Prediker 7

7
Dood is beter as die lewe
1’n Goeie naam is beter as lekkerruikgoed, en die sterfdag beter as die geboortedag. 2Dit is beter om na ’n plek van rou te gaan as na ’n plek waar mense partytjie hou. Elkeen se sterfdag wag vir hom. Daarmee moet die mens rekening hou. 3Hartseer is beter as om te lag. Agter ’n strak gesig skuil soms ’n diep insig in die lewe. 4Iemand wat net geluk najaag, is dwaas. ’n Wyse weet geluk is onmoontlik. Daarom dink hy baie aan die einde.
Dink goed na oor die lewe
5Dit is beter dat wyse mense jou kritiseer as dat dommes heeltyd jou lof besing.
6Soos die knetterklanke van brandhout in ’n vuur, so klink die gelag van ’n dwaas. Dit is sinloos en irriteer ’n mens net.
7Iemand wat dink hy is wys, maar ander afpers, is dwaas. En ’n omkoopgeskenk kan jou vernietig.
8Die einde van ’n saak is baie beter as die begin. En geduld is beter as om vol van jouself te wees.
9Beheer jouself en moenie jou humeur verloor nie; dit is net dwase mense wat so maak.
10Moet nooit vra waarom dit in die goeie ou dae beter was as nou nie, want dit is nie ’n goeie vraag nie.
11Om baie te besit en ook te weet hoe om reg te leef is wonderlik. 12Geld kan jou baie help, so ook die insig om reg te leef. Insig is beter, want dit kan jou ook gelukkig maak.
13Kyk na God se werk in die wêreld. Wie kan reguit buig wat Hy krom gemaak het? 14God laat die goeie en die slegte gebeur. Of dit goed of sleg gaan, onthou, albei kom van God af. Niemand weet wat môre of oormôre gaan gebeur nie.
15In my sinlose lewe het ek gesien dat goeie mense vroeg doodgaan, terwyl slegte mense lank leef. Dit maak nie eintlik saak of jy goed of sleg leef nie. 16Moet daarom nie te goed of te regverdig wil wees nie, want jy kan jouself vernietig. 17Moet ook nie te sleg of te onregverdig leef nie, want dan kan jy dalk te vroeg doodgaan. 18Kry ’n middeweg, anders word die lewe ondraaglik. Leef met respek vir God, dan sal jy weet hoe om te leef.
19Wysheid en die insig hoe om reg te leef maak ’n mens sterker as die magtigste leiers.
20Niemand doen net goed sonder om ook verkeerd te doen nie.
21Moenie na alle skinderpraatjies luister nie, want dan moet jy dalk jou werkers se beledigings aanhoor. 22Onthou, jy het ook al baie keer mense beskinder en beledig.
Geen mens kan die lewe verstaan nie
23Ek het al my kennis en insig gebruik om die lewe te verstaan, maar ek kon nie. 24Wie weet wat die sin van die lewe is? Dit is te moeilik vir ’n mens om te ontdek. 25Ek het toe weer begin studeer en navorsing oor wysheid en dwaasheid gedoen. Ek wou weet hoe ’n mens moet leef en wat die gevolg van ’n slegte lewe is.
26Ek het wel iets ontdek wat erger as die dood is. En dit is dat ’n slegte vrou soos ’n valstrik is. Haar hart is soos ’n vangnet en haar hande soos boeie. As God van jou hou, sal jy van haar kan ontsnap, maar die dwaas val in haar strikke. 27Al hierdie kennis en insig het ek stukkie vir stukkie gekry toe ek die lewe bestudeer het.
28Daar is nog iets wat ek gesien en waarop ek geen antwoord het nie. En dit is dat jy dalk nog ’n goeie man tussen duisend mense sal kry, maar nie so ’n vrou nie.
29Ek het tot die slotsom gekom dat God die mens maar ’n eenvoudige wese gemaak het, maar dat hy altyd moeilike vrae vra.

Tans Gekies:

Prediker 7: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid