Jesaja 42

42
Meer oor Kores
1Ek het iemand wat vir My werk. Ek help hom. Ek het hom spesiaal gekies. Ek hou baie van hom. Ek het hom die krag gegee om vir die nasies te leer wat reg is. 2Hy doen dit nie met ’n geskreeu en ’n lawaai nie. Hy gaan nie op straat te kere nie. 3Hy sal nie iemand wat alreeds op sy knieë is, in die grond in trap nie. Hy sal nie iemand se laaste bietjie hoop vernietig nie. Hy sal eerlik wees wanneer hy sê wat reg is. 4Hy sal hom nie laat keer om vir die wêreld te leer wat reg is nie. Die lande oorkant die see sal wag om te hoor wat hy sê.
5Die Here God het die blou lug oor die aarde gespan. Hy het die uitgestrekte aarde gemaak. Hy het dit volgemaak met alles wat daarop lewe. Hy gee lewe aan almal wat op aarde is. Hy gee vir al die volke op aarde asem om te lewe. Hy sê vir hierdie man: 6Ek is die Here. Ek het jou geroep om geregtigheid op aarde te bring. Ek sal jou hande sterk maak en jou beskerm. Deur jou maak Ek ’n ooreenkoms met die volke. Jy is die lig wat die nasies na My toe lei. 7Jy sal dié wat blind was, laat sien. Jy sal dié wat in tronke was, laat uitkom. Jy sal dié wat in donker selle gebly het, daaruit bevry.
8My naam is die Here. Ek staan die eer wat Ek moet ontvang, aan niemand anders af nie. Ek laat geen afgod toe om soos Ek grootgemaak te word nie. 9Wat Ek voor die tyd al vir julle gesê het, gaan net so gebeur soos Ek gesê het. Ek laat julle hoor van dinge wat nog moet kom, selfs al voor dit begin het om te gebeur.
Sing vir die Here ’n nuwe lied
10Julle moet vir die Here ’n nuwe lied sing. Oor die hele aarde moet Hy grootgemaak word. Almal wat op die see vaar en alles wat in die see is, moet saam sing. Die lande oorkant die see en almal wat daar woon, moet God verheerlik. 11Die woestyn en die dorpe wat daarin is, moet vir die Here sing. Dié wat in Kedar bly, moet sy Naam grootmaak. Dié wat in Sela bly, moet juig. Hulle moet van die toppe van die berge af jubel vir die Here. 12Dié wat in die lande oor die see bly, moet aan die Here eer bewys. Hulle moet sy Naam grootmaak.
Nou gaan die Here dit doen
13Die Here is soos ’n soldaat wat gaan oorlog maak. Hy is soos ’n man wat reg is om te gaan veg. Hy skreeu en gee die oorlogskreet. Hy oorrompel sy vyande. 14Ek het vir lank stilgebly en niks gedoen nie. Maar Ek gaan nou iets doen. Ek sal skree soos ’n vrou wat ’n baba in die wêreld bring. Ek sal hyg, Ek sal hard asemhaal. 15Ek sal droogte op die berge en heuwels laat kom. Ek sal die plante laat doodgaan wat daarop groei. Ek sal die riviere in stilstaande poele verander. Die riete in die vleie sal doodgaan. 16Ek sal die blinde Israel op ’n pad laat loop wat hy glad nie ken nie. Hy sal op paaie loop waarvan hy glad nie eers geweet het nie. Ek laat die donkerte voor hulle in lig verander. Ek verander die pad wat vol slaggate is in ’n gladde pad. Ek gaan dit doen. Ek sal hulle nie in die steek laat nie. 17Aan die ander kant sal die mense wat op afgode staatmaak en vir afgodsbeelde sê: “Julle is ons god” op hulle neus kyk. Hulle gaan sleg daarvan afkom.
Oë wat nie kan sien nie en ore wat nie wil hoor nie
18Julle wat julle so doof hou en maak of julle blind is, moet nou ’n bietjie aandag gee. 19Die volk wat My moet dien, het mos oë wat nie wil sien nie. Die boodskapper wat Ek stuur, het mos ore wat glad nie wil hoor nie. Wie is so blind soos die volk van die Here? 20Julle het so baie dinge gesien, maar dit het geen indruk op julle gemaak nie. Julle luister, maar julle hoor eintlik niks. 21Die Here het uitdruklik gesê hoe belangrik sy wet is. Hy wil graag hê dat daar geregtigheid onder mense moet wees.
22Maar sy volk is beroof en kaal gesteel. Hulle sit almal in gate en in tronke opgesluit. Toe daar op hulle toegeslaan is, was daar niemand om hulle te red nie. Toe hulle gevange geneem is, kon niemand dit keer nie. 23Wie van julle het werklik gehoor wat hier gebeur het? Wie het fyn genoeg geluister om te verstaan wat dit vir die toekoms beteken? 24Wie het Jakob uitgelewer aan die mense wat hom beroof het? Was dit nie die Here self wat dit gedoen het nie? Ons het teen Hom oortree. Israel wou nie leef soos die Here van hulle gevra het nie. Hulle wou nie luister na wat die Here gesê het hulle moet doen nie. 25Die Here het sy woede soos vuur teen hulle laat vlam vat. Hy het hulle in die oorlog laat beland. Selfs toe dit rondom hulle gebrand het, het hulle dit nie verstaan nie. Hulle het nie besef hoe ernstig dit was nie.

Tans Gekies:

Jesaja 42: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid