SAGARIA 9:9-17

SAGARIA 9:9-17 AFR83

Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is 'n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op 'n donkie, op die hingsvul van 'n donkie. Ek sal die strydwaens in Efraim vernietig, die perde uit Jerusalem uitroei. Die pyl en boog waarmee oorlog gemaak word, sal gebreek word. Die koning sal vrede vir die nasies afkondig en hy sal regeer van see tot see, van die Eufraat af tot in die uithoeke van die aarde. Wat jou betref, my verbond met jou is met offerbloed beseël. Daarom sal Ek jou gevangenes laat red uit hulle gevangenskap. Kom terug na die vestingstad toe, gevangenes wat nou hoop het! Ek verseker jou vandag: Ek gee jou twee maal soveel as wat jy gehad het. Ek gebruik Juda as my boog, Efraim as my pyl, jou inwoners, Sion, as my swaard teen jou inwoners, Griekeland. Ek hanteer my volk soos 'n vegter sy swaard hanteer. Die Here sal bokant sy volk verskyn, sy pyl sal soos weerlig uitskiet. Die Here God sal die ramshoring blaas, Hy sal kom in die storms uit die suide. Die Here die Almagtige sal sy volk beskerm. Die klippe uit sy slingervel sal dood en verwoesting saai, hulle sal vol bloed word, hulle sal gons soos wyn bruis, hulle sal so vol bloed word soos die kom wat by offers gebruik word, soos die hoeke van die altaar. Die Here hulle God sal daardie dag sy volk, sy kudde, red. Hulle sal in sy land vonkel soos die edelstene in 'n kroon. Hoe voorspoedig, hoe mooi sal die land nie wees nie! Die koring en die wyn sal maak dat die jongmans en die meisies gesond en sterk sal wees.

Gratis leesplanne en oordenkings oor SAGARIA 9:9-17

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid