MARKUS 8:1-13

MARKUS 8:1-13 AFR83

In daardie selfde tyd was daar weer 'n keer 'n groot menigte mense by Jesus, en hulle het niks gehad om te eet nie. Hy roep toe sy dissipels nader en sê vir hulle: “Ek kry hierdie mense innig jammer, want hulle is nou al drie dae lank hier by My en hulle het niks om te eet nie. As Ek hulle nou sonder kos huis toe stuur, sal hulle langs die pad beswyk. Party van hulle kom van ver af.” Maar die dissipels sê vir Hom: “Waar sal 'n mens in hierdie verlatenheid genoeg brood vir hulle kan kry?” Hy vra hulle toe: “Hoeveel brood het julle?” “Sewe,” antwoord hulle. Toe gee Hy die mense bevel om op die grond te gaan sit. Nadat Hy die sewe brode geneem en God gedank het, het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee om uit te deel, en hulle het dit aan die mense voorgesit. Hulle het ook 'n paar vissies gehad; en nadat Hy die seën gevra het, het Hy gesê hulle moet dit ook uitdeel. Die mense het geëet en genoeg gekry. En hulle het nog sewe mandjies vol bymekaargemaak van die stukke wat oorgebly het. Daar was omtrent vier duisend mense. Daarna het Hy hulle huis toe gestuur. Hy het toe dadelik saam met sy dissipels in die skuit geklim en na die gebied Dalmanuta toe gegaan. Daar kom toe Fariseërs wat met Jesus begin redeneer. Om Hom op die proef te stel, wou hulle van Hom 'n wonderteken uit die hemel hê. Hy het diep gesug en gesê: “Waarom wil hierdie geslag 'n teken hê? Dit verseker Ek julle: Aan hierdie geslag sal beslis nie 'n teken gegee word nie.” Hy het hulle daar laat staan, weer in die skuit geklim en na die oorkant van die see toe gegaan.

Gratis leesplanne en oordenkings oor MARKUS 8:1-13

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid