1 SAMUEL 1:1-19

1 SAMUEL 1:1-19 Bybel vir almal (ABA)

Daar was 'n man van die stad Ramatajim in die Efraim-berge. Hy was van die nageslag van Suf, en sy naam was Elkana. Elkana was die seun van Jerogam, Jerogam was die seun van Elihu, Elihu was die seun van Togu, en Togu was die seun van Suf, van die land Efrat. Elkana het twee vroue gehad. Die naam van die een vrou was Hanna en die naam van die ander vrou was Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna het nie kinders gehad nie. Elkana het elke jaar van sy stad Ramatajim na die stad Silo gegaan om daar te bid en te offer vir die Here wat oor alles regeer. Hofni en Pinehas, die twee seuns van Eli, was in Silo priesters van die Here. Wanneer Elkana 'n offer vir die Here gebring het, dan het hy vir Peninna en al haar seuns en dogters elkeen 'n stuk vleis gegee. Hy was lief vir Hanna, maar hy kon vir haar net een stuk vleis gee, want die Here het nie vir haar kinders laat kry nie. Dan het die ander vrou vir Hanna baie gespot en verneder omdat die Here nie vir Hanna kinders laat kry het nie. Elkana het dit elke jaar gedoen. Wanneer Hanna na die tempel gegaan het, dan het Peninna haar gespot. Hanna het dan gehuil en sy het nie geëet nie. Dan het haar man Elkana vir haar gesê: “Hanna, hoekom huil jy en hoekom eet jy nie? Hoekom is jy hartseer? Jy weet jy het vir my, en dit is beter as om tien seuns te hê.” Nadat hulle in Silo saam geëet en gedrink het, het Hanna opgestaan. Die priester Eli het by die deur van die tempel op 'n stoel gesit. Hanna was baie hartseer. Sy het tot die Here gebid en baie gehuil. Sy het vir die Here belowe en gesê: “Here wat oor alles regeer, ek is u dienaar. U moet asseblief na my kyk en sien hoe hartseer ek is. U moet dink aan my, U moenie vir my vergeet nie. As U vir my 'n seun gee, dan sal ek hom bring om sy hele lewe lank aan U te behoort, en niemand sal sy hare afskeer nie.” Hanna het lank aangehou bid tot die Here, en Eli het gesien sy praat. Maar Hanna het saggies gepraat. Net haar lippe het beweeg. Eli kon nie hoor wat sy sê nie en hy het gedink sy is dronk. Eli sê toe vir Hanna: “Hoe lank wil jy dronk bly? Gaan nou en kom terug wanneer jy nie meer dronk is nie.” Maar Hanna het vir Eli gesê: “Nee, Meneer, ek het nie wyn of bier gedrink nie, ek is baie hartseer en ek het vir die Here gesê hoe ek voel. Jy moenie dink dat ek 'n slegte vrou is nie. Ek het tot nou toe gepraat oor my groot hartseer en my pyn.” Eli het vir Hanna gesê: “Ek hoop dit sal goed gaan met jou. Ek bid dat die God van Israel vir jou sal gee wat jy gevra het.” Hanna het geantwoord: “Ek hoop jy sal aanhou tevrede wees met my.” Sy het gegaan en geëet, en sy was nie meer ongelukkig nie. Die volgende oggend het Elkana en Hanna vroeg opgestaan en hulle het tot die Here gebid, en toe het hulle teruggegaan na hulle huis in die stad Rama. Elkana het by Hanna geslaap, en die Here het aan haar gedink.

1 SAMUEL 1:1-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DAAR was 'n sekere man uit Ramatáim, 'n Sufiet, uit die gebergte van Efraim, en sy naam was Élkana, die seun van Jeróham, die seun van Elíhu, die seun van Tohu, die seun van Suf, 'n Efratiet. En hy het twee vroue gehad; die naam van die een was Hanna, en die naam van die tweede was Peninna; en Peninna het kinders gehad, maar Hanna het geen kinders gehad nie. En dié man het van jaar tot jaar opgegaan uit sy stad om te aanbid en aan die HERE van die leërskare te offer in Silo, waar die twee seuns van Eli, Hofni en Pínehas, priesters van die HERE was. En op 'n dag het Élkana geoffer en aan sy vrou Peninna en al haar seuns en haar dogters dele van die offervleis gegee; maar aan Hanna het hy 'n dubbele deel gegee; want hy het Hanna liefgehad; maar die HERE het haar moederskoot toegesluit. En haar mededingster het haar ook bitterlik geterg om haar te vertoorn, omdat die HERE haar moederskoot toegesluit het. So het hy gedoen van jaar tot jaar, telkens as sy opgaan in die huis van die HERE. Só het sy haar geterg, dat sy geween het en nie wou eet nie. En haar man Élkana sê vir haar: Hanna, waarom ween jy? en waarom eet jy nie? en waarom is jou hart bedroef? Is ek vir jou nie beter as tien seuns nie? Toe staan Hanna op nadat hulle geëet en nadat hulle gedrink het in Silo, terwyl die priester Eli op die stoel sit by die deurpos van die tempel van die HERE. En bitter bedroef het sy tot die HERE gebid en bitterlik geween; en sy het 'n gelofte gedoen en gesê: HERE van die leërskare, as U waarlik die ellende van u diensmaagd aansien en aan my dink en u diensmaagd nie vergeet nie, maar u diensmaagd 'n manlike kind skenk, dan sal ek hom aan die HERE gee al die dae van sy lewe; en geen skeermes sal op sy hoof kom nie. En toe sy lank gebid het voor die aangesig van die HERE en Eli op haar mond ag gee — want Hanna het in haar hart gespreek: net haar lippe het geroer, maar haar stem kon nie gehoor word nie — het Eli gedink dat sy dronk was. En Eli sê vir haar: Hoe lank wil jy jou soos 'n dronk mens gedra? Sit jou wyn van jou af weg. Maar Hanna antwoord en sê: Nee, my heer, ek is 'n vrou beswaard in my gemoed: wyn of sterk drank het ek nie gedrink nie, maar ek het my siel voor die aangesig van die HERE uitgestort. Hou tog nie u dienares vir 'n deugniet nie, want vanweë my baie sorge en verdriet het ek tot nou toe gespreek. En Eli antwoord en sê: Gaan in vrede, en mag die God van Israel jou bede gee wat jy van Hom gebid het. Daarop sê sy: Mag u dienares guns in u oë vind. Die vrou het toe daar weggegaan, en sy het geëet en haar aangesig was anders. Toe het hulle die môre vroeg klaargemaak en voor die aangesig van die HERE aanbid en teruggegaan en by hulle huis in Rama gekom; en Élkana het sy vrou Hanna beken, en die HERE het aan haar gedink.

1 SAMUEL 1:1-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daar was 'n man uit Ramatajim, 'n Suffiet uit die Efraimsberge. Hy was Elkana seun van Jerogam, seun van Elihu, seun van Togu, seun van Suf uit Efrata. Hy het twee vrouens gehad. Die een se naam was Hanna en die ander s'n Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna nie. Elkana het elke jaar uit sy stad uit na Silo toe gegaan om te aanbid en aan die Here die Almagtige offers te bring. Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas, was in Silo priesters van die Here. Elkana het gewoonlik op die dag wanneer hy geoffer het, dele van die offermaaltyd aan sy vrou Peninna en al haar seuns en dogters gegee. Alhoewel hy vir Hanna liefgehad het, kon hy vir haar elke keer net een deel gee, want die Here het haar kinderloos laat bly. Dan het die ander vrou haar baie gespot en verneder omdat die Here haar kinderloos laat bly het. So het dit jaar vir jaar gegaan: elke keer as Hanna in die huis van die Here gaan offer het, het Peninna haar gespot, sodat sy gehuil het en nie wou eet nie. Dan sê haar man Elkana vir haar: “Hanna, waarom huil jy? Waarom eet jy nie en waarom is jy hartseer? Is ek nie vir jou meer werd as tien seuns nie?” Op 'n keer ná die offermaaltyd in Silo het Hanna opgestaan terwyl die priester Eli op sy stoel langs die deurkosyn van die tempel van die Here gesit het. Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil. Sy het 'n gelofte afgelê en gesê: “Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my 'n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie.” Sy het lank tot die Here gebid, en Eli het stip na haar mond bly kyk. Hanna het in haar gedagte gepraat, net haar lippe het geroer. Eli kon nie haar stem hoor nie, en daarom het hy gedink sy is dronk. Hy sê toe vir haar: “Hoe lank wil jy dronk bly? Loop word eers nugter!” Maar Hanna het geantwoord: “Nee, Meneer, ek is maar net 'n vrou wat diep terneergedruk is. Ek het nie wyn of bier gedrink nie. Ek het my hart uitgestort voor die Here. Moet tog nie dink ek is 'n slegte vrou nie. Dis oor my groot smart en leed dat ek so lank bly praat het.” Toe sê Eli: “Wees gerus en gaan nou maar. Die God van Israel sal aan jou gee wat jy van Hom afgesmeek het.” En sy het gesê: “Mag dit vir my wees soos u sê.” Sy het toe geloop en gaan eet, en sy was nie meer bedruk nie. Die volgende môre het Elkana-hulle vroeg opgestaan, die Here aanbid en teruggegaan huis toe.

1 SAMUEL 1:1-19 Die Boodskap (DB)

Daar was eenkeer ’n man met die naam Elkana. Hy het in Ramatajim in die Efraimsberge gebly. Sy pa se naam was Jerogam; sy oupa was Elihu en sy oupagrootjie was Tohu. Hulle was van Suf se familie wat van Efrata af gekom het. Elkana het twee vroue gehad. Die een met wie hy eerste getroud is se naam was Hanna. Die ander vrou se naam was Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna nie. Elkana het gereeld een keer ’n jaar met sy vroue en kinders na die tempel in Silo gegaan om voor die magtige Here te kniel en vir Hom te offer. Eli en sy twee seuns, Hofni en Pinehas, was die Here se priesters in Silo. Elke keer as Elkana ’n dier geoffer het, het hy dele van die gaar vleis vir Peninna en al haar seuns en dogters gegee, maar vir Hanna het hy ’n spesiale deel gegee, want hy was vir haar die liefste, al het die Here nie vir haar kinders gegee nie. Dan het Peninna, wat nie van Hanna gehou het nie, haar gespot oor die Here nie vir haar kinders gee nie. Die gespot het Hanna verskriklik ontstel, want dit het elke jaar gebeur wanneer sy na die tempel van die Here toe gegaan het. Peninna het haar só gespot dat sy op ’n dag begin huil het en nie wou eet nie. Elkana sê toe vir haar: “Hoekom huil jy? En hoekom eet jy nie? Waaroor is jy so omgekrap? Is ek nie vir jou beter as tien kinders nie?” Die priester Eli het gewoonlik op ’n stoel gesit by die deurkosyn van die tempel. Toe die familie klaar geëet en gedrink het, het Hanna opgestaan. Sy was sielsongelukkig. Sy het tot die Here gebid en terwyl sy vreeslik huil, het sy ’n belofte gemaak. Sy het gesê: Magtige Here, ek is U nederige diensmeisie. As U regtig my moeilike omstandighede raaksien en my sal onthou en my nie vergeet nie en vir my ’n seunskind gee, sal ek hom vir sy lewe lank aan U, Here, teruggee. Sy hare sal nooit geskeer word nie. Terwyl sy so aanhoudend voor die altaar bid, het Eli haar mond dopgehou. Omdat Hanna in haar hart met die Here gepraat het en net haar lippe geroer het sonder dat haar stem gehoor kon word, het Eli gedink sy is dronk. Hy sê toe vir haar: “Wanneer gaan jy ophou met jou gedrink? Los die drank!” “U maak ’n fout, Meneer,” antwoord Hanna. “Ek het nie wyn of enige sterk drank gedrink nie. Ek is ’n baie ongelukkige vrou en ek het maar net my hart voor die Here uitgepraat. Moet asseblief nie dink dat ek, ’n nederige mens, sommer ’n nikswerd vrou is nie. Dit is omdat ek bekommerd en ontsteld is dat ek so lank gebid het.” Eli sê toe vir haar: “Mag dit met jou goed gaan, en mag die God van Israel vir jou gee wat jy Hom gevra het.” Nederig het Hanna hom geantwoord: “Dankie dat u vir my goed is.” Sy het na haar mense toe teruggegaan en geëet. Sy het nie meer so ongelukkig gelyk nie. Vroeg die volgende môre het Elkana en sy familie in die tempel voor die Here op hulle knieë gegaan en daarna teruggegaan na hulle huis in Rama. Elkana het by Hanna geslaap, en die Here het aan haar gedink.

1 SAMUEL 1:1-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

In Rama, in die heuwelgebied van Efraim, het daar ’n Suffiet gewoon met die naam Elkana. Hy was die seun van Jerogam en die kleinseun van Elihu uit die familie van Togu, van die familiegroep van Suf, uit Efrata. Hy het twee vroue gehad, Hanna en Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna was kinderloos. Elke jaar het Elkana en sy gesin na Silo toe gegaan om daar te aanbid en offers vir die HERE, die Almagtige, te bring. Die priesters van die HERE daar was Hofni en Pinehas, die twee seuns van Eli. Wanneer Elkana sy offers bring, het hy gewoonlik gedeeltes van die offermaaltyd aan Peninna en haar kinders gegee. Al het hy Hanna baie liefgehad, kon hy vir haar net een deel van die offer gee, omdat die HERE nie vir haar kinders gegee het nie. Maar Peninna het Hanna oor haar kinderloosheid gespot en verneder. Dit het jaar na jaar gebeur wanneer hulle na die huis van die HERE gegaan het. Dit het Hanna so laat huil dat sy nie wou eet nie. “Wat makeer, Hanna?” het Elkana dan gevra. “Hoekom eet jy nie? Hoekom is jy so verdrietig net omdat jy nie kinders het nie? Jy het mos vir mý! Is ek dan nie beter as tien seuns nie?” Op ’n keer toe hulle weer by Silo was, het Hanna ná die offermaaltyd na die heiligdom van die HERE gegaan. Die priester Eli het op sy gewone plek by die ingang gesit. Hanna was baie ontsteld en terwyl sy onbedaarlik huil, het sy tot die HERE gebid. Sy het ’n gelofte gemaak: “O HERE, Almagtige, as U tog net my verdriet wil raaksien en my gebed verhoor en vir my ’n seun gee, sal ek hom vir U teruggee. Lewenslank sal hy aan U behoort. As teken daarvan sal sy hare nooit gesny word nie.” Terwyl sy besig was om te bid, het Eli haar dopgehou. Haar lippe het beweeg, maar ’n mens kon niks hoor nie. Hy dink toe sy is dronk. “Moet jy dan besope hier aankom?” sê hy. “Los die drank uit!” “O nee, Meneer!” antwoord sy. “Ek het nie wyn of sterk drank gedrink nie. Ek is net diep bedroef. Ek het maar net my hart voor die HERE oopgemaak. Asseblief, moenie dink ek is ’n slegte vrou nie. Ek het so lank gebid omdat ek baie hartseer is.” “Gaan gerus,” sê Eli. “Mag die God van Israel vir jou gee wat jy Hom gevra het.” “Baie dankie, Meneer!” antwoord sy en gaan terug om te eet. Sy was nie meer hartseer nie. Die gesin het vroeg die volgende oggend opgestaan. Nadat hulle die HERE aanbid het, is hulle terug huis toe in Rama. Elkana het by Hanna geslaap en die HERE het Hanna se versoek onthou.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid