word, kom die leerlingpriester met ’n drietandvurk en steek dit in die bak of pan of kookpot of kleipot. Alles wat aan die vurk vassit, is die priester s’n. So het hulle met al die Israeliete gemaak wat in Silo kom offer het. Maar nie Eli se seuns nie! Nog voor die vet vir die Here op die altaar verbrand word, kom die jong man en sê vir die een wat offer: “Gee van die vleis vir die priester om te braai. Hy wil nie gekookte vleis hê nie; jy moet vir hom rou vleis gee.” As die man vir hom sê: “Wag net eers tot die Here se deel verbrand is, dan kan jy vir jou vat wat jy wil,” sê die jong man: “Nee, gee dit dadelik, en as jy dit nie doen nie, vat ek dit met geweld!” Dit was ’n baie verkeerde ding wat dié twee jong mans daar in die tempel gedoen het, dat hulle so min respek gehad het vir die offers van die Here.
1 SAMUEL 2:13-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die gebruik van die priesters was dat wanneer iemand ’n offer bring, die dienaar van die priesters met ’n drietandvurk kom sodra die vleis kook en dit in die pot of bak steek. Alles wat aan die vurk vassit, het die priesters dan vir hulle geneem. Dit was die gebruik vir al die Israeliete wat na Silo toe gekom het om te offer. Maar die dienaar van Eli se seuns het gekom nog voordat die vet gebrand is, en het vir die man wat offer, gesê: “Gee vir die priester vleis om te braai! Hy sal nie gekookte vleis aanvaar nie, net rou vleis.” As die een wat offer dan sê: “Vat soveel as wat jy wil hê, maar die vet moet eers gebrand word,” het die dienaar geantwoord: “Nee, gee dit nou vir my, anders vat ek dit met geweld.” Die sondes van hierdie jong manne was vir die HERE baie ernstig, want daarmee het hulle die offer van die HERE met minagting behandel.