Hooglied 8

8
1Was jy tog maar vir my ’n broer en iemand wat ook aan my ma gedrink het. As ek jou dan in die straat gekry het, kon ek jou soen en niemand sou iets sê nie.
2Ek sou jou dan na my ma se huis toe geneem het en daar kon jy my van die liefde leer. En ek sou jou ’n slukkie van my kruiewyn gee en jou van my granaatlikeur laat drink het.
3Jou een arm sal onder my kop rus en met die ander sal jy my omhels.
4Vroue van Jerusalem, beloof my om my tog nie in die liefdespel te steur nie.
Vroue van Jerusalem
5Wie kom daar hand aan hand uit die woestyn met haar geliefde aan?
Hy
Onder die appelboom het ek jou bemin. Op die plek waar jy gebore is en waar jou ma jou met pyn in die wêreld gebring het, het ek jou liefgehad.
Sy
6Gee my die enigste plek in jou hart. Dra my binne-in jou soos ’n mens ’n seëlring aan jou arms dra. Liefde is sterker as die dood en die liefdesdrang sterker as die doderyk. Die gloed van warm liefde gloei soos ’n groot vuur.
7Geen water kan die liefdesgloed demp nie en riviere kan dit nie blus nie. Elkeen wat liefde met geld en besittings wil koop, word verwerp.
Haar broers
8Ons het ’n kleinsus wie se borsies nog klein is. Wat sal ons doen as iemand met haar wil trou?
9As sy standvastig is, sal ons haar help en as sy ligsinnig is, sê ons sommer net “Nee!”
Sy
10Ek is deugsaam en my borste is vol. My liefling weet ek is gelukkig by hom.
Hy
11Salomo het ’n wingerd in Baäl-Hemon en verhuur dit aan boere wat elk 1 000 silwerstukke betaal.
12Salomo, my wingerd is mooi en is myne alleen. Hou maar jou wingerd en duisende silwer. Vir jou werkers gee ek selfs nog 200 meer.
13My liefste, jy is êrens in die tuin waar jou vriende na jou luister. Laat ek ook tog jou stemmetjie hoor wat sê:
Sy
14Kom, my liefling, kom gou na my. Wees snel soos die ribbok en rats soos ’n takbok se lam op die kruieberge.

Tans Gekies:

Hooglied 8: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid