MARKUS 2:1-12

MARKUS 2:1-12 Bybel vir almal (ABA)

'n Paar dae later het Jesus weer in die stad Kapernaum gekom. Die mense het gehoor dat Hy by die huis is. Daar het so baie mense bymekaargekom dat daar nie meer plek in die huis was nie, ook nie buite voor die deur nie. Jesus het begin om vir die mense te vertel van die goeie boodskap. Daar kom toe mense wat 'n verlamde man na Hom toe bring. Vier mense het die man gedra. Omdat daar so baie mense was, kon hulle nie die man tot by Jesus bring nie. Hulle het toe die dak bokant Jesus oopgebreek. Hulle het 'n gat in die dak gemaak, en toe het hulle die slaapmat waarop die verlamde man lê, deur die gat laat sak. Toe Jesus sien hulle glo dat Hy die verlamde man gesond kan maak, sê Hy vir die man: “My vriend, Ek vergewe jou sondes.” Daar het skrifgeleerdes gesit, en hulle het gewonder: “Hoekom praat hierdie man so? Hy maak of hy self God is! 'n Mens kan nie sondes vergewe nie, net God kan.” Jesus het dadelik geweet dat hulle so dink. Daarom het Hy vir hulle gesê: “Hoekom wonder julle oor hierdie dinge? Is dit die maklikste om vir die verlamde man te sê: ‘Ek vergewe jou sondes,’ of is dit die maklikste om te sê: ‘Staan op, tel jou slaapmat op en loop?’ Maar Ek wil vir julle wys dat Ek, die Seun van die mens, sondes mag vergewe op die aarde.” Jesus sê toe vir die verlamde man: “Ek sê vir jou, staan op, neem jou slaapmat en gaan huis toe.” Die man het opgestaan en hy het dadelik sy slaapmat geneem en uitgegaan. Al die mense het dit gesien en hulle was baie verbaas. Hulle het God geprys en gesê: “So iets het ons nog nooit gesien nie!”

MARKUS 2:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe Jesus ná 'n paar dae weer in Kapernaum kom, het dit bekend geword dat Hy by die huis is. Baie mense het daar saamgedrom, sodat daar selfs by die deur nie meer plek was nie. Hy was besig om met hulle oor sy boodskap te praat. Daar kom toe mense wat 'n verlamde man na Hom toe bring. Vier van hulle het hom gedra. Toe hulle hom weens die gedrang nie by Jesus kon kry nie, breek hulle die dak reg bokant Hom oop, en nadat hulle 'n opening in die dak gemaak het, laat hulle die draagbaar waarop die verlamde man gelê het, daardeur afsak. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Vriend, jou sondes word vergewe!” Maar sommige van die skrifgeleerdes het daar gesit en hulle afgevra: “Waarom sê hy so? Hy praat mos godslasterlik! Wie kan sondes vergewe behalwe God alleen?” Jesus het dadelik geweet dat hulle by hulleself so redeneer. Hy sê toe vir hulle: “Wat redeneer julle by julleself hieroor? Wat is makliker? Om vir die verlamde man te sê: ‘Jou sondes word vergewe’, of om te sê: ‘Staan op, vat jou draagbaar en loop’? Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op die aarde sondes te vergewe.” Hy sê toe vir die verlamde man: “Ek sê vir jou: Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.” Hy het opgestaan, dadelik sy draagbaar gevat en voor die oë van almal uitgestap. Hieroor was hulle almal verbaas en het hulle God geprys en gesê: “So iets het ons nog nooit gesien nie!”

MARKUS 2:1-12 Die Boodskap (DB)

’n Paar dae later is Jesus Kapernaum toe. Die mense het dadelik daarvan gehoor en het die huis volgepak. Daar was so baie mense dat hulle tot in die straat gestaan het. Jesus het met hulle oor die dinge van God gepraat. Juis toe kom daar vier mans aan wat ’n lam man dra. Hulle kon nie deur die klomp mense by Jesus uitkom nie, want die mense het die hele plek toegestaan. Hulle maak toe ’n ander plan. Hulle klim op die dak, maak ’n gat daarin en laat die verlamde man versigtig op sy bed afsak. Toe Jesus sien hoe hierdie mense Hom vertrou, sê Hy vir die siek man: “My vriend, God vergewe al die verkeerde dinge wat jy gedoen het.” Dit het party van die kenners van die Joodse wet laat wonder: “Hoe op aarde kan hy so praat? Dit is darem te erg, want wie kan sê dat God al die verkeerde dinge vergewe, behalwe God self? Met dié praatjies wys hy dat hy g’n respek vir God het nie.” Hulle kon egter nie al hierdie lelike gedagtes vir Jesus wegsteek nie, want Hy het geweet wat hulle dink. Hy vra hulle toe: “Waarom is julle so skepties? Wat is die maklikste, om vir die lam man te sê: ‘God vergewe jou sondes’ of ‘Vat jou matras en loop’? Julle weet dat iemand net sonde kan vergewe as hy die mag het om dit te doen. Kyk mooi, die Seun van die mens kan dit hier op aarde doen.” Toe praat Jesus met die lam man: “Luister wat Ek sê. Vat jou matras en gaan huis toe.” Daar gebeur dit toe net so. Die man staan voor almal op en stap huis toe. Die mense was heeltemal uit die veld geslaan. “Ons het nog nooit in ons lewe sulke ongelooflike dinge gesien nie,” het hulle gesê, terwyl hulle vir mekaar vertel hoe groot en wonderlik God is.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid