DIE OPENBARING 10

10
Die klein boekie
1Toe het ek 'n ander engel, 'n sterke, uit die hemel uit sien afkom. Hy het 'n wolk om hom gehad en 'n reënboog bokant sy kop. Sy gesig was soos die son en sy bene soos vuurpilare. 2In sy hand het hy 'n oop boekie gehad. Hy het toe met sy regtervoet op die see en met sy linkervoet op die land gaan staan 3en met 'n harde stem uitgeroep soos 'n leeu wat brul. Toe hy uitroep, het sewe donderslae geantwoord. 4En toe die sewe donderslae praat, wou ek dit opskrywe, maar ek het 'n stem uit die hemel hoor sê: “Hou geheim wat die sewe donderslae gesê het; moet dit nie opskrywe nie.”
5Die engel wat ek op die see en die land sien staan het, het toe sy regterhand na die hemel toe opgelig 6en 'n eed afgelê by Hom wat tot in alle ewigheid lewe, wat die hemel en wat daarin is, die land en wat daarop is, die see en wat daarin is, geskep het. Hy het met 'n eed bevestig: “Daar is geen tyd meer oor nie. 7Op die dag wanneer die sewende engel op sy trompet gaan blaas, sal God se verborge bedoeling met alles bereik word, soos Hy die blye tyding aan sy dienaars, die profete, bekend gemaak het.”
8Die stem wat ek uit die hemel gehoor het, het toe weer met my gepraat en vir my gesê: “Gaan kry die oop boek daar in die hand van die engel wat op die see en die land staan.”
9Ek het na die engel toe gegaan en vir hom gevra om die boekie vir my te gee.
Hy sê toe vir my: “Neem dit en eet dit op. Dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond sal dit so soet soos heuning wees.”
10Ek het toe die boekie uit die hand van die engel gevat en dit opgeëet. In my mond was dit so soet soos heuning, maar toe ek dit insluk, het my maag bitter geword. 11Toe het hulle vir my gesê: “Jy moet weer God se boodskap aangaande baie volke, nasies, tale en konings verkondig.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid