MARKUS 8:1-13

MARKUS 8:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

In daardie selfde tyd was daar weer 'n keer 'n groot menigte mense by Jesus, en hulle het niks gehad om te eet nie. Hy roep toe sy dissipels nader en sê vir hulle: “Ek kry hierdie mense innig jammer, want hulle is nou al drie dae lank hier by My en hulle het niks om te eet nie. As Ek hulle nou sonder kos huis toe stuur, sal hulle langs die pad beswyk. Party van hulle kom van ver af.” Maar die dissipels sê vir Hom: “Waar sal 'n mens in hierdie verlatenheid genoeg brood vir hulle kan kry?” Hy vra hulle toe: “Hoeveel brood het julle?” “Sewe,” antwoord hulle. Toe gee Hy die mense bevel om op die grond te gaan sit. Nadat Hy die sewe brode geneem en God gedank het, het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee om uit te deel, en hulle het dit aan die mense voorgesit. Hulle het ook 'n paar vissies gehad; en nadat Hy die seën gevra het, het Hy gesê hulle moet dit ook uitdeel. Die mense het geëet en genoeg gekry. En hulle het nog sewe mandjies vol bymekaargemaak van die stukke wat oorgebly het. Daar was omtrent vier duisend mense. Daarna het Hy hulle huis toe gestuur. Hy het toe dadelik saam met sy dissipels in die skuit geklim en na die gebied Dalmanuta toe gegaan. Daar kom toe Fariseërs wat met Jesus begin redeneer. Om Hom op die proef te stel, wou hulle van Hom 'n wonderteken uit die hemel hê. Hy het diep gesug en gesê: “Waarom wil hierdie geslag 'n teken hê? Dit verseker Ek julle: Aan hierdie geslag sal beslis nie 'n teken gegee word nie.” Hy het hulle daar laat staan, weer in die skuit geklim en na die oorkant van die see toe gegaan.

MARKUS 8:1-13 Die Boodskap (DB)

Terwyl Jesus daar rond was, was daar op ’n slag weer so baie mense bymekaar. Hulle het niks by hulle gehad om te eet nie. Jesus roep toe sy getrouste volgelinge eenkant toe en sê: “Ek voel jammer en bekommerd oor die mense. Hulle is nou al drie dae hier by My en hulle het niks meer oor om te eet nie. As Ek hulle nou op ’n leë maag huis toe stuur, is Ek seker gaan party van hulle dit nie maak nie, want hulle bly baie ver.” Sy volgelinge sê toe: “Waar op aarde gaan ons hier in die grammadoelas kos kry vir so baie mense?” “Hoeveel kos het ons?” vra Jesus. “Ons het sewe brode,” kom die antwoord. Jesus vra die mense toe om almal op die grond te gaan sit. Hy het vir God dankie gesê vir die kos en die brood begin deel. Die dissipels het die stukke brood vir die mense uitgedeel. Daar was ’n paar klein vissies ook. Ook daarvoor het Jesus vir God dankie gesê en dit onder die mense uitgedeel. Die mense het geëet tot hulle genoeg gehad het. Na die tyd het die dissipels die kos wat oorgebly het, bymekaargemaak - dit was sewe houers vol. Daar was altesaam omtrent 4 000 mense. Toe hulle klaar geëet het, het Jesus die mense gevra om huis toe te gaan. Hy en sy getrouste volgelinge is met die skuit na die gebied van Dalmanuta toe. Daar kom Jesus toe ’n klompie godsdienstige Jode teë wat hulleself Fariseërs noem. Hulle wou met Hom kom stry. Om te kyk of Hy nie dalk iets verkeerds sal doen of sê nie, vra hulle Hom toe om vir hulle iets te doen as bewys dat God aan sy kant is. Met ’n swaar sug sê Jesus toe: “Waarom soek hierdie mense net heeltyd na iemand wat buitengewone dinge kan doen? Laat Ek nou vir julle sê: so ’n bewys gaan Ek nie vir julle gee nie.” Jesus het die stryerige Jode daar gelos, in die skuit geklim en na die ander kant van die See van Galilea gevaar.

MARKUS 8:1-13 Bybel vir almal (ABA)

In daardie tyd was daar weer 'n groot klomp mense saam met Jesus en hulle het niks kos gehad nie. Jesus het sy dissipels na Hom toe geroep en vir hulle gesê: “Ek voel baie jammer vir al hierdie mense, want hulle is al drie dae by My en hulle het niks kos nie. As Ek hulle nou honger wegstuur huis toe, dan sal hulle flou word voordat hulle by die huis is. Party van hulle het van ver gekom.” Jesus se dissipels het vir Hom gevra: “Waar sal ons genoeg brood kry vir al die mense? Ons is ver van 'n stad, hier woon niemand nie.” Jesus vra toe vir hulle: “Hoeveel brood het julle?” En hulle sê vir Hom: “Ons het sewe brode.” Jesus het toe vir al die mense gesê hulle moet op die grond gaan sit om te eet. Hy het die sewe brode geneem en vir God dankie gesê daarvoor. Daarna het Hy die brood in stukke gebreek en dit vir sy dissipels gegee om vir al die mense te gee, en hulle het dit vir die mense gegee. Hulle het ook 'n paar vissies gehad. Jesus het dit geneem en weer vir God dankie gesê. Toe het Hy gesê sy dissipels moet die vis ook vir die mense gee. Al die mense het genoeg geëet. Sy dissipels het die stukkies bymekaargemaak wat oorgebly het. Dit was sewe groot mandjies vol. Daar was omtrent 4 000 mense wat geëet het. Toe het Jesus almal huis toe gestuur. Jesus en sy dissipels het toe dadelik in 'n boot geklim en na plekke naby die stad Dalmanuta gegaan. Daar kom toe Fariseërs en hulle het met Jesus begin stry. Hulle wou Hom toets en kyk wat Hy doen. Daarom het hulle vir Hom gevra om 'n wonderteken te wys wat van God kom. Jesus het gesug en gesê: “Hoekom wil die mense wat nou lewe, 'n wonderteken sien? God sal nie 'n wonderteken vir hulle wys nie. Dit is seker.” Jesus het weggegaan van die Fariseërs. Hy het weer in die boot geklim en na die ander kant van die see gegaan.

MARKUS 8:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

IN dié dae toe daar 'n baie groot menigte was en hulle niks gehad het om te eet nie, het Jesus sy dissipels na Hom geroep en vir hulle gesê: Ek voel innig jammer vir die skare, omdat hulle al drie dae by My bly en niks het om te eet nie. En as Ek hulle honger huis toe stuur, sal hulle op die pad beswyk, want sommige van hulle kom van ver. En sy dissipels antwoord Hom: Waarvandaan sal 'n mens hulle hier in die woestyn kan versadig met brood? Toe vra Hy hulle: Hoeveel brode het julle? En hulle sê: Sewe. En Hy gee aan die skare bevel om op die grond te gaan sit; daarop neem Hy die sewe brode, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels om dit voor te sit; en hulle sit dit aan die skare voor. Hulle het ook 'n paar vissies gehad; en nadat Hy gedank het, sê Hy dat hulle dit ook moet voorsit. En hulle het geëet en versadig geword en die oorskot van die brokstukke opgetel, sewe mandjies vol. En die wat geëet het, was omtrent vierduisend. En Hy het hulle weggestuur. EN dadelik het Hy met sy dissipels in die skuit geklim en in die streke van Dalmanúta gekom. En die Fariseërs het uitgegaan en met Hom begin redetwis en van Hom 'n teken uit die hemel gevra om Hom te versoek. Toe sug Hy swaar in sy gees en sê: Waarom begeer hierdie geslag 'n teken? Voorwaar Ek sê vir julle, aan hierdie geslag sal sekerlik geen teken gegee word nie. En Hy het hulle verlaat en weer in die skuit geklim en na die oorkant gegaan.

MARKUS 8:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe daar gedurende daardie dae weer 'n groot skare was en hulle niks gehad het om te eet nie, het Jesus die dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Ek voel innig jammer vir die skare, want hulle is reeds drie dae by My en het niks om te eet nie. As Ek hulle honger huis toe stuur, sal hulle op pad beswyk. Sommige van hulle kom immers van ver af.” Sy dissipels het Hom egter geantwoord: “Waar in hierdie verlate plek sal mens brood kan kry om hulle te versadig?” Hy vra hulle toe: “Hoeveel brode het julle?” Hulle antwoord: “Sewe.” Toe beveel Hy die skare om op die grond te gaan sit. Nadat Hy die sewe brode geneem en gedank het, breek Hy dit en gee vir sy dissipels om voor te sit, en hulle het dit aan die skare voorgesit. Hulle het ook 'n paar vissies gehad. Nadat Hy die seëngebed daaroor uitgespreek het, het Hy gesê dat hulle ook dit moet voorsit. Die mense het geëet en versadig geword, en van die stukke wat oorgebly het, sewe mandjies vol opgetel. Daar was ongeveer vierduisend mense. Daarna het Hy hulle weggestuur. Hy het dadelik in 'n boot geklim en saam met sy dissipels na die streek van Dalmanuta gegaan. Die •Fariseërs het na vore getree en begin om met Hom te redeneer. Om Hom te toets, het hulle Hom 'n teken uit die hemel gevra. Hy het in sy binneste diep gesug en gesê: “Waarom vra hierdie geslag 'n teken? •Amen, Ek sê vir julle: Aan hierdie geslag sal beslis geen teken gegee word nie.” Hy het hulle verlaat, weer in die skuit geklim en na die oorkant vertrek.

MARKUS 8:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

In daardie dae toe die skare baie groot was en niks gehad het om te eet nie, het Jesus sy dissipels na Hom geroep en vir hulle gesê: Ek ontferm my oor die skare, want hulle is nou drie dae by my en het niks om te eet nie. En as Ek hulle vassend na hul huise wegstuur, sal hulle op die pad beswyk, want verskillende van hulle het van ver af gekom. En sy dissipels antwoord Hom: Waarvandaan kan iemand hierdie manne hier in die woestyn met brood versadig? En hy vra hulle: Hoeveel brode het julle? En hulle sê: Sewe. En Hy het die volk bevel gegee om op die grond te gaan sit; en Hy het die sewe brode geneem en gedank en gebreek en aan sy dissipels gegee om hulle voor te sit; en hulle het hulle voor die volk gestel. En hulle het 'n paar klein vissies gehad, en hy het geseën en bevel gegee om hulle ook voor hulle te sit. Hulle het toe geëet en versadig geword, en van die gebreekte vleis wat oorgebly het, het hulle sewe mandjies opgetel. En die wat geëet het, was omtrent vier duisend, en hy het hulle weggestuur. En dadelik het Hy saam met sy dissipels in 'n skip geklim en in die streke van Dalmanutha gekom. En die Fariseërs het uitgegaan en met Hom begin ondervra en van Hom 'n teken uit die hemel gesoek om Hom te versoek. En hy het diep in sy gees gesug en gesê: Waarom soek hierdie geslag na 'n teken? Voorwaar Ek sê vir julle, aan hierdie geslag sal geen teken gegee word nie. En hy het hulle verlaat en in die skip geklim en weer na die oorkant vertrek.

MARKUS 8:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ongeveer dieselfde tyd was daar weer ’n groot menigte mense by Jesus. Omdat hulle nie kos gehad het nie, het Jesus sy dissipels nadergeroep met die woorde: “Ek is baie jammer vir hierdie mense, want hulle is nou al drie dae by My en het niks om te eet nie. As Ek hulle met leë mae huis toe stuur, gaan hulle langs die pad van honger doodgaan. Party van hulle kom ook nog van ver af.” Sy dissipels antwoord Hom toe: “Hoe op aarde sal ons in hierdie verlate wêreld kos kry vir al hierdie mense?” “Hoeveel brode het julle?” het Hy gevra. “Sewe,” was hulle antwoord. Hy sê toe almal moet op die grond gaan sit. Daarop neem Jesus die sewe brode, dank God daarvoor, breek dit en gee dit aan sy dissipels, wat dit weer onder die skare uitdeel. Hulle het ook ’n paar vissies gehad. Nadat Jesus die seën oor die vissies uitgespreek het, het Hy gesê dat dit ook uitgedeel moes word. Hulle het geëet totdat hulle versadig was. Van die oorskiet van die brood het hulle nog sewe mandjies vol opgetel. Daar was omtrent 4 000 mense. Daarna het Hy hulle huis toe gestuur. Toe het Hy dadelik saam met sy dissipels in die boot geklim en die see oorgesteek na die omgewing van Dalmanuta. Toe die Fariseërs hoor van Jesus se aankoms, het hulle met Hom begin argumenteer. Om die egtheid van Jesus se aansprake te toets dring hulle toe by Hom aan op ’n goddelike wonderteken. Jesus sug toe diep en sê: “Waarom wil julle mense so graag ’n wonderteken hê? Ek verseker julle, Ek gaan aan hierdie bose geslag mense geen teken gee nie.” Hy het hulle toe net daar gelos, in die skuit geklim en weer na die oorkant toe vertrek.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid