DEUTERONOMIUM 9:9-21

DEUTERONOMIUM 9:9-21 AFR83

Ek het teen die berg uitgeklim om die plat klippe te gaan ontvang, die plat klippe waarop die Here die bepalings van sy verbond met julle geskryf het. Ek het veertig dae en veertig nagte lank daar gebly en niks geëet of gedrink nie. Die Here het vir my die twee plat klippe gegee waarop met sy eie vinger al die woorde geskryf was wat Hy op die berg uit die vuur uit met julle gepraat het, die dag met die vergadering. Dit was aan die einde van die veertig dae en die veertig nagte dat die Here die twee plat klippe, die plat klippe met die verbondsbepalings daarop, vir my gegee het. “Toe het die Here vir my gesê: ‘Gaan gou ondertoe, want jou volk wat jy uit Egipte laat trek het, het afvallig geword. Hulle het baie gou weggedraai van die koers af wat Ek vir hulle aangewys het, en hulle het vir hulle 'n afgodsbeeld gegiet.’ “Die Here het verder vir my gesê: ‘Ek het gesien dat dit 'n hardkoppige volk is hierdie. Jy moet My nie probeer keer nie. Ek wil hulle uitwis en hulle naam van die aarde af wegvee. Dan sal Ek jou 'n sterk nasie maak, groter as hulle.’ “Toe het ek omgedraai en terwyl die berg gebrand het, het ek afgegaan met die twee klippe van die verbond in my hande. Ek het gesien hoe julle teen die Here julle God gesondig het deurdat julle vir julle 'n beeld in die vorm van 'n bulkalf gemaak het. Julle het baie gou weggedraai van die koers af wat die Here vir julle aangewys het. Ek het die twee plat klippe wat ek in my hande gehad het, flenters gegooi in julle teenwoordigheid. Daarna het ek, soos die eerste keer, veertig dae en veertig nagte lank voor die Here gelê en gebid. Ek het niks geëet en gedrink nie oor die groot sonde wat julle gedoen het. Julle het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en Hom uitgetart. Ek was bang, want die toorn, die gramskap van die Here, het so teen julle ontvlam dat Hy julle wou uitroei. Maar ook hierdie keer het die Here na my geluister. “Die Here was so kwaad vir Aäron dat die Here hom om die lewe wou bring, maar ek het destyds ook vir hom gebid. Ek het daardie gruwelike ding, die kalf wat julle gemaak het, gevat en in die vuur gegooi. Toe het ek dit stukkend geslaan en dit so fyn soos stof gemaal en dit in die spruit gegooi wat van die berg af kom.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid