PSALMS 18:1-19

PSALMS 18:1-19 AFR83

Vir die koorleier. 'n Lied van Dawid, die dienaar van die Here. Hy het dié woorde tot die Here gerig op die dag toe die Here hom gered het uit die mag van al sy vyande en uit die mag van Saul. Hy het gesê: Ek het U baie lief, Here, my Sterkte. Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting. Onder bespotting roep ek na die Here, dan word ek van my vyande verlos. Bande van die dood het my omsluit, strome van onheil het my verskrik. Bande van die doderyk het my vasgetrek, strikke van die dood het my bedreig. In my nood roep ek na die Here, ja, ek roep om hulp na my God. In sy paleis hoor Hy my geroep. Ek roep na Hom om hulp, en Hy luister na my. Die aarde het geskud en gebewe, die fondamente van die berge het getril en geskud, want Hy was vertoorn. Rook het uit sy neus getrek, vuur uit sy mond het alles verteer, gloeiende kole uit sy binneste. Hy het die hemel afgebuig en afgekom, onder sy voete was duisternis. Hy het op 'n gerub geklim en gevlieg; op die vleuels van die wind het Hy nadergesweef. Hy het Hom in donkerte gehul, donker waters en wolkemassas was sy bedekking. Uit die gloed voor Hom het wolke getrek, hael en weerligstrale. Die Here het dit uit die hemel laat dreun, die Allerhoogste het sy stem laat hoor in hael en weerligstrale. Hy het sy pyle afgeskiet en die vyand uitmekaar gejaag, hulle met 'n menigte weerligstrale op loop gejaag. Die seebodem het sigbaar geword, die fondamente van die aarde is blootgelê deurdat U, Here, op hulle gebulder het met die orkaan van u toorn. Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, my uit geweldige waters uitgelig. Hy het my gered van my vyand wat sterk was, van my haters toe hulle vir my te magtig was. Die dag toe hulle my aangeval het, was my ondergang naby, maar die Here het my daarvan bewaar.

Gratis leesplanne en oordenkings oor PSALMS 18:1-19

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid