Levitikus 9

9
Aäron en sy seuns begin met hulle werk
1Op die agtste dag het Moses vir Aäron, sy seuns en ook die leiers van Israel na hom toe laat kom. 2Hy het vir Aäron gesê: “Vat ’n gesonde bulletjie en ’n welgeskape ram en bring een vir die Here as ’n offer vir die sonde en die ander as ’n offer wat in die vuur verbrand word. 3Sê ook vir die Israeliete hulle moet vir hulleself ’n gesonde bokram bring om vir hulle sonde te offer, sowel as ’n gesonde jaaroud bulletjie en ’n skaaplam om op die altaar te verbrand. 4Daarby moet hulle ook ’n uitgegroeide bul en ’n ram as ’n offer bring vir die Here om voor die Here te eet, sowel as ’n offer van gemaalde graan wat met olie gemeng is. Die Here wil julle vandag ontmoet.”
5Die Israeliete het toe al die goed wat Moses opgenoem het, na die tent van ontmoeting gevat. Almal het daar bymekaargekom en voor die Here gaan staan om Hom te ontmoet. 6Toe sê Moses vir hulle: “Dit is presies wat die Here wou hê julle moes doen sodat julle kan ervaar hoe geweldig groot Hy is.”
7Moses sê toe vir Aäron: “Kom jy nou na die altaar toe en bring die dier wat jy vir jou sonde offer en die dier wat jy op die altaar in die vuur verbrand, sodat jy jou skuld by die Here kan betaal en met Hom vrede kan kry. Bring ook die volk se offer sodat hulle skuld ook betaal kan word, soos die Here gesê het ons moet maak.” 8Aäron het toe na die altaar gegaan en die kalf vir sy sonde geslag. 9Sy seuns het die bloed vir hom gebring. Hy het sy vinger daarin gesteek en daarvan aan die punte van die altaar gesmeer. Die bloed wat oor was, het hy onder teen die altaar uitgegooi. 10Hy het die vet en die niere en die lewerpunt van die dier op die altaar verbrand, soos die Here gesê het Moses moet maak. 11Die dier se vleis en die vel het hy egter buite die kamp laat verbrand. 12Hy het toe ook die offer gebring wat op die altaar verbrand word. Sy seuns het die bloed vir hom aangegee en hy het daarvan teen die kante van die altaar gespat. 13Hulle het die verskillende dele van die dier wat geslag is, vir hom aangegee om op die altaar te laat brand en ook die dier se kop. Hy het dit alles op die altaar verbrand. 14Hy het die binnegoed en die pote afgewas en dit saam met die res van die offer op die altaar verbrand.
15Hierna het Aäron ook die volk se offer gebring. Hy het die bok gevat wat vir die sonde van die volk geoffer moes word, dit geslag en net so geoffer soos sy eie offer. 16Hy het ook hulle offer wat op die altaar verbrand moes word, gebring en daarmee volgens die voorskrif gemaak. 17Hy het ook bo en behalwe die oggend se offer wat verbrand word, ’n offer uit die graan gebring. Hy het ’n hand vol daarvan geneem en dit op die altaar verbrand. 18Hy het ook die bul en die ram vir die volk se offer waarvan hulle ook kan eet, geslag. Sy seuns het die bloed in ’n houer vir hom aangegee en hy het daarvan reg rondom teen die altaar gespat. 19Hy het al die stukke vet van die bul en die ram - dit is nou die vetstert, die vetlaag oor die niere en die gedeelte oor die lewer - 20by die borsstukke gesit. Hy het toe al die stukke vet op die altaar verbrand. 21Die borsstukke en die regterblad het Aäron egter as ’n offer wat heen en weer voor die Here beweeg word, aan die Here opgedra, presies soos Moses voorgeskryf het.
22Nadat Aäron die offer vir die sondes, die offer wat verbrand word en die offer wat die goedgesindheid van die volk wys, gebring het, het hy sy hande na die volk uitgesteek en die Here gevra om vir hulle goed te wees.
23Moses en Aäron het toe saam in die tent waar God gedien word, ingegaan. Toe hulle uit die tent kom, het hulle vir die volk die Here se liefde toegewens. Die hele volk het toe bewus geword dat die Here ook daar teenwoordig is. 24Daar het vuur van die Here af gekom en die offer op die altaar aan die brand laat slaan en die vet op die altaar laat wegbrand. Die hele volk het gesien wat gebeur het, en hulle het geskreeu en op hulle knieë neergeval om die Here te aanbid.

Tans Gekies:

Levitikus 9: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid