1 SAMUEL 1:1-19

1 SAMUEL 1:1-19 NLV

In Rama, in die heuwelgebied van Efraim, het daar ’n Suffiet gewoon met die naam Elkana. Hy was die seun van Jerogam en die kleinseun van Elihu uit die familie van Togu, van die familiegroep van Suf, uit Efrata. Hy het twee vroue gehad, Hanna en Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna was kinderloos. Elke jaar het Elkana en sy gesin na Silo toe gegaan om daar te aanbid en offers vir die HERE, die Almagtige, te bring. Die priesters van die HERE daar was Hofni en Pinehas, die twee seuns van Eli. Wanneer Elkana sy offers bring, het hy gewoonlik gedeeltes van die offermaaltyd aan Peninna en haar kinders gegee. Al het hy Hanna baie liefgehad, kon hy vir haar net een deel van die offer gee, omdat die HERE nie vir haar kinders gegee het nie. Maar Peninna het Hanna oor haar kinderloosheid gespot en verneder. Dit het jaar na jaar gebeur wanneer hulle na die huis van die HERE gegaan het. Dit het Hanna so laat huil dat sy nie wou eet nie. “Wat makeer, Hanna?” het Elkana dan gevra. “Hoekom eet jy nie? Hoekom is jy so verdrietig net omdat jy nie kinders het nie? Jy het mos vir mý! Is ek dan nie beter as tien seuns nie?” Op ’n keer toe hulle weer by Silo was, het Hanna ná die offermaaltyd na die heiligdom van die HERE gegaan. Die priester Eli het op sy gewone plek by die ingang gesit. Hanna was baie ontsteld en terwyl sy onbedaarlik huil, het sy tot die HERE gebid. Sy het ’n gelofte gemaak: “O HERE, Almagtige, as U tog net my verdriet wil raaksien en my gebed verhoor en vir my ’n seun gee, sal ek hom vir U teruggee. Lewenslank sal hy aan U behoort. As teken daarvan sal sy hare nooit gesny word nie.” Terwyl sy besig was om te bid, het Eli haar dopgehou. Haar lippe het beweeg, maar ’n mens kon niks hoor nie. Hy dink toe sy is dronk. “Moet jy dan besope hier aankom?” sê hy. “Los die drank uit!” “O nee, Meneer!” antwoord sy. “Ek het nie wyn of sterk drank gedrink nie. Ek is net diep bedroef. Ek het maar net my hart voor die HERE oopgemaak. Asseblief, moenie dink ek is ’n slegte vrou nie. Ek het so lank gebid omdat ek baie hartseer is.” “Gaan gerus,” sê Eli. “Mag die God van Israel vir jou gee wat jy Hom gevra het.” “Baie dankie, Meneer!” antwoord sy en gaan terug om te eet. Sy was nie meer hartseer nie. Die gesin het vroeg die volgende oggend opgestaan. Nadat hulle die HERE aanbid het, is hulle terug huis toe in Rama. Elkana het by Hanna geslaap en die HERE het Hanna se versoek onthou.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid