NUMERI 26

26
Tweede sensusopname
1Ná die ramp het die Here vir Moses en vir Eleasar seun van die priester Aäron gesê: 2“Neem 'n sensus op van die hele volk Israel, van elke Israeliet van twintig jaar en ouer wat vir militêre diens geskik is. Julle moet dit familiegewys doen.”
3Moses en die priester Eleasar het toe in die Moabsvlakte regoor Jerigo aan die Jordaan die opname gemaak 4van almal van twintig jaar en ouer soos die Here vir Moses beveel het.
Hier volg die opgawe van die Israelitiese families wat uit Egipte gekom het:
5Ruben, oudste seun van Israel: die Rubenfamilies was dié van Ganok, 6Gesron en Karmi. 7Die Rubenfamilies was altesaam 43 730 man.
8Pallu se seun was Eliab, 9en sy seuns was Nemuel, Datan en Abiram. Dit was dié Datan en Abiram wat as leiers deur die vergadering verkies was, maar teen Moses en Aäron in opstand gekom het toe die bende van Korag teen die Here in opstand gekom het. 10Die grond het oopgeskeur en hulle ingesluk saam met Korag wie se bende omgekom het toe die vuur twee honderd en vyftig man verteer het. Dit was 'n waarskuwing vir Israel. 11Die seuns van Korag het egter nie gesterf nie.
12Die Simeonfamilies was dié van Jemuel, Jamin, Jakin, 13Serag en Saul. 14Die Simeonfamilies was altesaam 22 200 man.
15Die Gadfamilies was dié van Sifjon, Gaggi, Suni, 16Osni, Eri, 17Arod en Areli. 18Die Gadfamilies was altesaam 40 500 man.
19Er en Onan was seuns van Juda, maar hulle is vroeër al in Kanaän oorlede. 20Die Judafamilies was dié van Sela, Peres en Serag. 21Die Peresfamilies was dié van Gesron en Gamul. 22Die Judafamilies was altesaam 76 500 man.
23Die Issaskarfamilies was dié van Tola, Puwwa, 24Jasub en Simron. 25Die Issaskarfamilies was altesaam 64 300 man.
26Die Sebulonfamilies was dié van Sered, Elon en Jagleël. 27Die Sebulonfamilies was altesaam 60 500 man.
28Die Joseffamilies was dié van Manasse en Efraim. 29Makir, voorvader van Gilead, was uit die Manassefamilie. 30Die Gileadfamilie was dié van Iëser, Gelek, 31Asriël, Sekem, 32Semida, Gefer 33en Selofgad. Selofgad seun van Gefer het nie seuns gehad nie, net dogters. Sy dogters was Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa. 34Die Manassefamilies was altesaam 52 700 man. 35Die Efraimfamilies was dié van Sutelag, Beker en Tagan. 36Eran was uit die Sutelagfamilie. 37Die Efraimfamilies was altesaam 32 500 man. Dit was al die Joseffamilies.
38Die Benjaminfamilies was dié van Bela, Asbel, Agiram, 39Sefufam en Gufam. 40Die Belafamilies was dié van Ard en Naäman. 41Die Benjaminfamilies was altesaam 45 600 man.
42Die Danfamilie was dié van Sugam en sy nageslag. Dit was die enigste Danfamilie. 43Die Sugamfamilie was altesaam 64 400 man.
44Die Aserfamilies was dié van Jimna, Jiswi en Beria. 45Die Beriafamilies was dié van Geber en Malkiël. 46Aser het ook 'n dogter gehad, Serag. 47Die Aserfamilies was altesaam 53 400 man.
48Die Naftalifamilies was dié van Jagseël, Guni, 49Jeser en Sillem. 50Die Naftalifamilies was altesaam 45 400 man.
51Die Israeliete was altesaam 601 730 man.
52Daarna het die Here vir Moses gesê: 53“Verdeel nou die land tussen die families en gee aan elkeen 'n eiendom volgens sy grootte: 54aan 'n groot familie 'n groot eiendom en aan 'n klein familie 'n kleiner eiendom. Elkeen moet sy eiendom ontvang ooreenkomstig sy getal. 55Die land moet verdeel word deur te loot. Elke stam moet 'n eiendom ontvang. 56Bepaal vir elkeen sy eiendom deur loting tussen die groter en die kleiner stamme.”
57Die Levifamilies wat getel is, was dié van Gerson, Kehat en Merari 58en ook dié van Libni, Hebron, Magli, Musi en Korag. Kehat was die voorvader van Amram, 59en Amram se vrou was Jogebed, ook uit die nageslag van Levi. Sy is in Egipte gebore en haar en Amram se kinders was Aäron en Moses en hulle suster Mirjam. 60Aäron was die vader van Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar. 61Nadab en Abihu is dood toe hulle ongeoorloofde vuur na die altaar toe gebring het.
62Die Leviete van 'n maand en ouer was altesaam 23 000 man. Hulle is nie saam met die ander Israeliete getel nie, want hulle het nie self eiendom onder die Israeliete gekry nie.
63Al hierdie mense is getel deur Moses en die priester Eleasar in die Moabsvlakte regoor Jerigo aan die Jordaan. 64Onder hulle was daar egter niemand van die Israeliete wat deur Moses en die priester Aäron in die Sinaiwoestyn getel is nie. 65Die Here het destyds vir daardie Israeliete gesê dat hulle beslis in die woestyn sou sterf. Nie een van húlle het toe oorgebly nie, behalwe Kaleb seun van Jefunne, en Josua seun van Nun.

Tans Gekies:

NUMERI 26: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid