EKSODUS 39:1-31

EKSODUS 39:1-31 AFR83

Van die blou, pers en bloedrooi wolstof het Besaleël en sy helpers die geborduurde klere gemaak wat in die diens van die heiligdom gebruik is. Soos die Here vir Moses beveel het, het hulle vir Aäron ampsklere gemaak en dit gewy. Die skouerkleed is gemaak van gouddraad, blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne. Hulle het bladgoud gemaak en dit in drade opgesny en ingeborduur in die blou, die pers en die bloedrooi wolstof en in die goed geweefde linne. Dit was die werk van 'n vakman. Hulle het vir die skouerkleed twee bande gemaak om dit aan die punte oor die skouer aanmekaar vas te maak. Die gordel wat oor die skouerkleed gekom het, was van dieselfde gehalte en daarvoor het hulle ook gouddraad, blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne gebruik, soos die Here vir Moses beveel het. Hulle het oniks verwerk en gemonteer in goud. Die name van die seuns van Israel is daarop gegraveer, soos 'n vakman dit op 'n seëlring doen. Die stene is op die skouerbande van die skouerkleed vasgewerk sodat die stene kan herinner aan die stamme van Israel. Dit alles is gedoen soos die Here vir Moses beveel het. Hulle het ook 'n borssak uitgeborduur soos die skouerkleed, die werk van 'n vakman, gemaak van gouddraad, blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne. Die borssak is dubbel gevou, vyf en twintig sentimeter in die vierkant. Hierop het hulle vier rye edelstene gemonteer. Die eerste ry het bestaan uit 'n karneool, 'n topaas en 'n smarag; die tweede uit 'n turkoois, 'n saffier en 'n jaspis; die derde uit 'n hiasint, 'n agaat en 'n ametis, en die vierde uit 'n chrisoliet, 'n oniks en 'n opaal. Die hele montering was van goud. Daar was twaalf stene, een vir elke naam van die twaalf stamme van Israel. Die name van al twaalf stamme is daarop gegraveer soos op 'n seëlring. Hulle het toe van suiwer goud vir die borssak kettinkies gemaak, gedraai soos tou. Hulle het ook twee goue monterings en twee goue ringe gemaak. Die twee ringe is agter aan die twee boonste hoeke van die borssak vasgewerk en aan elkeen van hierdie ringe aan die hoeke van die borssak is 'n goue kettinkie vasgemaak. Die ander twee punte van die kettinkies is aan die twee monterings aan die voorkant van die skouerbande van die skouerkleed vasgemaak. Hulle het nog twee goue ringe gemaak en dit vasgewerk aan die onderste hoeke van die borssak, aan die agterkant waar dit teen die skouerkleed is. Hulle het nog twee ander goue ringe gemaak en dit aan die twee skouerbande van die skouerkleed vasgesit, laag af aan die voorkant, aan die naat net bo die gordel. Die ringe van die borssak is met 'n blou toutjie aan die ringe van die skouerkleed vasgemaak, net bokant die gordel van die skouerkleed, sodat die borssak nie van die skouerkleed af wegskuif nie. Dit alles is gedoen volgens die voorskrif van die Here aan Moses. Die mantel wat saam met die skouerkleed gedra word, is as een stuk blou wolstof geweef. In sy middel was daar 'n opening omgeboor, sterk soos 'n pantserhemp dat dit nie kan skeur nie. Vir die some van die mantel het hulle granaatjies gemaak van goed geweefde blou, pers en bloedrooi wolstof. Dan het hulle ook klokkies van suiwer goud gemaak en die klokkies tussen die granaatjies rondom die hele soom van die mantel vasgewerk, een klokkie tussen elke twee granaatjies. Die mantel was vir diens bestem soos die Here dit vir Moses beveel het. Hulle het ook priesterklere van linne geweef vir Aäron en sy seuns, asook 'n tulband en mooi kopdoeke van linne, en linnebroeke van goed geweefde linne. Hulle het ook 'n serp gemaak van goed geweefde linne, blou, pers en bloedrooi wolstof. Dit was weefwerk, soos die Here vir Moses beveel het. Hulle het 'n blom van suiwer goud vir die gewyde tulband gemaak en daarop, soos op 'n seëlring, gegraveer: Aan Die Here Gewy. Dit is met 'n blou toutjie aan die voorkant van die tulband vasgemaak, soos die Here vir Moses beveel het.

Gratis leesplanne en oordenkings oor EKSODUS 39:1-31

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid