Markus 2:1-12

Markus 2:1-12 DB

’n Paar dae later is Jesus Kapernaum toe. Die mense het dadelik daarvan gehoor en het die huis volgepak. Daar was so baie mense dat hulle tot in die straat gestaan het. Jesus het met hulle oor die dinge van God gepraat. Juis toe kom daar vier mans aan wat ’n lam man dra. Hulle kon nie deur die klomp mense by Jesus uitkom nie, want die mense het die hele plek toegestaan. Hulle maak toe ’n ander plan. Hulle klim op die dak, maak ’n gat daarin en laat die verlamde man versigtig op sy bed afsak. Toe Jesus sien hoe hierdie mense Hom vertrou, sê Hy vir die siek man: “My vriend, God vergewe al die verkeerde dinge wat jy gedoen het.” Dit het party van die kenners van die Joodse wet laat wonder: “Hoe op aarde kan hy so praat? Dit is darem te erg, want wie kan sê dat God al die verkeerde dinge vergewe, behalwe God self? Met dié praatjies wys hy dat hy g’n respek vir God het nie.” Hulle kon egter nie al hierdie lelike gedagtes vir Jesus wegsteek nie, want Hy het geweet wat hulle dink. Hy vra hulle toe: “Waarom is julle so skepties? Wat is die maklikste, om vir die lam man te sê: ‘God vergewe jou sondes’ of ‘Vat jou matras en loop’? Julle weet dat iemand net sonde kan vergewe as hy die mag het om dit te doen. Kyk mooi, die Seun van die mens kan dit hier op aarde doen.” Toe praat Jesus met die lam man: “Luister wat Ek sê. Vat jou matras en gaan huis toe.” Daar gebeur dit toe net so. Die man staan voor almal op en stap huis toe. Die mense was heeltemal uit die veld geslaan. “Ons het nog nooit in ons lewe sulke ongelooflike dinge gesien nie,” het hulle gesê, terwyl hulle vir mekaar vertel hoe groot en wonderlik God is.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid