Numeri 10

10
Die silwertrompette
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Maak twee trompette van suiwer silwer en gebruik dit om die volk bymekaar te kry vir ’n vergadering of as teken dat hulle die kamp moet opbreek. 3As albei die trompette gelyk blaas, moet die hele volk bymekaarkom vir ’n vergadering voor die ingang van die tent waar Ek aanbid word. 4As net een van die trompette geblaas word, is dit ’n teken vir die leiers van die stamme om na jou toe te kom vir ’n vergadering. 5As julle die trompet die eerste keer kort en hard blaas, moet die stamme wat aan die oostekant gekamp het, oppak en vertrek. 6Wanneer die trompet die tweede keer kort en hard geblaas word, is dit tyd vir die stamme aan die suidekant om op te pak en te trek. Elke groep moet oppak en trek wanneer hulle die teken hoor wat spesiaal vir hulle bedoel is. 7Om die volk vir ’n vergadering op te roep moet die trompette op ’n ander manier en toonhoogte geblaas word. 8Net die priesters, Aäron se seuns en hulle kinders, mag die trompette blaas. Dit is ’n reël wat vir julle ganse nageslag moet geld. 9Wanneer julle in julle land aankom en julle julle teen julle vyande moet verdedig, moet julle hard op hierdie trompette blaas om die volk vir oorlog op te roep. Dan sal Ek, die Here julle God, onthou dat julle my volk is en Ek sal julle van julle vyande red. 10Julle moet ook die trompette blaas as julle bly is en iets het om te vier. Blaas hulle by julle jaarlikse feeste en aan die begin van elke nuwe maand. Blaas hulle as julle bly is oor julle brandoffers en julle eteoffers. Die trompette sal My daaraan herinner dat Ek in ’n ooreenkoms met julle vir julle gesê het: “Ek is die Here, Ek is julle God.”
Die Israeliete trek verder
11Op ’n dag in die middel van die lente, twee jaar nadat die Israeliete uit Egipte uit weg is, het die wolk van die tabernakel af opgelig. 12Die Israeliete het toe getrek van die Sinaiwoestyn af tot in die Paranwoestyn, waar die wolk weer tot stilstand gekom het. 13Die Israeliete het getrek op die manier wat die Here vir Moses beveel het. Hulle het dit so gedoen: 14heel voor het die afdelings onder leiding van die stam van Juda onder hulle eie vlag vertrek. Hulle leier was Amminadab se seun Nagson. 15Suar se seun Netanel was in bevel van die afdeling van die stam van Issaskar, 16en Gelon se seun Eliab was die leier van die afdeling van die stam van Sebulon.
17Daarna is die tabernakel afgebreek. Toe kon die groep van Gerson en die Merarigroep wat dit moes dra, ook vertrek. 18Die volgende groep wat vertrek het, was die afdelings onder leiding van die stam van Ruben. Hulle het onder hulle eie vlag getrek. Hulle leier was Sedeür se seun Elisur. 19Suri-Saddai se seun Selumiël was in bevel van die afdeling van die stam van Simeon, 20en Reüel se seun Eljasaf was die leier van die afdeling van die stam van Gad.
21Daarna het die Kehatgroep vertrek. Hulle het die voorwerpe gedra wat aan die Here se diens gewy is. Teen die tyd dat hulle by die volgende kampplek aangekom het, was die tabernakel gewoonlik reeds opgeslaan. 22Net ná hulle het die afdelings onder leiding van die stam van Efraim onder hulle eie vlag vertrek. Hulle leier was Ammihud se seun Elisama. 23Pedasur se seun Gamliël was in bevel van die afdeling van die stam van Manasse, 24en Gidoni se seun Abidan oor die afdeling van die stam van Benjamin. 25Die volgende groep wat vertrek het, was die afdelings onder leiding van die stam van Dan, ook onder hulle eie vlag. Hulle het die agterhoede van al die afdelings gevorm. Ammi-Saddai se seun Agiëser was die leier van hierdie afdeling. 26Okran se seun Pagiël was die leier van die afdeling van die stam van Aser, 27en Enan se seun Agira die leier van die afdeling van die stam van Naftali. 28So het die Israeliete altyd getrek, afdeling vir afdeling.
29Toe hulle wegtrek, het Moses vir sy swaer, Gobab, wat Reüel die Midianiet se seun was, gesê: “Ons is nou op pad na die land toe wat die Here vir ons beloof het. Kom saam met ons, dan deel jy in ons voorspoed, want die Here het wonderlike dinge vir ons belowe.” 30Maar Gobab het geantwoord: “Nee dankie, ek dink ek gaan eerder terug na my eie land en familie toe.”
31Maar Moses het nie nee vir ’n antwoord aanvaar nie: “Moet ons nie nou alleen los nie. Jy ken die beste kampplekke in die woestyn, jy kan ons gids wees. 32As jy saamkom, kan jy ook deel hê aan al die wonderlike dinge wat die Here vir ons gaan gee.”
33So is die volk van die berg Sinai, die berg van die Here, af weg. Hulle het drie dae lank getrek met die verbondsark van die Here op die voorpunt van die volk om vir hulle te wys waar om te stop en te rus. 34Elke dag wat hulle op pad was, het die wolk van die Here bokant hulle gebly. 35Elke keer as die priesters met die verbondsark begin trek het, het Moses gesê: “Staan op, Here, jaag u vyande weg voor U! Laat almal wat U haat, voor U padgee!” 36En elke keer as hulle by die kamp aangekom en die ark neergesit het, het Moses gesê: “Kom asseblief nou terug na die reuseskares van Israel toe, Here!”

Tans Gekies:

Numeri 10: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid