HANDELINGE 8:4-25

HANDELINGE 8:4-25 AFR83

Die gelowiges wat uitmekaar gejaag is, het so ver as wat hulle gegaan het, die evangelie verkondig. So het dit gebeur dat Filippus by 'n stad in Samaria gekom het en Christus daar verkondig het. Toe die mense hoor wat Filippus verkondig en die wonders sien wat hy doen, het hulle aandagtig na sy prediking geluister. Onrein geeste het met groot geskreeu uit baie mense uitgegaan, en baie wat verlam en kreupel was, is gesond gemaak. Daar was groot blydskap in daardie stad. In dieselfde stad was daar 'n man met die naam Simon, wat die inwoners van Samaria met sy toorkunste verstom het. Hy het daarop aanspraak gemaak dat hy iets besonders is, en almal, klein en groot, het hom aangehang. Hulle het gesê: “Hy is wat ons ‘Die Groot Krag van God’ noem.” Hy het 'n aanhang onder hulle gekry omdat hy hulle oor 'n lang tydperk met sy toorkunste verstom het. Maar toe Filippus die evangelie van die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus aan hulle verkondig het, het hulle gelowig geword, en mans sowel as vrouens is gedoop. Selfs Simon het gelowig geword. Hy is gedoop en het Filippus oral vergesel. Hy was verstom oor die groot tekens en kragte wat hy sien gebeur het. Toe die apostels in Jerusalem hoor dat die mense in Samaria die woord van God aanvaar het, het hulle vir Petrus en Johannes daarheen gestuur. Dié het toe gegaan en vir die mense daar gebid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, want die Gees het nog nie op een van hulle gekom nie; hulle was net in die Naam van die Here Jesus gedoop. Die apostels het hulle die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang. Toe Simon sien dat die mense die Gees ontvang as die apostels hulle die hande oplê, het hy hulle geld aangebied en gesê: “Gee my ook hierdie bevoegdheid sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang.” Maar Petrus antwoord hom: “Gaan na die verderf met jou geld en al! Dink jy jy kan die gawe van God met geld koop? In hierdie werk is daar vir jou geen plek nie, want jou gesindheid teenoor God is nie reg nie. Bekeer jou van hierdie dwaling en bid tot die Here: miskien sal Hy jou hierdie gesindheid van jou hart vergewe. Ek sien jy is deur afguns vergiftig en deur die sonde verstrik.” Toe sê Simon vir die apostels: “Bid júlle tog vir my tot die Here, sodat niks van wat julle gesê het, my tref nie.” So het die apostels dan kragtig getuienis gelewer en die woord van die Here verkondig. Hulle het na Jerusalem toe teruggegaan en onderweg die evangelie in baie dorpe van die Samaritane verkondig.

Gratis leesplanne en oordenkings oor HANDELINGE 8:4-25

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid