JOHANNES 12:1-11

JOHANNES 12:1-11 AFR83

Ses dae voor die paasfees het Jesus na Betanië toe gekom, waar Lasarus wat Hy uit die dood opgewek het, gewoon het. Daar het hulle vir Jesus 'n ete gegee. Marta het bedien, en Lasarus was een van dié wat saam met Hom aan tafel was. Toe het Maria 'n halfliter egte, baie duur nardusolie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie. Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai, sê toe: “Waarom is hierdie reukolie nie vir drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir die armes gegee nie?” Dit het hy gesê, nie omdat hy hom oor die armes bekommer het nie, maar omdat hy 'n dief was. Hy het die beursie gehad en het van die bydraes gevat. Toe sê Jesus: “Laat staan haar. Sy moes dit hou vir hierdie dag om My te salf vir my begrafnis. Die armes het julle tog altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.” Baie van die Jode het verneem dat Jesus daar is en het daarheen gekom, nie net ter wille van Jesus nie, maar ook om vir Lasarus te sien wat Hy uit die dood opgewek het. Die priesterhoofde het toe besluit om ook vir Lasarus dood te maak, omdat baie van die Jode deur hom na Jesus toe oorgeloop en in Hom geglo het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid