EKSODUS 30:1-21

EKSODUS 30:1-21 AFR83

“Jy moet 'n altaar van doringhout maak om daarop wierook te brand. Dit moet 'n half meter in die vierkant wees en 'n meter hoog. Sy horings moet 'n eenheid daarmee vorm. Jy moet die bokant, die sye rondom, en die horings met suiwer goud oortrek en 'n goue lys rondom die altaar vassit. Jy moet twee goue ringe vir elke kant maak en dit aan weerskante teenoor mekaar, onderaan die lys vassit om die draaghoute waarmee jy die altaar moet dra, daardeur te steek. Jy moet die draaghoute van doringhout maak en hulle met goud oortrek. Sit die altaar dan neer voor die voorhangsel wat hang voor die ark met die getuienis, voor die deksel op die getuienis waar Ek jou sal ontmoet. Elke oggend wanneer Aäron die lampe versorg, moet hy geurige wierook op die altaar brand. Elke aand wanneer hy die lampe aansteek, moet hy wierook brand. Die wierookoffer moet altyd, ook deur julle nageslag, vir My, die Here, gebring word. “Julle mag nie ongeoorloofde wierook op die wierookaltaar brand nie, ook nie brandoffers of graanoffers nie, en nie 'n drankoffer daarop uitgiet nie. “Aäron moet een keer per jaar op die horings van die altaar versoening doen met die bloed van die sondeoffer. Ook julle nageslag moet een keer per jaar op die horings versoening doen. Die altaar is op 'n besondere manier gewy aan My, die Here.” Die Here het verder vir Moses gesê: “Wanneer jy die Israeliete tel, moet elkeen wanneer hy getel word, 'n versoeningsoffer vir sy lewe aan My, die Here, offer. Dan sal hy nie deur 'n ramp getref word wanneer hy getel word nie. “Elkeen wat kom om getel te word, moet met silwer betaal, ses gram volgens die standaardgewig van die heiligdom. Die ses gram is 'n offergawe vir My, die Here. Elkeen van twintig jaar en ouer wat kom om getel te word, moet die offergawe vir My bring. “Die ryke moet nie meer en die arme nie minder as die offergawe van ses gram silwer vir My bring as versoeningsoffer vir sy lewe nie. Jy moet die versoeningsgeld by die Israeliete insamel en dit aan die priesters gee vir die diens in die tent van ontmoeting. Die versoeningsgeld sal My, die Here, laat dink aan die Israeliete en sal hulle lewens loskoop.” Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet 'n bronswaskom met 'n bronsvoetstuk maak om in te was. Sit dit tussen die tent van ontmoeting en die altaar neer en gooi water daarin. Aäron en sy seuns moet hulle hande en voete daarin was. Voordat hulle in die tent van ontmoeting ingaan, moet hulle hulle met die water was sodat hulle nie sterf nie. Voordat hulle na die altaar toe kom vir hulle diens om 'n vuuroffer vir My, die Here, aan die brand te steek, moet hulle hulle hande en hulle voete was sodat hulle nie sterf nie. Dit is 'n blywende voorskrif vir hulle en vir hulle nageslagte.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor EKSODUS 30:1-21

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid