Openbaring 19

19
Vreugde in die hemel, want God verlos
1Net hierna hoor ek uit die hemel ’n vreeslik harde lawaai. Dit het geklink soos ’n massa mense wat gelyk praat: “Halleluja, prys God! Ons God red ons, want Hy is sterker en belangriker as almal. 2Wat Hy besluit, is altyd regverdig en soos dit regtig moet wees. Hy het besluit om die goddelose vrou, Babilon, te straf. Sy het mos met haar goddeloosheid mense heeltemal deurmekaargekrap en mislei. God het haar dubbel en dwars terugbetaal vir elkeen wat sy doodgemaak het omdat hulle Hom gedien het.”
3Hulle het verder gesing: “Prys God, halleluja! Die rook van die smeulende stad trek vir ewig en altyd op.”
4Die 24 leiers van die kerk en die vier lewende wesens het vol eer en respek voor God neergesak. Hy het op sy troon gesit. Hulle het uitgeroep: “Laat alles net so wees! Prys God!”
Die groot bruilof: Jesus en sy kerk
5Ek hoor toe nog ’n stem uit die rigting van die troon: “Laat lof vir ons God oor julle lippe rol! Laat elkeen wat Hom dien dit doen, klein en groot, elkeen wat ontsag vir Hom het!”
6Toe het ek weer ’n groot skare hoor skree. Dit het soos ’n geweldige storm geklink met donderslae en reën wat neergiet: “Halleluja, prys God! Daar is niks wat die Here, ons God, nie kan doen nie. Hy heers oor almal.
7“Laat ons vrolik feesvier. Laat ons uitbundig van vreugde oorloop. Laat ons vir almal vertel hoe groot en belangrik God is. Ons het goeie rede. Die troudag van die Lam is hier! Sy bruid het haar pragtig reggemaak.
8“God het vir haar die mooiste wit rok gegee om aan te trek. Dit is van die fynste, kosbaarste, witste materiaal gemaak wat jy jou maar kan voorstel. Hierdie kosbare materiaal is eintlik gemaak van al die regte en goeie dinge wat God se mense gedoen het.”
9En die engel sê toe vir my: “Skryf! Party mense is baie gelukkig. Dit is elkeen wat na die bruilofsfees van die Lam uitgenooi is. Daaraan hoef niemand te twyfel nie. Dit is absoluut waar, want God self sê dit.”
10Ek sak toe op my knieë voor die engel neer om hom te aanbid. Dadelik sê hy: “Moenie dit doen nie! Ek is, net soos jy, ook net iemand wat God dien. Ek is net een van jou broers wat met oortuiging vir ander van Jesus vertel. Nee, aanbid God! Die boodskap oor Jesus is die boodskap wat die Heilige Gees van God self vir ons bring.”
Die Bruidegom kom haal sy bruid
11Toe ek weer sien, vou die hemel voor my oop. In die hemel was daar ’n wit perd met ’n Ruiter. Die Ruiter is die Een wat jou nooit in die steek laat nie. Hy is opreg en eg in alles wat Hy doen en sê. Sy oordeel is ook altyd reg en wanneer Hy oorlog maak, is dit nie onregverdig nie. 12Sy oë was soos vuurvlamme wat alles sien. Sy kop was vol krone soos heersers dra. Hy het ook ’n Naam gedra wat niemand geken het nie. Net Hy self het geweet wat dit beteken. 13Sy klere was deurweek met bloed. Mense het van Hom gepraat as die “Woord van God”; die Een deur wie God sy wil bekendmaak. 14Die soldate van die hemel het op wit perde agter die Ruiter aangery. Hulle het nie oorlogsklere aangehad nie. Hulle het feesklere aangehad. Die klere was van die mooiste fyn, wit materiaal gemaak. 15Uit die Ruiter se mond het daar ’n vlymskerp swaard gekom. Dit is sy wapen waarmee Hy mense beveg en oorwin. Hy regeer hulle met ’n ysterhand. Hy sorg vir oordeel en straf. Soos iemand wat druiwekorrels stukkend trap, so sal Hy die woede en straf van die almagtige God oor mense laat losbars. 16Kyk op sy klere en op sy hemp, daar staan sy Naam geskryf: Hy is die Heerser oor almal wat heers; die Heer oor almal wat heer genoem word.
17My oog val toe op ’n engel wat so helder soos die son is. Hy het oorverdowend hard geskree. Hy het al die voëls geroep wat tussen die bome en wolke rondvlieg: “Kom hier! 18Kom saam vir die groot ete wat God vir julle voorberei! Kom vier fees op die liggame van regeerders, soldate, mense wat eers baie invloed gehad het. Ja, kom vreet die vleis van ruiters en perde. Of dit nou slawe of vry mense is, klein of groot, kom hou fees op hulle liggame.”
19Ek sien toe die dier en al die regeerders van hierdie wêreld met hulle soldate saamtrek. Hulle het hulle reggemaak om teen die Ruiter op die perd en sy soldate te veg. 20Die dier is toe gevang, hy en die een wat voorgee om oor God te praat, maar die hele tyd net lieg. Dit is die een wat al die wonderlike dinge saam met die dier gedoen en mense heeltemal mislei het. 21Ek praat van al daardie mense wat die merk van die dier op hulle laat maak en wat sy standbeeld aanbid het. Hierdie twee diere is net so lewendig in die see van vlamme gegooi. Die tonge van vuur was met swael gemeng. Die res is afgemaai met die swaard wat uit die mond van die Ruiter kom. Al die voëls het gekom en op hulle vleis geaas.

Tans Gekies:

Openbaring 19: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid