LEVITIKUS 15

15
Onreinheid by mans en vrouens
1Die Here het vir Moses en Aäron gesê: 2“Sê vir die Israeliete: Enige abnormale afskeiding uit die geslagsorgaan van 'n man is onrein. 3Hy is self ook onrein solank die afskeiding duur. Of dit nou 'n aanhoudende of 'n periodieke afskeiding is, dit maak hom onrein. 4'n Bed waarop so iemand lê, of enigiets waarop hy sit, word onrein. 5Enigiemand wat aan die bed raak, moet sy klere was en hom bad. Hy is die res van die dag onrein. 6Wanneer iemand op iets sit waarop die man met die afskeiding gesit het, moet so 'n persoon sy klere was en hom bad. Hy is die res van die dag onrein. 7Wanneer iemand raak aan 'n man wat 'n afskeiding het, moet so 'n persoon sy klere was en hom bad. Hy is die res van die dag onrein. 8Wanneer 'n man met 'n afskeiding op 'n rein persoon spoeg, moet die persoon sy klere was en hom bad. Hy is die res van die dag onrein. 9Enige saal waarop die man ry wat die afskeiding het, is onrein, 10en elkeen wat aan iets raak waarop die man gesit het, is die res van die dag onrein. Enigiemand wat iets optel waarop die man gesit het wat die afskeiding het, moet bad en sy klere was. Hy is die res van die dag onrein. 11Enigiemand aan wie 'n man met 'n afskeiding raak sonder dat hy sy hande eers afgespoel het, moet bad en sy klere was. Hy is die res van die dag onrein. 12Alle kleipotte waaraan die man raak wat die afskeiding het, moet gebreek word, maar gebruiksartikels van hout moet afgespoel word.
13“As 'n man wat 'n afskeiding het, gesond word, moet hy sewe dae wag voordat hy rein verklaar kan word. Hy moet sy klere was en hom in lopende water bad. Daarna is hy rein. 14Op die agste dag moet hy met twee tortelduiwe of twee ander duiwe na die ingang van die tent van ontmoeting toe gaan en hulle in die teenwoordigheid van die Here vir die priester gee. 15Die priester moet die een vir 'n sondeoffer en die ander vir 'n brandoffer gebruik om vir die man wat die afskeiding gehad het, versoening te doen by die Here.
16“As 'n man 'n normale saadafskeiding het, moet hy hom bad. Hy is die res van die dag onrein. 17Enige linne of leer waarop die saad kom, moet ook gewas word en is die res van die dag onrein. 18Wanneer 'n man en 'n vrou geslagtelike omgang gehad het, moet altwee bad. Hulle is die res van die dag onrein.
19“Met 'n normale menstruasie is 'n vrou sewe dae onrein. Enigiemand wat aan haar raak, is die res van die dag onrein. 20Enigiets waarop sy lê of sit gedurende die sewe dae, is onrein. 21-22Enige persoon wat aan haar bed raak of aan iets waarop sy gesit het, moet sy klere was en hom bad. Hy is die res van die dag onrein. 23As iemand aan iets raak wat op haar bed lê of aan iets waarop sy gesit het, is hy ook die res van die dag onrein. 24As 'n man dit sou waag om met haar geslagsgemeenskap te hê, word haar onreinheid op hom oorgedra en is hyself ook sewe dae onrein. Enige bed waarop hy lê, is ook onrein.
25“As 'n vrou 'n bloedvloeiing het buite haar menstruasietyd of as die bloedvloeiing tydens menstruasie abnormaal lank aanhou, is sy onrein solank die bloedvloeiing duur. 26Net soos met menstruasie is enige bed waarop sy lê of enigiets waarop sy gedurende dié tyd sit, onrein. 27Elkeen wat daaraan raak, is onrein. Hy moet sy klere was en hom bad en hy is die res van die dag onrein. 28Wanneer die bloedvloeiing ophou, moet sy sewe dae wag voordat sy rein verklaar kan word. 29Op die agste dag moet sy dan twee tortelduiwe of twee ander duiwe na die priester toe bring by die ingang van die tent van ontmoeting. 30Die priester moet die een as 'n sondeoffer en die ander as 'n brandoffer gebruik om vir haar versoening te doen by die Here oor die onreinheid wat deur die vloeiing veroorsaak is.
31“Julle moet die Israeliete streng laat hou by hierdie reinheidsvoorskrifte, anders sal hulle dalk my heiligdom wat by hulle is, ontwy. As dit gebeur, sal hulle sterwe.”
32Die voorafgaande voorskrifte reël die geval wanneer 'n man 'n afskeiding of saadstorting het wat hom onrein maak, 33en wanneer 'n vrou menstrueer, dit wil sê enige geval van 'n afskeiding uit die geslagsorgaan van 'n man of 'n vrou en ook wanneer 'n man met 'n onrein vrou geslagsgemeenskap het.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid