Psalms 51

51
1Opgedra aan die musiekleier. ’n Dawidspsalm. 2Toe die profeet Natan met Dawid kom praat het nadat hy by Batseba geslaap het
3God, wees my genadig. U het tog u kinders baie lief.
Vergewe my al my sonde omdat U u kinders oorlaai met arms vol liefde.
Vat my verkeerde dade baie ver van my af weg.
4Delg die skuld van my sondes uit.
Maak my skoon omdat my sondes my vuilgesmeer het.
5Ek weet dat ek groot foute in u oë gemaak het.
Ek kan nie ophou om daaraan te dink nie. My gewete pla my aanmekaar.
6Ek was baie ongehoorsaam aan U, en dit teenoor U alleen.
Maar U sal reg optree as U oor my lewe moet besluit.
U sal nie die verkeerde ding doen nie.
7Vandat ’n mens die dag gebore word, ja, vandat jou ma begin verwag, is verkeerde dinge deel van jou lewe.
Ek sien dit in my eie lewe.
Vandat my ma my in die wêreld gebring het,
dryf iets my om ongehoorsaam aan die Here te wees.
8U wil hê ’n mens moet altyd eerlik en opreg wees, Here.
Ek wil bitter graag weet wat U van my verwag. Hoe wil U hê moet ek lewe?
9Vat asseblief al die verkeerde dinge wat ek gedoen het ver van my af weg, Here.
Kyk op ’n splinternuwe manier na my.
Sien my weer as iemand wat niks verkeerds gedoen het nie.
My lewe moet so skoon wees soos die witste wol.
10Help my om weer opgewonde en bly te wees.
Help my om te jubel van vreugde, al het U my swaar gestraf.
11Moet nooit weer dink aan die verkeerde dinge wat ek gedoen het nie. Vat alles weg uit my lewe wat nie reg is in u oë nie. 12Maak my opreg, God!
Maak my van kop tot tone nuut sodat ek kan vasstaan. Moet my nie van U af wegstoot nie.
13Jaag my nooit voor U weg nie. Laat u Goddelike krag ook nie van my af weggaan nie.
U krag sorg dat ek doen wat U vra.
14Laat ek weer bly wees. U alleen kan die lewe weer vir my nuut maak.
Help my om U te dien met alles wat in my is.
15Ek wil baie graag mense help wat nie doen wat U sê nie.
Ek wil vir hulle sê om hulle sondes te laat staan en na U toe terug te kom.
16God, help my om nie ander mense se lewe te vernietig nie!
U is die God wat my lewe heelmaak.
Help my om vol blydskap vir ander te vertel van die goeie dinge wat U doen.
17Here, sit al die regte woorde waarmee ek U kan prys in my mond.
18Here, U wil nie hê dat ons U moet probeer vergoed vir alles wat U vir ons doen nie.
Anders sou ek dit doen. U vra nie offers van ons nie.
19Al wat U wil hê, is dat iemand laag voor U buig
en kom sê hy is jammer oor sy verkeerde dade.
God, U sal nooit iemand wat sleg voel oor sy sonde van U af wegstoot nie.
20Wees goed vir u kinders, Here. Bou u mense se lewe weer op.
Dan sal hulle weer dinge doen wat U gelukkig maak.
21Dan sal hulle U weer voluit dien met alles wat hulle het.
Hulle sal vir U hulle heel beste gee.

Tans Gekies:

Psalms 51: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid