PSALMS 115:1-18

PSALMS 115:1-18 AFR83

Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer toe, want dit is U wat liefde en trou bewys. Waarom sou die heidene kan sê: “Waar is hulle God nou?” En dit terwyl ons God in die hemel is! Alles wat Hy wil, doen Hy. Wat húlle het, is afgode, van silwer en goud, die werk van mensehande. 'n Mond het hulle, maar praat kan hulle nie, oë het hulle, maar sien kan hulle nie; ore het hulle, maar hoor kan hulle nie; 'n neus het hulle, maar ruik kan hulle nie. Hulle hande, daarmee kan hulle nie voel nie, hulle voete, daarmee kan hulle nie loop nie. Daar kom geen geluid uit hulle keel nie. Wie hulle maak en op hulle vertrou, sal net soos hulle word. Israel, vertrou op die Here! Hy help en beskerm jou. Huis van Aäron, vertrou op die Here! Hy help en beskerm jou. Julle wat die Here dien, vertrou op die Here! Hy help en beskerm julle. Die Here dink aan ons: Hy seën, Hy seën die huis van Israel, Hy seën die huis van Aäron, Hy seën dié wat Hom dien, klein en groot. Mag die Here julle talryk maak, julle én julle kinders. Mag die Here julle seën, Hy wat hemel en aarde gemaak het. Die hemel is net vir die Here, maar die aarde het Hy aan die mense gegee. Nie die dooies prys die Here nie, nie dié wat die graf in is nie, maar óns, ons prys die Here, nou en vir altyd! Prys die Here!

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid