NUMERI 9:15-23

NUMERI 9:15-23 AFR83

Die dag toe die tabernakel, die tent met die getuienis, opgerig is, het 'n wolk dit oordek. In die aand het die wolk oor die tabernakel soos vuur geword en dit het so gebly tot die môre toe. So was dit deurentyd. Die wolk het die tabernakel oordek en snags was dit soos vuur. Elke keer nadat die wolk van die tent af opgetrek het, het die Israeliete weggetrek, en op die plek waar die wolk afkom, daar het die Israeliete kamp opgeslaan. Op bevel van die Here het die Israeliete weggetrek, en op sy bevel het hulle kamp opgeslaan; gedurende die hele tyd dat die wolk op die tabernakel gerus het, het hulle in die kamp gebly. Wanneer die wolk 'n geruime tyd op die tabernakel gerus het, het die Israeliete die diens van die Here waargeneem en nie weggetrek nie. Soms het die wolk net 'n paar dae op die tabernakel gerus. Wat die geval ook al was, op die bevel van die Here het hulle kamp opgeslaan en op sý bevel het hulle weggetrek. Soms was die wolk net van die aand af tot die volgende môre toe daar, en as dit dan in die môre optrek, het die volk weggetrek. Of dit bedags of snags was, as die wolk optrek, het hulle weggetrek. As die wolk 'n paar dae of 'n maand of 'n jaar of langer op die tabernakel rus, het die Israeliete in die kamp gebly en nie weggetrek nie, maar sodra dit optrek, het hulle weggetrek. Op die bevel van die Here het hulle kamp opgeslaan en op sy bevel het hulle weggetrek. Hulle het die diens van die Here onderhou soos die Here deur middel van Moses beveel het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid