RIGTERS 2:6-23

RIGTERS 2:6-23 AFR83

Nadat Josua die volk laat gaan het, het hulle die land gaan verower en daarna het elkeen na sy grond toe gegaan. So lank as Josua geleef het, het die volk die Here gedien. Dit was ook nog so terwyl die leiers geleef het wat vir Josua oorleef het. Hulle het nog al die groot dade beleef wat die Here gedoen het om vir Israel te help. Josua, seun van Nun en dienaar van die Here, het honderd en tien jaar oud geword. Hy het gesterf, en hy is begrawe op sy grond in Timnat-Geres op die Efraimsberge noord van Gaäsberg. Al die mense van sy leeftyd het gesterf, en die volgende geslag se mense het nie die Here geken nie. Hulle het ook nie geweet van sy groot dade wat Hy gedoen het om vir Israel te help nie. Die Israeliete het toe gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here: hulle het die Baäls gedien. Hulle het opgehou om die Here die God van hulle voorvaders, wat hulle uit Egipte laat trek het, te dien. Hulle het ander gode begin dien, van die gode van die nasies in die omgewing. Die Israeliete het hierdie gode aanbid en die Here getart. Hulle het opgehou om die Here te dien en hulle het die Baäls en die Astartes gedien. Toe het die Here kwaad geword vir Israel en hulle oorgegee in die mag van roofbendes deur wie Israel beroof is. Die Here het hulle ook uitgelewer aan die vyande in die omgewing. Die Israeliete kon nie meer teen hulle vyande standhou nie. In watter rigting die Israeliete ook al gaan veg het, die Here het hulle teëgestaan. Dit is wat Hy voorheen vir hulle met 'n eed bevestig het. Die Israeliete het baie swaar gekry. Maar die Here het leiers na vore laat kom en dié het die volk gered uit die mag van die mense deur wie hulle beroof is. Die volk het ook nie na hulle leiers geluister nie. Die volk was ontrou aan die Here en het ander gode aanbid en baie gou die pad van hulle voorvaders verlaat en ongehoorsaam geword aan die gebooie van die Here. Wanneer die Here vir hulle leiers na vore laat kom het, was Hy by die leiers en so het Hy die volk gered uit die mag van hulle vyande. So was dit so lank as die leier geleef het, want die Here het medelye gehad met sy volk wanneer hulle om hulp geroep het oor hulle vyande deur wie hulle verdruk is. Maar na die leier se dood het hulle nog erger as hulle voorvaders gehandel en ander gode aangehang en gedien en aanbid. Hulle het nie hulle verkeerde dade en hulle hardkoppigheid laat vaar nie. Dan het die Here kwaad geword vir die Israeliete en gesê: “Omdat hierdie volk hulle nie steur aan die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het en My nie gehoorsaam nie, sal Ek uit die nasies wat nie deur Josua voor sy dood oorwin is nie, nie verder 'n enkele mens verdryf om vir die Israeliete plek te maak nie. Ek wil hulle met hierdie nasies op die proef stel om te sien of die Israeliete so gehoorsaam sal wees aan my wil soos hulle voorvaders en daarvolgens sal lewe of nie.” Daarom het die Here hierdie nasies met rus gelaat en hulle nie dadelik verslaan en in Josua se mag oorgegee nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid