MATTEUS 7:13-29

MATTEUS 7:13-29 AFR83

“Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.” “Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. Kry 'n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels? Elke goeie boom dra tog goeie vrugte, maar 'n slegte boom dra slegte vrugte. 'n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie, en 'n slegte boom nie goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle die vals profete dan aan hulle vrugte ken.” “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.” “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met 'n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots. En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met 'n dwaas wat sy huis op sand gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.” Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos 'n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie.

Gratis leesplanne en oordenkings oor MATTEUS 7:13-29

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid