2 KRONIEKE 4

4
1Hy het die bronsaltaar gemaak, tien meter lank, tien meter breed en vyf meter hoog. 2Hy het ook die gegote waterbak gemaak, heeltemal rond, vyf meter in deursnee, twee en 'n half meter hoog en met 'n omtrek van vyftien meter. 3Onderom die rand van die waterbak was twee rye beeste in reliëf, tien op elke halwe meter. Die beeste is saam met die waterbak in een stuk gegiet. 4Die waterbak het gerus op twaalf gegote beeste, drie na die noorde, drie na die weste, drie na die suide en drie na die ooste gerig. Die waterbak was bo-oor hulle, en almal se agterkante was onder die bak in. 5Die waterbak was nege sentimeter dik en sy rand was soos 'n beker se rand in die vorm van die kelk van 'n lelie. Dit kon ses en sestig kiloliter bevat.
6Hy het tien waskomme gemaak en vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant gesit. Daarin spoel hulle die offergereedskap af. Die waterbak is vir die priesters om in te was. 7Hy het tien goue kandelaars gemaak volgens voorskrif en hulle in die voorste heiligdom gesit, vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant. 8Hy het tien tafels gemaak en in die voorste heiligdom gesit, vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant. Hy het honderd goue komme vir besprinkeling gemaak. 9Hy het die voorhof van die priesters ingerig en die groot binneruimte, met deure vir die binneruimte. Albei se deure het hy met brons oorgetrek. 10Die waterbak het hy aan die regterkant, suidoos van die tempel, opgestel.
11Hiram het die potte, die skoppe en die komme vir besprinkeling gemaak. So het hy die werk afgehandel wat hy vir koning Salomo aan die tempel van God moes doen: 12die twee pilare met die komvormige skywe en die kapitele bo-aan die twee pilare, en ook die roosters om die twee skywe van die kapitele bo-aan die pilare toe te maak; 13die vier honderd granate vir die twee roosters, 'n dubbele ry granate vir elke rooster om die skywe van die kapitele bo-op die pilare toe te maak. 14Hy het ook die waentjies en die waskomme op die waentjies gemaak, 15die waterbak met die twaalf beeste daaronder, 16die potte, skoppe en vurke. Al die nodige toerusting het die meestervakman Hiram vir koning Salomo vir die huis van die Here vervaardig van gepoleerde brons. 17Die koning het hulle in die omgewing van die Jordaan, tussen Sukkot en Saretan, in kleivorms laat giet. 18Salomo het so 'n groot hoeveelheid van al hierdie goed laat maak dat die brons nie geweeg kon word nie.
19Salomo het ook al die toerusting vir die tempel van God laat maak: die goue altaar, die tafels vir die offerbrood; 20die kandelaars met die lampe wat volgens voorskrif voor die binneste heiligdom aan die brand gehou moes word, alles van suiwer goud; 21die blomkelke, die lampe en die goue pithouers, alles heeltemal van goud; 22die skêre, die komme vir die besprinkeling, die panne en die vuurbakke, alles van suiwer goud. Ook die ingang van die tempel, sy deure, die binnekant van die Allerheiligste en die deure van die voorste heiligdom was van goud.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid