2 SAMUEL 23

23
'n Verbond vir altyd
1Hier volg die laaste woorde van Dawid:
“Dit is Dawid seun van Isai wat praat.
Dit is 'n man wat praat, een wat hoog geplaas is,
die gesalfde van die God van Jakob,
die gevierde in die liedere van Israel:
2“Die Gees van die Here het deur my gepraat,
ja, sy woord was op my lippe.
3Die God van Israel het gepraat,
die Rots van Israel het vir my gesê:
‘Hy wat regverdig oor mense heers,
wat regeer in eerbied teenoor God,
4is soos die môrelig as die son opkom
op 'n oggend sonder wolke;
dit skitter na die reën;
die gras skiet op uit die grond.’
5“God het my koningskap goed gevestig,
Hy het aan my 'n verbond vir altyd gegee,
behoorlik opgestel en goed bewaar.
Al my hulp, al my vreugde,
dit kom van Hom af.
6Maar die goddelose is soos doringtakke wat alles weggegooi word;
niemand vat met die hand daaraan nie.
7Wie daarmee werk, doen dit met yster of hout.
In 'n vuur brand hulle heeltemal uit.”
Dawid se dapper manne
(Vgl. 1 Kron. 11:10-47)
8Die volgende dapper manne was by Dawid: Joseb-Bassebet die Tagkemoner was hoof van die driemanskap. Hy het met sy spies ag honderd man in een veldslag laat sneuwel. 9Eleasar seun van Dodo uit Agoag was onder hom. Hy was een van die drie helde by Dawid toe die Filistyne by Garpam bymekaargekom het om te veg. Toe die Israeliete teen die hange uit vlug, 10het hy bly staan en Filistyne afgemaai totdat hy later nie meer sy hand kon oopmaak om sy swaard te los nie. Daardie dag het die Here groot uitkoms gegee. En toe eers het die manskappe vir Eleasar gevolg, net om te plunder.
11Onder hom was Agee se seun Samma, uit Harar. Die Filistyne het bymekaargekom by Legi waar 'n land vol lensies was. Toe die leër vir die Filistyne vlug, 12het hy by daardie akker gaan stelling inneem en dit beskerm. Hy het die Filistyne verslaan, en die Here het groot uitkoms gegee.
13Op 'n keer het drie van die dertig leiers afgetrek en in die oestyd by die Adullamgrot by Dawid aangekom. Die kamp van die Filistyne was in die Spooklaagte. 14Dawid was toe in 'n bergskuiling, en die Filistyne het Betlehem beset.
15Dawid het baie dors geword en gesug: “Ag, as iemand my tog net water uit die put in Betlehem se poort kon laat drink!”
16Die drie helde het toe deur die Filistynse kamp geglip en water uit die put in Betlehem se poort vir Dawid gebring, maar hy wou dit nie drink nie.
Hy het dit as 'n offer vir die Here uitgegiet 17en gesê: “Mag die Here my daarvan bewaar dat ek dit sou drink. Is dit nie so goed as die bloed van die manne wat met lewensgevaar gegaan het nie?”
Daarom wou hy dit nie drink nie.
Dit het die drie helde gedoen.
18Seruja se seun Abisai, die broer van Joab, was die leier van die dertigtal. Hy het met sy spies drie honderd man laat sneuwel. Hy was beroemd onder die dertigtal. 19Ja, onder die dertig was hy hoog geëer, sodat hy hulle aanvoerder geword het. Maar een van die driemanskap het hy nie geword nie.
20Benaja seun van Jojada, seun van Isgai, was afkomstig uit Kabseël. Hy was 'n man van baie dade en het twee sterk manne in Moab doodgemaak. Op 'n sneeudag het hy in 'n droë put afgeklim en 'n leeu daar doodgemaak. 21Hy het ook 'n frisgeboude Egiptenaar doodgeslaan. Die Egiptenaar het nogal 'n spies in sy hand gehad, terwyl Benaja hom net met 'n stok gepak het. Hy het die spies uit die Egiptenaar se hand geruk en hom met sy eie spies van kant gemaak. 22Dit het Benaja seun van Jojada gedoen. Hy was beroemd onder die dertig helde. 23Hy het 'n hoër rang gehad as die res van die dertig, maar een van die driemanskap het hy nie geword nie. Dawid het hom oor sy lyfwag aangestel.
24Asael, Joab se broer, was onder die dertigtal. So ook Elganan seun van Dodo uit Betlehem, 25Samma uit Garod, Elika uit Garod, 26Geles uit Pelet, Ira seun van Ikkes uit Tekoa, 27Abiëser uit Anatot, Sibbekai uit Gusa, 28Salmon uit Agoag, Marai uit Netofa, 29Geled seun van Baäna uit Netofa, Ittai seun van Ribai uit Gibea in Benjamin, 30Benaja uit Piraton, Hiddai uit Nagale-Gaäs, 31Abi-Albon uit Bet-Araba, Asmawet uit Bagurim, 32Eljagba uit Saälbon, die seuns van Jasen, Jonatan, 33Samma uit Harar, Agiam seun van Sarar uit Arar, 34Elifelet seun van Agasbai, seun van iemand uit Maäka, Eliam seun van Agitofel uit Gilo, 35Gesro uit Karmel, Paärai uit Arab, 36Jigal seun van Natan uit Soba, Bani uit Gad, 37Selek die Ammoniet, Nagrai uit Beërot, wapendraer van Joab seun van Seruja, 38Ira uit Jeter, Gareb uit Jeter, 39Urija die Hetiet. Daar was altesaam sewe en dertig.

Tans Gekies:

2 SAMUEL 23: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid