EKSODUS 1:1-14

EKSODUS 1:1-14 AFR83

Hier volg die name van die Israeliete wat saam met Jakob na Egipte toe gekom het, elkeen met sy gesin: Ruben, Simeon, Levi en Juda; Issaskar, Sebulon en Benjamin; Dan, Naftali, Gad en Aser. Jakob het sewentig afstammelinge gehad. Josef was toe al in Egipte. Met verloop van tyd het hy en al sy broers, daardie hele geslag, gesterwe. Die Israeliete was vrugbaar en het vermeerder. Hulle het baie geword, so baie dat die land vol was van hulle. Toe 'n nuwe koning wat nie van Josef geweet het nie, oor Egipte begin heers, het hy vir sy volk gesê: “Besef julle dat die Israeliete nou meer en sterker is as ons? Kom ons bedink 'n plan teen hulle sodat hulle nie kan vermeerder nie. Anders kan dit gebeur dat as daar oorlog uitbreek, hulle dalk by ons vyand aansluit om teen ons te veg en ons land te oorweldig.” Daar is toe slawedrywers oor hulle aangestel om hulle met dwangarbeid te onderdruk. Hulle moes die voorraadstede Pitom en Rameses vir die farao bou. Maar hoe meer die Israeliete onderdruk is, hoe meer het hulle geword en hoe meer het hulle oor die land versprei, in so 'n mate dat die Egiptenaars baie bang geword het vir hulle. Die Egiptenaars het slawe gemaak van die Israeliete en die lewe vir hulle bitter gemaak deur swaar werk met klei en bakstene en deur allerhande werk in die lande. Hulle moes onder dwang al die slawewerk vir Egipte doen.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid