MATTEUS 16:6-19

MATTEUS 16:6-19 AFR83

Jesus het vir hulle gesê: “Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.” Hulle het toe met mekaar daaroor gepraat en gesê: “Dit is omdat ons nie brood saamgebring het nie.” Jesus het geweet wat hulle praat, en Hy sê vir hulle: “Kleingelowiges! Hoekom praat julle met mekaar daaroor dat julle nie brood het nie? Verstaan julle nog nie en onthou julle nie die vyf brode vir die vyf duisend en hoeveel mandjies vol julle bymekaargemaak het nie? En die sewe brode vir die vier duisend en hoeveel mandjies vol julle bymekaargemaak het nie? Hoe is dit dan dat julle nie verstaan dat Ek nie met julle oor brood gepraat het nie? Ek het gesê: Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.” Toe het hulle verstaan dat Hy nie bedoel het dat hulle vir gewone suurdeeg op hulle hoede moet wees nie maar vir die leer van die Fariseërs en die Sadduseërs. Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?” Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.” “Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” “Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie 'n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid