NUMERI 4:2-33

NUMERI 4:2-33 AFR83

“Tel die Leviete tussen dertig en vyftig jaar, almal wat van Kehat afstam. Doen dit volgens afstamming van familie. Dit moet almal insluit wat vir diens geskik is, wat die werk in die tent van ontmoeting kan verrig. Die ampsplig van die Kehatgroep in die tent van ontmoeting het te doen met die besondere gewyde voorwerpe. “Net voor die kamp versit, moet Aäron en sy seuns nader kom. “Hulle moet die voorhangsel wat as bedekking dien, afhaal en die ark waarin die getuienis is daarmee toemaak. Hulle moet 'n seil van gebreide vel daaroor gooi, en dit met 'n groot blou doek toemaak. Dan moet hulle die draaghoute weer insteek. “'n Blou doek moet ook oor die offerbroodtafel gegooi word, en daarop moet hulle die skottels, bakke, komme en drankofferkanne sit; ook die offerbrood moet daarop gesit word. Dit moet altyd daar wees. Hulle moet 'n bloedrooi doek oor die offerbroodtafel gooi en dit met 'n seil van gebreide vel toemaak. Dan moet hulle die draaghoute insteek. “Hulle moet die kandelaar met sy lampe, pithouers, bakkies en al die oliekanne in 'n blou doek toedraai. Die kandelaar met al sy toebehore moet hulle op 'n seil van gebreide vel neersit en dit op 'n draagbaar sit. Hulle moet 'n blou doek oor die goue wierookaltaar gooi en dit dan met 'n seil van gebreide vel toemaak. Dan moet hulle die draaghoute insteek. “Hulle moet al die gereedskap neem wat vir die diens in die heiligdom nodig is, en dit op 'n blou doek sit. Dan moet hulle dit met 'n seil van gebreide vel toemaak en so op die draagbaar neersit. Hulle moet die as van die altaar afvee en dan 'n pers doek oor die altaar gooi. Al die gereedskap wat hulle vir die diens by die altaar gebruik, moet hulle op die doek neersit: al die vuurpanne, vurke, skoppe en komme, kortom, al die altaargereedskap, en dit met 'n seil van gebreide vel toemaak. Dan moet hulle die draaghoute insteek. “Net voor die kamp versit, moet Aäron en sy seuns eers die gewyde voorwerpe saam met hulle gereedskap toemaak, en dan moet die Kehatiete nader kom om dit te dra. Hulle mag nie aan die gewyde voorwerpe raak nie, want dan sal hulle sterwe. Hierdie voorwerpe van die tent van ontmoeting moet deur die Kehatiete gedra word. “Eleasar seun van die priester Aäron moet toesig hou oor die olie vir die kandelaar, die geurige wierook, die gereelde graanoffer en die salfolie. Hy moet toesig hou oor die hele tabernakel en alles wat daarin is, oor die heiligdom met sy gereedskap.” Die Here het ook nog vir Moses en Aäron gesê: “Julle moet voorsorg tref dat die Kehatgroep van Levi nie met die dood gestraf word nie. Wanneer hulle kom om die gewyde voorwerpe te dra, moet Aäron en sy seuns vir hulle presies aandui wat elkeen van hulle moet doen en dra, sodat hulle kan bly lewe en nie met die dood gestraf word nie. Die Kehatiete mag selfs nie 'n oomblik na die heiligdom kom kyk nie, want dan sal hulle sterwe.” Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet ook die afstammelinge van Gerson tel. Doen dit volgens familie en afstamming. Jy moet almal tussen dertig en vyftig jaar tel wat vir diens geskik is en wat die werk in die tent van ontmoeting kan verrig. Die ampsplig van die Gersongroep is om drawerk te doen: hulle moet die tentdoeke van die tabernakel, die tent van ontmoeting, dra, sy seil en die seil van gebreide vel wat daarbo-oor is, die gordyn by die ingang van die tent van ontmoeting en die gordyn by die ingang van die voorhof, asook die gordyne van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar is, die toue en al die nodige gereedskap. Vir al hierdie dinge is hulle verantwoordelik. Al die ampspligte van die Gersongroep, alles wat hulle moet dra en doen, moet onder toesig van Aäron en sy seuns verrig word. Hulle moet toesien dat die Gersongroep al hulle opdragte uitvoer. Dit is dan die ampspligte van die Gersongroep in verband met die tent van ontmoeting. Hulle werk staan onder toesig van Itamar seun van die priester Aäron.” “Jy moet ook die afstammelinge van Merari tel. Doen dit volgens afstamming en familie. Jy moet almal tussen dertig en vyftig jaar tel wat vir diens geskik is en wat die werk in die tent van ontmoeting kan verrig. Hulle diens in verband met die tent van ontmoeting sal wees om die volgende te dra: die rame, dwarslatte, style en voetstukke van die tabernakel; ook die style rondom die voorhof met hulle voetstukke, penne en toue, al die gereedskap en toebehore. Julle moet 'n lys name opstel van persone wat vir die dra van bepaalde voorwerpe verantwoordelik is. Dit is al die verpligtinge van die Merarigroep in verband met die tent van ontmoeting. Dit moet verrig word onder toesig van Itamar seun van die priester Aäron.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor NUMERI 4:2-33

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid