EKSODUS 12:1-14

EKSODUS 12:1-14 AFR83

In Egipte het die Here vir Moses en Aäron gesê: “Hierdie maand is vir julle die belangrikste maand; dit moet die eerste maand van die jaar word. Sê vir die hele gemeente van Israel: Elkeen moet sorg dat hy op die tiende van hierdie maand 'n lam vir sy gesin het, vir elke huisgesin een. As 'n huisgesin te klein is vir 'n lam, kan 'n man en sy naaste buurman dit onder mekaar verdeel volgens die getal persone. Julle moet die lam deel volgens elkeen se behoefte. Dit moet 'n jaaroud rammetjie wees, sonder liggaamsgebrek, 'n skaap of 'n bok. Julle moet hom goed oppas tot die veertiende van hierdie maand, en dan moet die hele gemeente van Israel teen laat middag slag. Julle moet van die bloed smeer aan die sykante en die bokant van die deurkosyn van elke huis waar julle die lam gaan eet. Nog dieselfde nag moet julle die vleis eet. Julle moet dit gebraai eet, saam met ongesuurde brood en bitter kruie. Julle moet dit nie rou of in water gekook eet nie, maar oor die vuur gebraai, met kop, pootjies, binnegoed en al. Julle mag niks daarvan tot die volgende môre laat oorbly nie. As daar die volgende môre tog iets oor is, moet julle dit verbrand. Julle moet dit haastig eet, aangetrek vir die reis, skoene aan die voete en kierie in die hand. Dit is die paasfees van die Here. “Daardie selfde nag sal Ek deur Egipte gaan om al die eerstelinge van die Egiptenaars, mens en dier, te tref. Met al die Egiptiese gode sal Ek afreken. Ek is die Here! Die bloed aan die huise waarin julle is, sal 'n teken wees: waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis oorslaan, en die vernietigende slag waarmee Ek Egipte gaan tref, sal julle nie tref nie. “Hierdie dag moet vir julle 'n gedenkdag wees. Julle moet dit as 'n fees tot eer van die Here vier. Vir julle nageslag moet dit 'n vaste instelling wees wat hulle moet vier.

Gratis leesplanne en oordenkings oor EKSODUS 12:1-14

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid