JOËL 3:1-21

JOËL 3:1-21 AFR83

In daardie tyd sal Ek al die nasies bymekaarmaak; dit is die tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem sal verander. Dan sal Ek die nasies in die Josafatlaagte afbring en daar sal Ek hulle straf omdat hulle my volk, Israel wat aan My behoort, onder die nasies verstrooi het en my land vir hulle gevat het. Ek sal hulle straf omdat hulle lootjies getrek het oor my volk, omdat hulle 'n jong seun gegee het in ruil vir 'n hoer en jong meisies verkoop het vir wyn om te drink. En júlle, Tirus en Sidon en die hele gebied van die Filistyne, wat is julle vir My? Wil julle julle op My wreek vir wat julle aangedoen is? As julle julle op My wil wreek, sal Ek gou optree en julle dade op julle eie kop laat afkom. Julle het my silwer en my goud gevat, julle het my kosbare skatte in julle tempels gebring. Julle het die mense van Juda en Jerusalem in Griekeland gaan verkoop, julle het hulle ver weg uit hulle gebied uit weggevat, maar Ek sal hulle laat uitbreek uit daardie plek uit, die plek waarnatoe julle hulle verkoop het, en dan sal Ek julle dade op julle eie kop laat afkom. Ek sal julle seuns en dogters verkoop aan die mense van Juda, en hulle sal julle kinders verkoop aan die mense van Skeba, 'n nasie wat ver van hier af is. Die Here het dit gesê. Sê vir die nasies: “Maak julle klaar vir 'n oorlog, roep julle dapper manne op! Al julle soldate moet opruk en nader storm. Maak swaarde van julle ploegskare, en spiese van julle snoeiskêre. Selfs die swakke moet sê: ‘Ek is 'n dapper soldaat!’ Maak gou en kom, al julle nasies van die omgewing.” Laat hulle bymekaarkom, en bring u leërmag af daarheen, Here! Die nasies moet aanstorm en opruk na die Josafatlaagte toe, want dáár sal Ek sit om al die nasies van die omgewing te straf. Hulle sondes is baie: steek die sekel in, want die oes is ryp, kom trap, die parskuip is vol, die wynkuipe loop oor. Daar is mense en nogmaals mense in die beslissingslaagte, want naby is die dag waarop die Here sal straf in die beslissingslaagte. Die son en die maan sal donker word, die sterre sal nie meer skyn nie. Die Here sal uit Sion brul, Hy sal sy stem uit Jerusalem laat hoor, en hemel en aarde sal bewe. Die Here is 'n toevlug vir sy volk, 'n veilige vesting vir die Israeliete. Dan sal julle besef dat Ek, die Here, julle God is. Ek woon op Sion, my heilige berg. Dan sal Jerusalem heilig wees, vreemde nasies sal nie meer daardeur trek nie. Daardie dag sal daar volop wyn wees op die berge, oorvloed melk op die heuwels. In al die slote van Juda sal daar water loop, 'n fontein sal uit die huis van die Here borrel en die Sittimdal natlei. Egipte sal van droogte vergaan, Edom sal 'n onbewoonbare woestyn word, want hulle het die mense van Juda wreed behandel en onskuldige bloed vergiet in hulle land. Maar Juda sal sonder ophou bewoon word en Jerusalem vir altyd. Ek sal my volk se sonde vergewe, die sonde wat Ek nog nie vergewe het nie, en Ek, die Here, sal op Sion woon.

Gratis leesplanne en oordenkings oor JOËL 3:1-21

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid