EKSODUS 34:27-35

EKSODUS 34:27-35 AFR83

Die Here het vir Moses gesê: “Teken al hierdie gebooie op, want hierop berus my verbond met jou en Israel.” Moses was veertig dae en nagte by die Here. In dié tyd het Moses geen kos geëet of water gedrink nie. Hy het die verbondsbepalings, die tien gebooie, op die plat klippe geskryf. Toe hy van Sinaiberg af gaan met die twee plat klippe in sy hand, die klippe waarop die getuienis was, was hy nie daarvan bewus dat sy gesig blink geword het terwyl die Here met hom gepraat het nie. Toe Aäron en die Israeliete opmerk dat sy gesig blink, was hulle bang om naby hom te kom. Eers toe Moses hulle nader roep, het Aäron en al die leiers van die volk na hom toe gekom, en hy het met hulle gepraat. Daarna het al die Israeliete nader gekom, en hy het hulle alles beveel wat die Here vir hom op Sinaiberg gesê het. Toe Moses klaar met hulle gepraat het, het hy sy gesig met 'n doek toegemaak. Wanneer Moses na die Here toe gaan om met Hom te praat, verwyder hy die doek tot na sy terugkoms. Wanneer hy van die Here af terugkom, sê hy vir die Israeliete wat die Here hom beveel het. Wanneer die Israeliete sy gesig sien blink, trek Moses die doek oor sy gesig totdat hy weer met die Here gaan praat.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid