JOHANNES 12:12-36

JOHANNES 12:12-36 AFR83

Die volgende dag het die groot menigte mense wat na die fees toe gekom het, gehoor dat Jesus na Jerusalem toe kom. Hulle het palmtakke gevat en Hom tegemoet gegaan en uitgeroep: “Prys Hom! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” en: “Die Koning van Israel!” Jesus het toe op 'n jong donkie geklim wat Hy daar gekry het, soos daar geskrywe staan: “Moenie bang wees nie, Sion! Kyk, jou Koning kom, en Hy ry op 'n donkie.” Jesus se dissipels het hierdie dinge eers nie verstaan nie, maar nadat Hy verheerlik is, het hulle daaraan gedink dat wat daar geskrywe staan, op Hom betrekking gehad het en dat dit met Hom gebeur het. Die mense wat by Jesus was toe Hy vir Lasarus uit die graf geroep en hom uit die dood opgewek het, het gedurig daaroor gepraat. Daarom het die menigte vir Jesus tegemoet gegaan: hulle het gehoor dat Hy hierdie wonderteken gedoen het. Die Fariseërs het toe vir mekaar gesê: “Sien julle, julle rig niks uit nie! Kyk, die hele wêreld gaan agter hom aan!” Daar was ook 'n aantal Grieke onder die mense wat fees toe gekom het om te aanbid. Hulle het na Filippus, wat van Betsaida in Galilea afkomstig was, gegaan en vir hom gevra: “Meneer, ons wil Jesus graag ontmoet.” Filippus het gegaan en dit vir Andreas vertel. Andreas en Filippus gaan toe en sê dit vir Jesus. Daarop sê Jesus vir hulle: “Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. Dít verseker Ek julle: As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy 'n groot oes in. Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer. “Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur. Vader, verheerlik u Naam!” Toe het daar 'n stem uit die hemel gekom: “Ek het my Naam verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.” Die mense wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar 'n donderslag was. Ander het gesê: “'n Engel het met hom gepraat.” Toe sê Jesus: “Hierdie stem het nie om my ontwil gekom nie, maar om julle ontwil. Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe. En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.” Dit het Hy gesê en daarmee ook aangedui op watter manier Hy sou sterwe. Die mense sê toe vir Hom: “Ons het uit die Skrif geleer dat die Christus vir ewig gaan bly. Hoe sê u nou dat die Seun van die mens verhoog moet word? En hierdie Seun van die mens, wie is hy?” Toe sê Jesus vir hulle: “Nog net 'n kort tydjie is die lig by julle. Lewe in die lig terwyl julle dit het sodat die duisternis julle nie oorval nie. Wie in die duisternis lewe, weet nie waar hy gaan uitkom nie. Terwyl julle die lig het, moet julle in die lig glo, sodat julle mense van die lig kan wees.” Dit het Jesus gesê en daarna van hulle af weggegaan en Hom skuil gehou.

Gratis leesplanne en oordenkings oor JOHANNES 12:12-36

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid