PSALMS 119:1-20

PSALMS 119:1-20 AFR83

Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel volgens die woord van die Here. Dit gaan goed met dié wat sy verordeninge gehoorsaam, dié wat met hulle hele hart sy wil doen, geen onreg pleeg nie en in sy weë wandel. U het u bevele gegee dat dit ten volle uitgevoer moet word. As ek tog maar net op 'n vaste koers kan bly en my aan u voorskrifte kan hou! As ek al u gebooie in ag neem, sal ek nooit raad-op wees nie. U bepalings is regverdig; as ek hulle ter harte neem, sal ek U loof met 'n opregte hart. Ek sal my aan u voorskrifte hou: moet my tog nooit verlaat nie. Hoe kan 'n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord! Ek wil aan U gehoorsaam wees met my hele hart, laat my nie afwyk van u gebooie nie. Aan u beloftes hou ek vas, dit weerhou my van sonde teen U. Aan U kom die lof toe, Here, leer my u voorskrifte. Al u bepalings wil ek een vir een opnoem. Om volgens u verordeninge te lewe, gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld. U bevele bly my altyd by. Ek gee ag op die pad wat U aanwys. Ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet ek nie. Doen goed aan u dienaar, dan sal ek lewe en u woord gehoorsaam. Maak my oë oop dat ek die kragtige werking van u wet ervaar. Hier op aarde is ek net op u beskerming aangewese: laat my tog nie sonder u gebooie wees nie. Ek kwyn weg van verlange na u bepalings.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid