EKSODUS 24

24
Die verbond word beseël
1Die Here het vir Moses gesê: “Klim die berg op na My toe: jy, Aäron, Nadab, Abihu en sewentig leiers van Israel. As julle nog ver is, moet julle al voor My buig. 2Dan moet jy, Moses, alleen nader kom na My toe. Die ander moenie saam met jou nader kom nie. Die volk mag ook nie saam met jou opklim nie.”
3Moses het toe al die gebooie en bepalings van die Here aan die volk gaan bekend maak. Hulle het soos een man gesê: “Ons sal alles doen wat die Here beveel het.”
4Toe het Moses al die gebooie van die Here neergeskryf.
Vroeg die volgende oggend het hy aan die voet van die berg 'n altaar gebou van twaalf klippe, vir die twaalf stamme van Israel. 5Hy het toe van die jong Israeliete gestuur om bulle as brandoffers en maaltydoffers vir die Here te offer. 6Moses het die helfte van die bloed in bakke gehou en die ander helfte op die altaar gesprinkel. 7Hy het die verbondsboek geneem en dit vir die volk voorgelees.
Hulle het gesê: “Ons sal alles doen wat die Here beveel het en daaraan gehoorsaam wees.”
8Moses het toe die bloed gevat en op die volk gesprinkel terwyl hy sê: “Dit is die bloed van die verbond wat die Here op grond van al hierdie gebooie met julle gesluit het.”
9Moses, Aäron, Nadab, Abihu en sewentig leiers van Israel het toe die berg uitgeklim. 10Hulle het die God van Israel gesien: onder sy voete was 'n plaveisel soos saffiersteen, so blou soos die hemel self. 11God het geen hand teen die leiers van Israel gelig nie: hulle het Hom gesien en daarna het hulle geëet en gedrink.
12Toe sê die Here vir Moses: “Klim nou die berg verder uit na My toe en vertoef daar dat Ek vir jou die plat klippe kan gee waarop Ek die wette en gebooie neergeskryf het vir die onderrig van die volk.”
13Moses en sy assistent Josua is toe hoër teen die berg van God op. 14Vir die leiers het Moses gesê: “Wag hier vir ons totdat ons na julle toe terugkom. Aäron en Hur is hier by julle: as iemand 'n probleem het, kan hy na hulle toe gaan.”
15Terwyl Moses die berg uitklim, het 'n wolk dit omhul. 16Die magtige teenwoordigheid van die Here het op Sinaiberg gebly, en ses dae het die wolk die berg omhul.
Op die sewende dag het die Here uit die wolk uit na Moses geroep. 17Die magtige teenwoordigheid van die Here het vir die Israeliete gelyk soos 'n gloeiende vuur op die berg.
18Moses het toe die wolk ingegaan en nog verder boontoe uitgeklim. Hy het veertig dae en nagte daar gebly.

Tans Gekies:

EKSODUS 24: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid