LUKAS 19:28-44

LUKAS 19:28-44 AFR83

Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy voor hulle uit geloop, op pad na Jerusalem toe. Toe Hy naby Betfage en Betanië kom, teen die Olyfberg, stuur Hy twee van sy dissipels vooruit met die opdrag: “Gaan na die dorpie toe daar reg voor julle. Net soos julle inkom, sal julle daar 'n jong donkie kry wat vasgemaak staan. Geen mens het nog ooit op hom gery nie. Maak hom los en bring hom hier. En as iemand vir julle vra: ‘Waarom maak julle hom los?’ moet julle antwoord: Die Here het hom nodig.” Die twee wat gestuur is, gaan toe en kry alles net soos Hy vir hulle gesê het. Terwyl hulle die donkie losmaak, vra sy eienaars vir hulle: “Waarom maak julle die donkie los?” Hulle antwoord: “Die Here het hom nodig.” Toe bring hulle die donkie na Jesus toe. Daarna gooi hulle van hulle klere op sy rug en help Jesus opklim. Terwyl Hy aanry, het hulle van hulle klere op die pad oopgegooi. Toe Hy naby die stad kom, teen die afdraand van die Olyfberg, het die hele skare juigende volgelinge God uit volle bors begin prys oor al die wonderwerke wat hulle gesien het. Hulle het gesing: “Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom! Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel!” 'n Paar Fariseërs uit die skare sê toe vir Jesus: “Meneer, maak stil u volgelinge!” Maar Hy antwoord: “Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.” Toe Hy nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil en gesê: “As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor. Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër. Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid