SPREUKE 11

11
1Die Here het 'n afsku van 'n skaal wat nie reg weeg nie;
net die regte gewig dra sy goedkeuring weg.
2Selfverheffing bring vernedering;
wie nederig is, het wysheid.
3Die opregtheid van eerlike mense bepaal hulle koers;
die valsheid van onbetroubares bring hulle ondergang.
4Rykdom baat nie wanneer die Here straf nie;
om te lewe volgens sy wil, red van die dood.
5Die gehoorsaamheid van die opregte maak sy pad gelyk;
wie verkeerd doen, kom daardeur tot 'n val.
6Die betroubaarheid van eerlike mense red hulle;
onbetroubare mense word deur hulle hebsug gevang.
7Wanneer 'n slegte mens sterf, verdwyn alle hoop,
selfs die verwagting wat op mag gebou is.
8Die regverdige word uit sy nood bevry,
en dié nood tref die goddelose.
9'n Godlose mens laat 'n ander te gronde gaan met wat hy sê;
mense wat aan God gehoorsaam is,
word deur hulle kennis gered.
10'n Stad juig oor die voorspoed van regverdiges
en jubel wanneer die goddeloses te gronde gaan.
11'n Stad kry 'n goeie naam
wanneer opregte mense dit prys,
maar dit word afgebreek
deur wat goddelose mense daarvan sê.
12'n Onverstandige mens praat met minagting van 'n ander;
'n verstandige mens swyg.
13Iemand wat loop en skinder, lap geheime uit;
'n betroubare mens bewaar 'n geheim.
14Sonder oorwoë leiding val 'n volk;
die redding lê in baie raadgewers.
15Dit gaan sleg met hom wat vir iemand borg staan;
die man wat weier om borg te staan, is veilig.
16'n Deugsame vrou is gesteld op haar goeie naam;
mense wat niks ontsien nie, is gesteld op rykdom.
17'n Mens wat iets vir 'n ander oor het, baat self daarby;
'n hartelose mens word deur sy eie toedoen verstoot.
18Die wins wat 'n slegte mens maak, hou nie;
wie volhou om reg te doen, kry blywende beloning.
19Die lewe lê voor vir wie by die reg bly,
die dood wag vir wie aanhou kwaad doen.
20Die Here verafsku mense wat nie opreg is nie;
Hy hou van mense wat onberispelik lewe.
21Dit staan vas: 'n slegte mens sal nie loskom nie,
maar selfs die nageslag van die regverdiges sal vrygespreek word.
22Die skoonheid van 'n vrou sonder oordeel
is soos 'n goue ring aan 'n vark se snoet.
23Die regverdiges begeer die goeie;
vir die goddeloses wag daar net straf.
24Daar is mense wat vrylik uitdeel en tog steeds meer het,
daar is ander wat suinig is en tog arm word.
25Wie 'n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê.
Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is.
26Mense vervloek iemand wat weier om koring te verkoop
en hulle seën iemand wat gewillig is om te verkoop.
27Wie die goeie nastreef, kan goedkeuring verwag;
wie op die kwaad uit is, kry dit.
28Wie op sy rykdom staatmaak, kom tot 'n val;
wie reg doen, floreer soos groen blare aan 'n boom.
29Wie sy huishouding verwaarloos,
sal naderhand net wind oor hê;
'n onverstandige mens word die slaaf
van dié een wat wysheid het.
30Wie die wil van die Here doen, is 'n bron van lewe;
die mens wat wysheid het, red lewens.
31Die regverdige kry hier op aarde wat hom toekom;
net so seker die goddelose en die sondaar.

Tans Gekies:

SPREUKE 11: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid